“Ek is altyd baie verbaas om te sien hoeveel bome daar is,” kom dit van aanbieder Janie du Plessis met die In die sop: Gastehuisrevolusie-span se aankoms in Bloemfontein in die sewende episode van dié reeks. Maar dit was nie net die bome alleen wat haar beïndruk het nie.
Bloemfontein het ook tientalle gastehuise, en een van hulle het hand opgesteek om te laat weet hulle is in die sop.
A Little Guesthouse aan die buitewyke van die stad het Janie en haar span se hulp nodig gehad. Dis ’n plek met baie bosse en bome en het daardie gevoel van plaas, alhoewel dit so na as deksels in die stad geleë is.
Annalie van der Merwe, trots vernoem na haar twee oumas, is die eienaar van A Little Guesthouse wat reeds van 2016 gaste verwelkom. “Ek het geweet die dag as iets nie meer opwindend is nie, dan gaan dit sleg met my,” het sy vertel.
Annalie bly al die afgelope 40 jaar in die huis wat sy nou in ’n gastehuis omskep het. Dis ook die plek waar haar vier kinders – die spilpunt van haar lewe – grootgeword het.
Deesdae is daar gereelde “keer-weders” soos die gaste wat reeds byna 40 keer al kom inboek het. Maar hulle soek net een spesifieke kamer. En as daardie kamer nie beskikbaar is nie, verander hulle hul reisplanne tot wanneer die kamer beskikbaar is.
Maar een van die gaste wat ingeboek het, was allesbehalwe ’n gas. Dit was natuurlik Janie en die span se eie persoonlike gastehuis-spioen, Dirk Jacobs, wat vooraf ingeboek het om met fyn waarneming ook vir hulle van waardevolle insette kon voorsien. En as die mens aan die stuur van die 21 Nettleton-boetiekhotel in Kaapstad, is hy die regte mens op die regte tyd.
Suelinke Helmut, die gastehuisbestuurder, het hom tydens sy aankoms so byna-byna onkant betrap toe sy by hom wou weet of hy bekend is met die In die sop-reeks – en hy moes fyntrap om nie uitgevang te word nie.
A Little Guesthouse se vuurvreter
Met Janie se aankoms en ontmoeting met Annalie, het sy sommer gou besef: “Toe ek haar sien . . . en ek kyk in haar oë . . . het ek geweet hiérdie vrou is ’n vuurvreter!”
Terwyl Janie deur die selfsorgeenheid in die gastehuis gestap het, het sy gevoel die spasie is net te min. “Dis té klein vir ’n familie. Die kinders gaan mekaar slaan,” het sy lakonies opgemerk. Maar waarmee gaan sy en dekorkenner Griki Lubbe na vore kom om nie net vir Annalie weer opgewonde oor haar gastehuis te maak nie, maar ook meer verwelkomend vir families kan wees.

Toe word daar weggeval en Annalie se lewe begin ’n nuwe rigting inslaan. Vir die In die sop: Gastehuisrevolusie-span het sake nie heeltemal seepglad verloop nie. Die growwe tekstuur van die buitemure het hul verfkwota uitgeput nog voordat daar halfpad geverf kon word, daar’s ’n dreigende reënbui en die tyd staan allesbehalwe stil.

Intussen het Janie haar besigheidsgesprek elders met Annalie gaan voer. Sy het vir haar waardevolle raad gegee rondom die feit dat A Little Guesthouse soveel werk na buitemense uitkontrakteer in stede daarvan om dit self te doen. Soos hul bemarking.
“As jy jou ma kan bel, kan jy bemarking doen,” het Janie dit kort opgesom.
Maar waar het Annalie se storie begin en waar staan sake vir haar vandag?
Jy’t genoem dat dit aanvanklik vreemd was om tuis te kom en daar’s vreemdelinge se kinders wat deur jou huis hardloop of op jou stoep sit. Hoe lank het dit geneem voordat jy hieraan gewoond geraak het? Of raak mens nooit werklik gewoond daaraan nie?
“Dit was aanvanklik vir my vreemd om my privaatruimte met ander te deel. Ek het as enigste kind grootgeword en dit was al wat ek geken het. Ek moes selfs vinnig ’n kopskuif maak toe my eie gesin so uitgebrei het. Ek kan gelukkig nogal vinnig aanpas sodra die situasie vir my sin maak.
“Hoe meer ek die gaste leer ken het, hoe makliker het dit geword. Ek het selfs later vir die gaste se kinders sonroom aangesmeer wanneer hulle buite speel.
“Ek geniet dit nou so as ek die braaivleisvure ruik, die jongmanne raakrugby (touchies) op die grasperk speel. Die ouers en kinders sien balskop.
