Hier is ses storielyne wat Diepe Waters-kykers in Maart vanjaar gaan boei.
Pam verpletter
Pam se loopbaandrome word wreed verpletter wanneer Vuyelwa haar besigheidvoorlegging vir die modereeks Mhlaba saboteer. Ewe skielik lyk Pam soos ’n oneerlike bedrieër en moet sy alles in haar vermoë doen om haar beeld in die publieke oog te herstel.

Schalk en Leandri
Eers het Die Viljoen Vyf as ’n ernstige en mededingende swemfamilie by Boskruin opgedaag. Intussen het Schalk sy hand teenoor Leandri gelig, die vertroue van sy drie kinders verloor en talle woede-uitbarstings in publiek gehad. Die verbrokkeling van hul huwelik bereik egter ’n breekpunt met rampspoedige gevolge wanneer ’n jaloerse Schalk verder gaan as wat enigiemand ooit sou kon raai. ’n Geliefde Boskruiner eindig sodoende in die hospitaal, terwyl Hanneli, Danie en Marco hul pa se aksies én die gevolge daarvan moet verwerk.
Liam se pad met ADHD
Dit is duidelik dat Swartmarlyne-nuweling Liam beslis nie die spoke van sy verlede kan ontsnap nie. Boonop help coach René vir Liam om eerlik met sy diagnose om te gaan. Sal sy nuutgevonde eerlikheid hom help om die diep skuldgevoelens oor sy broer te verwerk, of gaan die druk van die publieke oog sy herstel bemoeilik?

Nuwe kompetisie tussen Marco en Danie
In die swembad moes dié twee boeties al gereeld vir die titel van beste swemmer kompeteer. Nou is dit ’n hele nuwe soort stryd wat hulle besig hou. En die prys? Die hart van dieselfde meisie. Wie gaan buite die swembad as die wenner wegstap?
Diefstal ruk Boskruin
Wanneer ’n groot diefstal Frans se sak ruk, moet hy opnuut oor die toekoms van sy plaas en sy liefdesverhouding met Zelda besin. Sal hy die ondenkbare doen en sy plaas moet verkoop?
’n Liefdesdriehoek
Manipulasie en misverstande vertroebel Frans en Zelda se verhouding. En boonop is Gys se troostende hand daar om Zelda by te staan deur die moeilike tyd. Gaan Zelda eindelik haar “gelukkige einde” kry? En meer belangrik, met watter man aan haar sy?
Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Diepe Waters is ook op Catch Up beskikbaar.







