Daar was bloed, sweet en baie trane – maar daar was eweneens net soveel wonderlike transformasies wat weer soveel moed vir die toekoms by die 13 gastehuise geskep het tydens dié seisoen van In die sop: Gastehuisrevolusie.
“Dit is ons laaste episode van die seisoen. Ons is in Worcester, op ’n gholfbaan,” het Janie vertel en bygevoeg dat Worcester lankal nie meer net ’n verbyry-dorp is nie.
Van die gastehuis het sy nie veel geweet nie, bloot net dat dit Ruan en Angelique Butler is wat aan die stuur van sake by 19th Hole Golf Villa staan, ’n plek waar tot 18 mense kan slaap.

Ruan en Angelique se senuwees was aan flarde toe Janie opgedaag het. Maar hulle het dapper tussendeur geglimlag en eerlike antwoorde op haar vrae gegee. Toe Janie egter op haar eie deur die gastehuis begin stap het, was sy bekommerd. “Wat is dit met hierdie kuns? Elke gastehuis koop sy goed op dieselfde plek. Die spasie is net vir my ’n anti-klimaks.”
En toe tref sy die groen kamer . . . “As ’n kleur nie ’n naam het nie, dan moet jy hom net uithaal,” het dit half vies van haar kant gekom. En sy het sterk daaroor gevoel dat die tema van gholf deur die gastehuis reflekteer moet word. Hoekom anders dan kamers name gee wat met gholf verband hou, en selfs ook die naam?
Gholf kry sy dag
Gesoute In die sop-redder en dekorkenner Misi Overturf was dit eens met Janie. Gholf moet hier erkenning geniet. Toe die gesprek na die vloere draai waar Misi die matte met alle geweld wil verwyder en vinielvloere insit, was Janie baie bekommerd – want die gom moet nog droog en die mense sal nie op die vloere kan loop nie.
Misi kon haar gerusstel met ’n nuwe produk op die rak en het Janie verseker met: “Ons is mos nie bang nie!”
Ja, het Janie droogweg opgemerk, dit gaan woes in Worcester. Hoe later hoe kwater en hoe vinniger hardloop die horlosie se wysers. Maar Misi het ’n enorme verrassing vir die span gehad wat die broodnodige woema, energie en kreatiewe kant van die revolusie in ’n perfekte sirkel byeengetrek het. Dit was niemand anders nie as Griki Lubbe en Willus Bosch wat opgedaag het!
Hoe het die bestuurders van 19th Hole hierdie omwenteling ervaar?
Angelique vertel:
Jy’t genoem julle wou wegkom van die dolle lewe. Waar was julle voordat Worcester opgeduik het?
“Ons het in Bellville gebly, waar ek in die stad by ’n 4-sterhotel gewerk het as konferensiekoördineerder, besprekingsbeampte en tussendeur nog vele ander rolle vervul het.
“My dag het vroeg begin – ek moes elke oggend om 06:00 die trein stad toe neem en het eers ná 17:00 weer huis toe gereis. Ruan het in daardie tyd in Durbanville by ’n konferensielokaal gewerk.”
Hoe lank het dit julle geneem voordat julle besef het julle is werklik in die sop?
En wie het die inskrywing hanteer?
“Ons sukkel al vir ’n geruime tyd, veral sedert COVID. Ná baie trane en moeilike tye het twee mense onafhanklik van mekaar vir my van die program vertel en voorgestel dat ons dalk moet inskryf.
“Ek het nie lank gewag nie en dadelik begin werk aan ons inskrywing met die hoop dat dit vir ons ’n nuwe geleentheid sou bied.”
Hoe het jy gevoel toe alles so stuk-vir-stuk uitgedra word?
“Dit was baie besig en vir my brein was al die beweging en opwinding soms oorweldigend. Tog was dit terselfdertyd ook ’n wonderlike gevoel omdat ek geweet het verandering is op pad. Dit is iets wat ons al so lank en so dringend nodig gehad het.”
Jy het genoem dat jy jou visie vanweë verskeie moeilike dinge waardeur jy moes werk, verloor het. Waar staan jy nou?
“Ek is nou weer opgewonde om dinge aan te pak en te sien hoe ek dit kan laat werk. Dit gaan nog ’n bietjie stadig aangesien dit skoolvakansie is en dan is sake gewoonlik stiller, veral oor naweke.
“Tog het ek weer hoop en ’n duidelike visie vir die toekoms. My doel is om weer sterk op my voete te staan en my besigheid verder te neem as wat ek die afgelope vyf jaar ooit gedink het moontlik sou wees.”
Hoe lyk die pad vorentoe vir 19th Hole?
“Met nuwe planne, vars inspirasie en baie hoop sien ons uit daarna om die gastehuis weer met nuwe energie aan te pak. Ons glo dat ons die besigheid weer kan laat groei en dit kan terugbring na die vlak van sukses wat dit voor COVID geniet het.”
En Ruan?
Janie het baie reguit met julle gepraat. Was dit vir jou moeilik om haar insette te hoor, of kon jy vrede maak met wat gesê is?
“Ek dink dit was nodig om dit ’n slag te hoor en ons net weer tot verhaal te help bring.”
Wat was vir jou die moeilikste deel van in die kar klim en wegry van julle gastehuis vir drie dae?
“Ek dink dit was meer die onsekerheid oor wat hul gaan doen. Daar was meer opgewondenheid as vrees.”
Het julle enige waardevolle lesse geleer wat ander gastehuiseienaars wat ook in die sop is, dalk by kan baatvind?
“Gaan bly van tyd tot tyd by ander gastehuise en let op na die idees en klein besonderhede wat hulle anders doen. Neem inspirasie saam met jou en pas dit op jou eie manier toe. As dit moontlik is, kry iemand van buite om na jou gastehuis te kyk. ’n Vars paar oë en ’n nuwe perspektief op jou kamers en dekor kan ’n groot verskil maak.”
In die sop: Gastehuisrevolusie word Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Die reeks is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.