Menu terloops
In Sepies [18 Mar 2026]

‘Diepe Waters’: Só loop Abel Knobel en ‘Liam’ se ADHD-stories hand aan hand


“Ek het onmiddellik gevoel daar is ’n groter doel agter die karakter en hoekom ék in sy skoene moes klim,” vertel die akteur Abel Knobel oor sy ‘Diepe Waters’-karakter Liam wat – soos Abel self – met ADHD leef.

Deur Redaksie
‘Diepe Waters’: Só loop Abel Knobel en ‘Liam’ se ADHD-stories hand aan hand

Van meet af kon kykers van kykNET se telenovela Diepe Waters sien iets is anders by Liam le Roux (Abel Knobel), die nuwe gesig in Boskruin. Driekampster en topatleet, ja, maar in sy sosiale interaksies, is iets anders aan die gang. Boonop tree hy vreemd op elke keer as hy oor sy geheimsinnige verlede begin praat.

In hierdie week se episodes van Diepe Waters het Liam, en sodoende ook die kykers, uiteindelik hul antwoord gekry: Hy is gediagnoseer met aandaggebrek-hiperaktiwiteitsteuring (AGHS), of die Engelse ADHD in gesprekstaal. 

Abel is ook twee jaar terug met volwasse ADHD gediagnoseer, wat vir hom op ’n uiters diep reis na binne geneem het, vertel hy.

Diepe Waters, Abel Knobel
In hierdie week se episodes van Diepe Waters is Liam met aandaggebrek-hiperaktiwiteitsteuring (AGHS), of die Engelse ADHD in gesprekstaal, gediagnoseer. Foto’s: Verskaf

Stukkies van die legkaart

Abel se familiegeskiedenis is volop met bipolêre depressie, en hy het sowat tien jaar terug met behandeling daarvoor begin. Dié diagnose en medikasie kon egter nie ten volle strook met Abel se gedrag nie. Dit is eers met sy ADHD-diagnose wat die stukkies van die legkaart reg begin pas het. “Ek kon soveel met Liam se storie vereenselwig. Ek het dit gelees en van die begin af ’n gut feeling gehad dat hierdie rol vir my geskryf is. Ek kan so baie uit my persoonlike en emosionele ervarings vir Liam se vertolking put,” vertel Abel. 

“Ek het onmiddellik gevoel daar is ’n groter doel agter die karakter en hoekom ék in sy skoene moes klim. Sodoende kon ek ook my storie, deur Liam, met eerlikheid, deernis en geloofwaardigheid vertel.

ADHD is ’n neurologiese ontwikkelingsteurnis wat gekenmerk word deur deurgaanse patrone van onder meer hiperaktiwiteit en/of impulsiwiteit en/of aandagafleibaarheid.

“Ek het spesifiek in my vertolking van Liam dit van die begin af ’n bietjie duideliker gemaak dat daar iets off-beat met hom is, sodat die verskil groter kon wees wanneer hy gedianoseer word. Ek hoop dit sit dinge in perspektief sodat die storie vir die kykers nou meer sin kan maak en dat hulle hom dalk meer kan vertrou,” voeg Abel by.

Diepe Waters, Abel Knobel
Liam (Abel Knobel) se ADHD-simptome was dikwels merkbaar in sy interaksies met ander.

Van dié simptome was baie duidelik in Liam se gedrag. Hy sou dikwels homself met oefening ooreis, impulsiewe besluite neem of sy gedagtegang in ’n gesprek byster raak. Dinge bou stelselmatig op totdat die joernalis Bones (Wian Smit) aanhoudend vir Liam oor sy verlede begin pols en Liam hom in die swemklub voor almal aanval.

Dit is duidelik dat Liam nog nie ten volle die skielike dood van sy ma verwerk het nie. Hy voel ook baie skuldig dat sy broer daarna sy eie lewe geneem het. “Dit was ’n baie unieke, maar ook lekker, uitdaging om Liam te speel,” verduidelik Abel. “Ek het besef ek moet hierdie karakter en die storie met sensitiwiteit, empatie en respek hanteer, omdat dit so na aan baie ander mense se stories in ons samelewing is.”

‘Baie liefde’ vir Liam

Wanneer hy deur die tekste moes werk en die storie of emosies te na aan sy eie lewe gevoel het, kon hy, nes Liam, gaan oefen om sy kop skoon te kry. “Om vir die karakter voor te berei en in sy skoene te klim, het vir my baie van myself geleer. Ek het baie liefde vir die karakter ontwikkel,” sê Abel.

In Diepe Waters kies Liam om as openbare figuur bewusmaking te bevorder eerder as om stil te bly. Abel hou ook van dié benadering. “Ek was nog altyd iemand wat my kuns en gawes van bo, hetsy musiek, liedjieskryf of toneelspel, as instrument wou gebruik om ander te help deur middel van my eie verliese en uitdagings,” sê hy.

“Jou storie kan vir iemand anders genesing bring. Daarom voel ek presies dieselfde as Liam. As ek een persoon kan help om die simptome raak te sien, sal dit alles die moeite werd maak.”


Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Diepe Waters is ook op Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

kykNET se nuwe mini-dramareeks is ’n verhaal van verlies, vergifnis en hoop

Twee mans se paaie kruis in ’n ondersteuningsgroep ná die verlies van geliefdes. kykNET se 'Elke donker wolk' verken hoe ’n onverwagse vriendskap ruimte skep vir vergifnis, genesing en hoop.

Meer

Rubriek: Gaan griffel in Ouma se resepteboek! ‘Kokkedoor: Klassiek’ is terug! 

Ná ’n voorskou van die eerste episode laat 'Kokkedoor: Klassiek' vir Marteni Burger verlang na haar ouma se resepte én sien sy uit na nog skeppies nostalgie - met ’n knippie kombuisdrama en verrassende kinkels daarby.

Meer

Van die veld tot die kelder – kuier dié November saam met VIA

Van wildplase en wynkelders tot huise met karakter: VIA se November-aanbod beloof vars ontdekkings. Kuier saam met Shari Kennedy, Leandie du Randt, Frank Rautenbach en JP Quickelberge, en leer ken die mense, stories en plekke wat Suid-Afrika so besonders maak.

Meer

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer
Sien alle opsies