“Die paar dae ’n jaar wanneer die gastehuis leeg is, voel ek baie alleen. Wat ek in die lewe geleer het, as ek kwaad word of angstig raak, of ander – hetsy personeel of gaste – ongelukkig was en selfs met voorstelle na vore kom, dit ’n boodskap is dat ek die strukture of sisteme hier by die gastehuis moet aanpas. Selfs vanuit die negatiewe terugvoer van gaste is daar iets om te leer.
“Ek wou my struktuur in plek kry sodat my ruimte meer privaat is. Dit kon ek doen in terme van die gaste, maar met die personeel hier is dit baie moeilik. My Caddy het die gastehuismotor geword. As ek weggaan, bly dit hier en ek maak ander planne met vervoer. As al die gastehuiseenhede bespreek is, dan bly die persoon wat in my plek waarneem, selfs in my kamer. Dit gebeur darem baie min. In alle eerlikheid het ek my kamer slegs nodig as ek hier is.
“My fokus het verander van wanneer my privaat ruimte moontlik is en wanneer dit nie sinvol is nie. Een goeie besluit wat ons wel dié jaar geneem het, is dat die personeel nie meer Sondae werk nie. Ons pas die besprekings daarvolgens aan. Dan het ek my huisgedeelte net vir myself en kan ek weer my energie laai en bloot net wees.
“Ek het wel ná Janie se gesprek besef en aanvaar dat my huis apart van die gastehuis funksioneer en ek hou daarby, dit maak sin. Dit was baie goeie raad en ’n besluit wat ek lank gelede al moes geneem het.”

Met die vernietigende impak van Covid . . . was daar ooit ’n tyd wat jy gedink het om net boedel oor te gee? En wat het jou tog laat deurdruk?
“Ek kon nie boedel oorgee nie, al het ek baie gewens ek kon. Die gastehuis was my enigste bron van inkomste. Ek moes deurdruk. Ek kon nie my huis verloor nie, en die personeel ook nie hul inkomste nie. Dit was baie spannend. Ek het vir elke moontlike hulp aansoek gedoen met meestal goeie gevolge.
“Ek moes die gaste se deposito’s terugbetaal. My kinders het gehelp waar hulle kon, maar die oorhoofse uitgawes moes nog steeds betaal word. Die hulp was ongelukkig nie genoeg nie en moes ek al my spaargeld gebruik om staande te bly,
“Die herstelwerk het agterweë gebly. Ek het baie geld aan inkomste verloor. Die eerste jaar het almal gereis en toe verander die besprekingsritme. Ek het heelwat skuld gehad. Dis waar al my finansiële probleme begin het.
“Ek het vir ’n lang ruk my vermoë om planne te maak, kreatief en braaf te wees, verloor. Al wat saak gemaak het was elke oggend se saldo in die bank.”
Hoe het dit gebeur dat verskeie van jou gaste bekende skrywers is? En wat is vir jou die beste deel van hul kuiers by jou?
“Ons borg graag die verblyf van skrywers wat uitgenooi word deur NALN (Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum). So het PP Fourie ook vir ’n rukkie hier gebly terwyl hy besig was met sy navorsing vir die skryf van die boek Die dood van Rachel April. Ons het die heerlikste gesprekke om die ontbyt tafel gehad.
“En toe die groot verassing! A Little Guesthouse word deel van die storie en die hoofkarakter bly vir ’n rukkie in dieselfde eenheid waar hy gebly het en eet boonop dieselfde ontbyt.
“Igno van Niekerk, self ’n skrywer met vele talente, is ’n groot vriend van die gastehuis en hy nooi graag skrywers uit om hulle boeke hier bekend te stel. En hy nooi ook graag van die besoekende NALN-skrywers uit na gesels-sessies om die groot tafel op ons stoep of in die konferensielokaal.
“Ek het ’n hart vir Afrikaans en die voorreg om baie van die skrywers se verblyf te borg, is my bydrae tot die taal.”
Jou vriendinne sê jy’s nogal betreklik privaat oor byvoorbeeld jou finansiële situasie. Hoe moeilik was dit vir jou om vir In die sop: Gastehuisrevolusie in te skryf?
“Ek het een aand, nadat ek ’n episode van In die Sop: Restaurant-evolusie gekyk het, ’n e-pos aan een van Bertus Basson se restaurante gestuur en gevra of hulle nie dalk dieselfde met gastehuise wou doen nie.
“Ek was mal oor die energie, die veranderinge, die kreatiwiteit in die program. Die raad wat hulle gee, die verrassing aan die einde . . . en ek het besef dit is presies wat ek wou hê. Ek het nooit ‘n antwoord gekry nie, maar ten minste het ek probeer.
