Menu terloops
In Gons [6 Aug 2025]

Dié vermaaklegendes vir lewensbydraes vereer


Leon Schuster, Vinette Ebrahim en Marida Swanepoel is die drie groot geeste wat by vanjaar se Silwerskermtoekennings vir hul lewensbydraes tot die plaaslike vermaakbedryf vereer word. 

Dié vermaaklegendes vir lewensbydraes vereer

Een laat die land al vir jare skater; een was ’n baanbreker in ’n tyd toe baanbrekers bitter nodig was en een is ’n vrou wat vir dekades agter die skerms gewoeker het: Leon Schuster, Vinette Ebrahim en Marida Swanepoel is alombekend in die Suid-Afrikaanse vermaakwêreld en word binnekort vir hul bydraes tot die bedryf vereer. 

Leon en Vinette word Saterdagaand 23 Augustus by die Silwerskermtoekennings vir Film en Televisie in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks) gehuldig, en Marida ontvang daardie oggend haar eerbewys by die toekenningsgeleentheid in The Bay Hotel. 

Leon Schuster

“As iemand wat vreugde vir Suid-Afrikaners gebring het,” sê Leon is hoe hy onthou wil word. 

Leon is ’n filmmaker, komediant, akteur en sanger, gebore en getoë in Bloemfontein. Leon het ’n BA-graad aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf, waar hy vir die Shimlas rugby gespeel het. Ná ’n draai as onderwyser het sy loopbaan in alle erns in 1975 by die SAUK begin. 

Die radioprogram Die Vrypostige Mikrofoon en flieks soos You Must Be Joking en Oh Shucks, It’s Schuster het van Leon ’n huishoudelike naam gemaak. Hy het ook vir een van die grootste Suid-Afrikaanse treffers gesorg toe hy in 1995 sy liedjie “Hie’ kommie Bokke uitgereik het.  

Leon se rolprente, soos There’s a Zulu on My Stoep en Mr Bones, het plaaslike loketrekords verpletter, met Suid-Afrikaners van alle agtergronde wat aanklank gevind het by sy komiese blik op die land. There’s a Zulu on My Stoep het ook gewildheid in Amerika geniet. 

Vinette Ebrahim

Vinette was op hoërskool toe sy by The Space-teater in Kaapstad betrokke geraak het. Rolle in legendariese produksies soos Fiela se kind, Boesman and Lena en Buckingham Palace, District Six het gevolg. In 2000 het Vinette haar verskyning as Charmaine Meintjies (née Beukes) in die sepie 7de Laan gemaak en kort daarna volksbesit geword. Intussen het sy steeds in die teater gewerk aan produksies soos Miss Africa South, Vaselinetjie en My naam is Ellen Pakkies.  

Vinette Ebrahim
Vinette Ebrahim. Foto: Verskaf

Sedert sy die Laan en sy mense gegroet het, het sy nuwe hoogtes bereik met rolle in Binnelanders, Generations, Diepe Waters en Kelders van Geheime, asook in TV-reekse soos Lioness, Koek, Legacy en die minireeks Evita in Excelsior. Sy het ook uitgeblink in speelfilms soos Barakat, Swirl en God Is African. Daarbenewens is Vinette ’n trotse mentor vir jonger spelers, skrywers en regisseurs. 

“Die hoogtepunt van my loopbaan is die mense saam met wie ek gewerk het,” sê Vinette. “Elke projek waaraan ek gewerk het, was spesiaal, maar die mense … my medespelers, die crew, die produksiespan.”

Marida Swanepoel

Wanneer daar oor die geskiedenis van Afrikaanse TV gepraat word, is daar een naam wat altyd opkom: Marida Swanepoel. 

Marida se wortels lê in die Kaap waar sy, onder meer, ’n meestersgraad in Afrikaans aan die Universiteit van Stellenbosch behaal het. Sy het by die SAUK in Johannesburg as omroeper aangesluit, en ná haar huwelik met Nic Swanepoel en die geboorte van hulle drie kinders, Elsje, Jan Adriaan en Franci, het sy radioverhale begin skryf. Later het sy by SAUK-TV se oorklankingsafdeling ingeval. 

Marida Swanepoel
Marida Swanepoel. Foto: Verskaf

Marida behaal ’n tweede meestersgraad, hierdie keer in linguistiek, en met die begin van kykNET in November 1999, word haar kundigheid uitstekend as kanaalhoof ingespan. Onder haar leiding word oorspronklike inhoud vir die kanaal geskep.

“Ek is diep geraak deur die erkenning,” sê Marida. “Ons het hard gewerk in die beginjare, foute gemaak, dae en nagte deur gesloof, baie gelag, oplossings gekry en diep vriendskapsbande gesmee.” 


Koop kaartjies vir die 2025 Silwerskermfees vanaf op Quicket. Vanjaar se fees loop van 20 tot 23 Augustus.

Lees ook al ons stories oor die Silwerskermfees hier.


Die kykNET Silwerskermtoekennings vir Film en Televisie vind Saterdag 23 Augustus om 19:00 in die Kiks plaas en sal Sondag 24 Augustus om 19:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai word. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

13

Wat om te kyk dié Vrouemaand: 13 reekse en rolprente waarin vroue die storie dryf

Wat om te kyk: Vir Vrouemaand het ons ’n kyklys saamgestel van reekse en rolprente waarin kragtige aktrises aan onvergeetlike vroue-karakters lewe gee.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in Augustus misloop nie

Van 'Gesels' en Michael Fassbender se 'The Agency' tot 'Ted Lasso' en 'Reacher' se vierde seisoene – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer
12

Wat om te kyk: 12 Afrikaanse reekse om nou te stroom

Van die rillerreeks ‘Donkerbos’ en 'Ontwaak' tot die bekroonde 'Koek' en 'Wyfie' – hier is ons keur van die beste Afrikaanse stories om nou op DStv Stream te kyk.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer
Sien alle opsies