Menu terloops
In Sepies [11 Jun 2026]

‘Diepe Waters’ se Zelda en Frans haak af!


Toe die Vrystaatse boer Frans Broeksma (Deon Coetzee) in Oktober verlede jaar in Boskruin opgedaag het, sou min ‘Diepe Waters’-kykers kon raai dat dit juis hý sou wees wat Zelda Joubert (Sandi Schultz) se voete onder haar uitslaan.

Deur Redaksie
‘Diepe Waters’ se Zelda en Frans haak af!

In die kykNET-telenovela Diepe Waters is daar min verhoudings wat so wispelturig soos Zelda (Sandi Schultz) s’n is. Hoewel beide Zelda en Frans (Deon Coetzee) baie mooi op hul troudag gelyk het, was dit nie ’n groot affêre met ’n wit trourok en honderde gaste nie. Nee, Zelda wou sommer by binnelandse sake trou.

Zelda, getooi in ’n beeldskone silwer rok met swart en goud kraledetail en sjiffon-mantel, en Frans in sy netjiese swart driestukpak en das, was genoeg om die kykers se harte te vermurwe. 

En die spesiale oomblik is so mooi in Frans se troubeloftes vasgevang: “Ek wil vir ewig die wêreld saam met jou sien. Die koeie wat huis toe kom as die son sak, die maan wat op ’n grashalm blink. Ek belowe om jou lief te hê deur mooi en slegte weer, elke donderstorm, elke stil sonsopkoms. Ek sal jou koester. Waar jy gaan, sal ek gaan, tot die dag van my dood.”

Diepe Waters, Zelda, Frans
“Vir haar was om uiteindelik te trou, veel belangriker as ’n groot gedoente,” verduidelik Sandi oor haar karakter se spesiale oomblik. Foto’s: Verskaf

Sandi vertel oor Zelda se spesiale oomblik

Zelda was nog nooit voorheen getroud nie, want haar troudag met Gys Swarts (Justin Strydom) het mos in haar gesig opgeblaas. “Vir haar was om uiteindelik te trou, veel belangriker as ’n groot gedoente,” verduidelik Sandi oor haar karakter se spesiale oomblik.

Soos soveel kere tevore moes kykers saam met Zelda en Gys wonder of dié twee uiteindelik bymekaar sou uitkom. As dit nie Zelda is wat Gys se verhoudings probeer kortwiek nie, is dit weer Gys wat Frans uit Boskruin wil help.

Uiteindelik, ná ’n lang gewag toe Zelda vir Frans die ja-woord gee, voel Gys hy kan net nie vir Zelda deur sy vingers laat glip nie. Hierdie is nie net jaloesie nie, want hy sê reguit vir Zelda dat hy nog lief is vir haar en dat sy Frans moet los vir hom. “Volgens my sal Zelda altyd lief wees vir Gys, maar ek voel ook dit was tyd vir haar om aan te beweeg,” verduidelik Sandi.

Zelda moes soveel keer vir Gys se liefde en aanvaarding veg, en nou is Frans daar om vir háár te veg. “Frans is iemand wat haar werklik sien en daar is vir haar. Sy hoef nie enigiets aan hom te bewys nie. Dis iemand wat saam met haar wil wees, en by wie sy haarself kan wees,” sê sy.

Diepe Waters, Zelda, FRANS
Hoewel Frans nie van Zelda se soms duistere geskiedenis weet nie, lyk dit tog of dié paartjie vir nou gelukkig saam kan wees.

Sandi, die ‘pro’

Vir Deon is dit heerlik om teenoor ’n “pro” soos Sandi te speel. “Dis altyd lekker as die skrywers jou as akteur en jou karakter vertrou om groot storielyne te doen,” voeg Deon by. “Sandi is altyd voorbereid en gee so baie in haar toneelspel, so ons werk lekker saam. Ek moet redelik op my tone wees,” lag hy.

Hoewel Frans nie van Zelda se soms duistere geskiedenis weet nie, lyk dit tog of dié paartjie vir nou gelukkig saam kan wees.

“Ek glo altyd dat Zelda nie heeltemal jok nie. Daar is altyd ’n bietjie waarheid in alles wat sy sê,” meen Sandi.

“Sy is nou op ’n punt in haar lewe waar sy nie meer voel sy is dieselfde persoon as die een wat sy vroeër was nie. En dat vorige besluite en aksies nie meer ’n houvas op haar of haar verhouding hoef te hê nie,” sê sy.


Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

kykNET se nuwe mini-dramareeks is ’n verhaal van verlies, vergifnis en hoop

Twee mans se paaie kruis in ’n ondersteuningsgroep ná die verlies van geliefdes. kykNET se 'Elke donker wolk' verken hoe ’n onverwagse vriendskap ruimte skep vir vergifnis, genesing en hoop.

Meer

Rubriek: Gaan griffel in Ouma se resepteboek! ‘Kokkedoor: Klassiek’ is terug! 

Ná ’n voorskou van die eerste episode laat 'Kokkedoor: Klassiek' vir Marteni Burger verlang na haar ouma se resepte én sien sy uit na nog skeppies nostalgie - met ’n knippie kombuisdrama en verrassende kinkels daarby.

Meer

Van die veld tot die kelder – kuier dié November saam met VIA

Van wildplase en wynkelders tot huise met karakter: VIA se November-aanbod beloof vars ontdekkings. Kuier saam met Shari Kennedy, Leandie du Randt, Frank Rautenbach en JP Quickelberge, en leer ken die mense, stories en plekke wat Suid-Afrika so besonders maak.

Meer

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer
Sien alle opsies