“Toe die eerste advertensie vir In die sop: Gastehuisrevolusie verskyn het, het selfs my vriende dit vir my aangestuur. Natuurlik wou ek inskryf. Wie kan dan so ’n opwindende proses misloop? So, om in te skryf, was ’n plesier.
“Ek kon maar erken, ek was in diep finansiële moeilikheid. Ek wou eintlik toemaak en toe kom hierdie geleentheid na ons toe.”
Jy was heeltemal oop vir enige veranderinge – behalwe jou plek se naam en dat jou klavier nie geverf moet word nie. Was daar tog enigiets anders wat jy graag onveranderd sou wou laat?
“Nee, daar was nie.”
Hoe was dit vir jou toe Janie vertel van die onderskeid wat tussen gaste en betalende vriende genoem het? Is dit iets wat jy vorentoe kan toepas?
“Ek pas dit toe. Ek luister graag na goeie raad. Dit was so ’n verligting toe sy dit sê. Ek moes wegkom van die Moeder Hen-idee. Toe ons die kosteberekening gaan doen het wat ’n eenheid werklik per nag kos, het ek besef dat ons eintlik inbetaal vir diegene wat goedkoper bly.
“Ek het ook besluit dat die eenheid naaste aan die huis gebruik sal word vir wanneer vriende of familie by my kom kuier. Sodra die eenheid nie gebruik word nie, word dit deel van die gastehuis-sisteem. As vriende in Bloemfontein wil wees om ’n ander rede, maar wel in die gastehuis wil bly omdat hulle my ken, betaal hulle die volle bedrag.
“Ons hanteer nou ons funksies ook so en ons het nou vasgestelde tariewe.”
Hoe het jy werklik gevoel toe jy jou gastehuis moes agterlaat vir daardie intense drie dae-lange regruk?
“Dit was so bevrydend om die gastehuis in kreatiewe kundiges se hande te los. Daar het so ’n kalmte oor my gekom, waarlik ’n hemelse gevoel.
“Ek was ook opgewonde oor wat voorgelê het. Dit was drie dae se vakansie waar ander die verantwoordelikheid oorgeneem het. Dit gebeur baie min.
“En ek was moeg. Ons het regtig hard gewerk voor die tyd. Ons moes nog ’n hek insit, ek wou die tuin en die veld netjies kry, die heining regmaak, weer skoonmaak, ons stoorplekke skuif en regkry vir alles wat die span wou uithaal en bêre. Dit was vir my spannend en ek wou ook net ’n bietjie gaan rus.
“Ek het geweet van die meeste goed wat foutief, stukkend en verkeerd was en het geweet dat hulle al ons skades en skandes sou ontdek en wys. Ons het nie die kontant gehad om dit reg te maak nie, daarom het ons ingeskryf. Dit wat ons uit die proses gebaat het: die veranderinge, die verbeteringe, die blootstelling, die raad en voorstelle, is vir my baie meer werd as die blootstelling van alles wat verkeerd was.
“En ek was net so dankbaar dat ons gekies was as een van die gastehuise. Dit was ’n geskenk uit die hemel. Ek het waarlik dankbaar gevoel.
“Ek het uitgesien na die nuwe veranderinge en ook uitgesien na ’n kuier saam met my vriendin wat so gaaf was om in te stem dat ek daar kon bly. En ook na koffiekuiers met die ander vriendinne wat wou inloer.
“Ek was wel ’n bietjie jaloers op die personeel wat kon bly terwyl ek moes weggaan. Ek sou graag iewers op ’n stoel wou sit en die proses dophou.”
Wat sal jou raad wees vir ander gastehuise wat ook in die sop is?
“Sjoe, as ek weet watter raad om te gee, wonder ek hoekom ek dit nie self gevolg het nie. Die regte ding om te doen, is om betyds te erken as die besigheid nie meer lonend is nie. Ek het kwesbaar, ’n mislukking en skaam gevoel. Daar is kundige mense daarbuite wat kan help.
Ek moes ook leer om nie my emosies na die proses te bring nie. Hierdie is net ’n besigheid. Dit gaan nie oor jou nie. En gaan steek kers op by gastehuise waar dit goed gaan. Die meeste mense is meer as gewillig om jou te help.”
Wat was vir jou die waardevolste les wat jy gedurende hierdie proses geleer het?
“Maak ’n plan as jou besigheid in die moeilikheid is. Moenie moed opgee nie. Vra hulp, wees braaf en skryf in vir ’n program soos In die sop. Jy het net so ’n goeie kans as die volgende mens om gekies te word.”
In die sop: Gastehuisrevolusie word Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Die reeks is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.