Hier is vyf ‘Diepe Waters’-storielyne in Junie wat jy nie wil mis nie:
’n Gelukkige einde vir René en Marco?
Die “verbode” liefde tussen die jong swemmer Marco en sy ouer afrigter, René, loop swaar deur onder die gewig van sosiale druk en familie-inmenging.
Leandri gebruik sosiale media om op ’n slinkse manier nog meer druk op Marco en René se verhouding te plaas. Boonop moet Marco aan sy loopbaan as professionele atleet dink, en René aan haar loopbaan as swemafriger.
Gaan Marco en René hul gelukkige einde kry? En wat sal die gevolge daarvan wees?
Alisa en Bert keer terug
Alisa kom onverwags weer in Boskruin aan en skuil by Rossouw. Dít verander vinnig in ’n nagmerrie.
Als gebeur gelyktydig, want dit lyk of Rossouw en Leandri weer opnuut ’n vonk tussen hulle ontdek en weer nader aan mekaar begin leef. Maar beide Rossouw en Leandri se verlede wil net nie los nie. Dié twee is onderskeidelik al deur so baie, en nuwe gebeure kan vinnig ou wonde oopkrap.
Karla se gesondheidsprobleme
Vir maande lank droom ster-swemmer Karla om haar drome op ’n internasionale verhoog in Glasgow te gaan verwesenlik. Sy offer als op, maar dan lyk dit of dié droom weens omstandighede buite haar beheer in duie kan stort.
Sy is naar, uitgeput en voel fisiek swakker as wat sy voorheen het. Haar mede-swemmers wonder of sy nie dalk weer sukkel met bulimie nie, omdat sy haarself so ooreis. Moet Gys blameer word vir die druk wat hy op haar plaas, veral wanneer sy by die swembad flou val?
Zelda se geheime bly spook
Net toe dit gelyk het of Zelda uiteindelik geluk gevind het in haar verhouding met Frans, begin die spoke van die verlede haar inhaal.
Sy word agtervolg en kry dreigemente. Zelda, desperaat om haar nuwe lewe en haar beeld as gerespekteerde sakevrou te beskerm, roep dan oudergewoonte die hulp van Cloete in om die bron van die afpersing op te spoor. En dan probeer Gys ook nog opnuut om haar verhouding met Frans te saboteer.
Dit is weereens duidelik dat haar verlede die een ding is wat haar toekoms met Frans kan vernietig.
Pam se kulturele stryd
Pam se begeerte om die “perfekte” lewe in haar nuwe huis te skep, bots sommer vinnig met die tradisionele verwagtinge van haar skoonfamilie.
Die koms van haar skoonma, Abongile, vererger dinge, omdat Pam nie aan die tradisionele standaarde van ’n makoti voldoen nie. Pam se selfbeeld kry nóg ’n ernstige knou wanneer sy ’n private gesprek tussen Abongile en Siseko afluister. Hierdie verwerping tref Pam diep en haar laat wonder of sy ooit werklik in Siseko se wêreld sal inpas sonder om haar eie identiteit te verloor.
Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.