Menu terloops
In Leefstyl & Aktueel [8 Dec 2025]

‘Groen Namibië’ keer (uiteindelik) terug vir opwindende sesde seisoen 


Dit was ’n lang vier jaar se wag, maar die gewilde natuurbewaringsreeks ‘Groen Namibië’ keer in Januarie terug vir ’n nuwe seisoen propvol hartroerende oomblikke.

‘Groen Namibië’ keer (uiteindelik) terug vir opwindende sesde seisoen 

Dit het weliswaar vier jaar geneem vir die gewilde natuurbewaringsreeks Groen Namibië  om weer na ons skerms terug te keer, maar die wag was beslis die moeite werd.

Die storie agter die storie

In Namibië, sowat 42 km oos van Windhoek, veg Marlice van Vuuren en haar man, dr. Rudie van Vuuren, steeds met ’n toegewyde span onverpoos voort om die lewe vir wilde diere wat nie na hulself kan omsien nie, makliker te maak.

Marlice het op Harnas in die ooste van Namibië grootgeword, ’n veilige hawe vir diere in nood wat soortgelyk is aan N/a’an ku sê, die rehabilitasieskuiling waarby sy en haar man nou betrokke is. Dit was juis Marlice se ma, Marieta van der Merwe, wat in 1978 ’n apie van ’n gewisse dood gered het en só die vlammetjie aangesteek het wat uiteindelik daartoe sou lei dat Marieta saam met haar man, Nick, die beesplaas Harnas as ’n wêreldbekende skuiling vir beseerde diere gevestig het.

Liefdestaak op TV uitgebeeld

Dis ongetwyfeld ’n diepgewortelde liefdestaak om diere in nood te versorg en te rehabiliteer met die oog daarop om hulle weer in die natuur vry te laat. Nie almal herstel voldoende om vrygelaat word nie, en hulle bly inwoners van N/a’an ku sê.

Groen Namibië
Kykers gaan vanaf middel-Januarie 2026 vir 13 episodes hulself kan inleef in elke situasie waarin Marlice en Rudie beland. Foto’s: Verskaf

Die rede vir hierdie “wilde” inwoners se nuwe verblyfreëlings is uiteenlopend. Soms is hul wees gelaat nadat hul ouers dood of beseer is. Onder die permanente inwoners tel Lucky, die driebeenluiperd, wat een van sy ledemate verloor het toe hy ’n meganiese valstrik (gin trap) afgetrap het. Vir Lucky was dit inderdaad ’n geluk dat sy pad met dié van die Van Vuurens gekruis het. 

Groen Namibië
Die nuwe seisoen van Groen: Namibië is volop spannende situasies en roerende tonele – soos met dié olifant se reddingspoging.

Marlice en Rudie fokus nie net op eksotiese wild nie – selfs onnutsige meerkaaie en bobbejane vind hier ’n veilige hawe. Benewens die dierehospitaal is daar ook navorsingsgeriewe by N/a’an ku sê wat van onskatbare waarde vir die voortbestaan van Namibië se ryk dierelewe is.

Kykers gaan vanaf middel-Januarie 2026 vir 13 episodes hulself kan inleef in elke situasie waarin Marlice en Rudie beland. Dit sluit in hul stryd om renosters te hervestig en olifante te red tot ’n gestoei om seekoeie van plek en plan te laat verander. Daar is spannende situasies en roerende tonele, maar die natuur sorg ook altyd vir ’n lekker skeutjie humor, en daar is dus gereeld ook ligter oomblikke.

Nog plaaslike reekse wat natuurskoon op kassie wys

Elders 

Die sesde en sewende seisoen van dié leefstylreeks is op Showmax beskikbaar. Daarin inspireer die aanbieder Erns Grundligh vir kykers om meer gereeld te stap, die buitelewe te geniet en bewustelik te leef. 

Wanderlus 

In die reeks reis die paartjie Hennie en Nicole Bosman reg oor die land (en soms ook ’n bietjie verder) om besonderse avonture, heerlike kos en kultuurervarings met kykers te deel. In die nuutste (vierde) seisoen reis Hennie en Nicole deur Namibië, Suid-Afrika, Lesotho en Madagaskar. Die eerste twee seisoene is op Showmax beskikbaar, terwyl die vierde seisoen tans op kykNET uitgesaai word en ook op Catch Up beskikbaar is. 

Op pad met my potjie 

In Op pad met my potjie neem die kosliefhebber Joalette de Villiers vir kykers op ’n toer deur Namibië waar sy in elke episode nuwe geheime van dié land se kookkuns ontdek… met ’n driebeenpot in die hand! Boonop word kykers op die besonderse Namibiese landskap getrakteer. Die tweede seisoen saai tans Vrydae om 18:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uit en episodes is ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Die eerste seisoen is op Showmax beskikbaar om te stroom.


Groen Namibië word vanaf 18 Januarie 2026 op kykNET en DStv Stream (Dstv-kanaal 144) uitgesaai. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

kykNET se nuwe mini-dramareeks is ’n verhaal van verlies, vergifnis en hoop

Twee mans se paaie kruis in ’n ondersteuningsgroep ná die verlies van geliefdes. kykNET se 'Elke donker wolk' verken hoe ’n onverwagse vriendskap ruimte skep vir vergifnis, genesing en hoop.

Meer

Rubriek: Gaan griffel in Ouma se resepteboek! ‘Kokkedoor: Klassiek’ is terug! 

Ná ’n voorskou van die eerste episode laat 'Kokkedoor: Klassiek' vir Marteni Burger verlang na haar ouma se resepte én sien sy uit na nog skeppies nostalgie - met ’n knippie kombuisdrama en verrassende kinkels daarby.

Meer

Van die veld tot die kelder – kuier dié November saam met VIA

Van wildplase en wynkelders tot huise met karakter: VIA se November-aanbod beloof vars ontdekkings. Kuier saam met Shari Kennedy, Leandie du Randt, Frank Rautenbach en JP Quickelberge, en leer ken die mense, stories en plekke wat Suid-Afrika so besonders maak.

Meer

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer
Sien alle opsies