Menu terloops
In Gons [10 Jan 2026]

Die beste kookwenke uit die ‘Kokkedoor: Son & see’-kombuis


Nes ‘Kokkedoor: Son & see’ se deelnemers, kon kykers ook baie kombuis-wysheid inneem soos die seisoen uitgespeel het. Ons het nagenoeg 30 van die beste wenke saamgevat.

Die beste kookwenke uit die ‘Kokkedoor: Son & see’-kombuis

Dit was net die anderdag dat kykNET se koswerklikheidsreeks, Kokkedoor: Son & see se vrolike klankbaan en baldadige kleure vir die eerste keer op skerm verskyn het. Sedertien elkeen van die deelnemers diep in kykers se harte gekruip.

In die laaste episode was dit Andrew Anderson (57) van Mtunzini, en sy dogter, Leoné Smit (30), wat teen Hanna van der Westhuizen (58) en haar seun, Dirk (29) van Aberdeen moes meeding. Hanna en Dirk het uiteindelik as wenners van dié stryd getree.

Kykers het so saam-saam met die spanne geleer soos die aanbieders en beoordelaars, glanssjef en resepboekskrywer Herman Lensing en sy ewe bekende en bewame mede-aanbieder en beoordelaar, Yolani Abrahams, hul wysheid gedeel het. Boonop het gasbeoordelaars soos Reuben Riffel en Edwin Theron ook kennisjuwele uit die kombuis gedeel.

Kokkedoor Son en see
Yolani en Herman het ruim hul kennis met die deelnemers – en kykers – gedeel. Foto’s: Verskaf
Kokkedoor
Edwin Theron, destydse Kokkedoortjie-wenner, was een van die gasbeoordelaars wat saam met Herman en Yolani die spanne op die proef gestel het.

Ons het juis dié wysheid saamgevat.

Hier is nagenoeg 30 van die beste wenke wat deur Herman en kie oor die verloop van Kokkedoor: Son & see se eerste seisoen uitgedeel is:

  • Maak seker jou pan is warm wanneer jy pannekoek bak. As die pan nie warm genoeg is nie, gaan die pannekoek flop. – Herman Lensing, medebeoordelaar en aanbieder 
  • Ryspoeding word gewoonlik met ’n kort ryskorrel wat baie stysel bevat gemaak. Spekko se voorafgekookte (parboiled) rys is egter ideaal wanneer jy dit vinniger wil maak. – Herman 
  • Om ryspoeding romerig te maak, gebruik bestanddele soos botter, room en miskien sjokolade gebruik, maar die balans is baie belangrik. – Herman 
  • Wanneer jy ’n eenskottelgereg maak, moet jy onthou die rys, vleis en groente het verskillende kooktemperature. – Yolani Abrahams, medebeoordelaar en aanbieder 
  • Wanneer jy hoender en rys onder ’n deeg wil sit, moet jy eers jou hoender en rys gaarmaak voordat jy die deeg opsit. – Herman 
  • Wanneer jy steak braai, moet die vuur warm wees sodat die vet kan uitbraai en bros wees. – Edwin Theron, gasbeoordelaar
  • Vee jou steak droog en laat dit rus voor jy dit braai. Steak by kamertemperatuur braai beter as steak wat uit die yskas kom. – Herman 
  • Wanneer jy ’n witsous maak, moet jy die meel uitkook voor jy die kaas byvoeg. Anders gaan jy ’n rou, melerige tekstuur in jou mond kry. – Herman 
  • Wees versigting wanneer jy kersietamaties heel gaarmaak en in ’n dis gebruik. Dis ’n bondeltjie geur wat maklik ’n hele gereg kan oorneem. – Herman
  • Wanneer jy knoffel in iets soos guacamole gebruik, maak dit eers gaar deur dit te bak. Dit sal die soet note van die knoffel uitbring. – Herman
  • Wanneer jy met geblikte vis werk, moet jy onthou die vis is reeds gaar. Dit het dus nie lang gaarmaaktyd nodig nie en moet as’t ware net warm gemaak word. – Reuben Riffel, gasbeoordelaar
  • Wanneer jy vis oor die kole braai, sit rou uieringe op die vis voor jy dit op die rooster sit. Die uieringe sal keer dat die vis aan die rooster vassit. – Reuben
  • As jy groente oor die vuur gaarmaak, moenie olie gebruik nie. Dit kan die vuur laat rook en die groente dan ’n rooksmaak gee. Sprinkel dit net met sout en braai dan. – Reuben
  • Geduld is nodig vir die maak van aïoli aangesien dit maklik kan skif wanneer die olie by die eiers gevoeg word. – Reuben
  • Groente wat onder die grond groei soos beet en aartappels, moet in koue water opgesit word. “Hulle wil saam met die water warm word en kook.” – Yolani
  • Wanneer jy groente in ’n souttert gebruik, maak seker om al die vog uit te druk. Anders kan dit te waterig wees. – Yolani 
  • ’n Souttert moet genoeg vulsel bevat anders is dit net ’n koekie met ’n vulsel. – Herman 
  • Die kern van kool moet uitgesny geword wanneer jy dit in ’n slaai gebruik aangesien dit nie lekker is om te eet nie. – Herman
  • Wanneer jy jou tertdeeg blink bak, haal die boontjies of rys ná ’n tyd af sodat die deeg verder op sy eie kan bak. Die deeg moet sy blink voorkoms verloor en dan weet jy dit is deurgaar. – Herman 
  • Onthou om genoeg sout en peper in jou tert te gebruik wanneer dit koud geëet gaan word. – Herman  
  • Wanneer jy iets soos bobotie-springrolls wil maak, moet jy die geur van die bobotie – wat die eiervla insluit – kan proe. – Herman 
  • “Jy gaan nie met mayo uit die spens R500 000 wen nie!” – Dirk van der Westhuizen, medewenner van Kokkedoor: Son & see S1 
  • As jy rou ui in ’n slaai gebruik soos Dirk en Hanna se koringslaai, gebruik eerder rooi ui omdat dit soeter is. Onthou ook om dit fyn te sny sodat die uie-smaak nie oordonderend is nie. – Herman
  • Wees versigtig om te veel soet elemente te gebruik wat die smaak kan beïnvloed. – Herman
  • Wanneer vla op die stoof gemaak word, moet jy baie versigtig wees dat dit nie skif nie. Haal die pot af van die hitte om te keer dat die eiers te vinnig gaar word. – Herman
  • Panna cotta moet effens stywer as jellie wees, maar nog steeds ’n jiggle hê. – Yolani
  • ’n Vla wat gekook word sonder vlapoeier, sal nooit op die stoof dik word nie. Dis eers wanneer dit afkoel, wat dit stywer sal word. – Herman
  • “’n Trifle kan vinnig té wees – te min, te veel, te deurmekaar.” – Herman 

Kokkedoor: Son & see is op Catch Up beskikbaar. Kyk ook Kokkedoor Vuur & vlam op Showmax. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk in 2026: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

Van dáái yshokkiespelers tot ‘Bridgerton’ se Aspoestertjie-verhaal, die terugkeer van die geliefde vampierslagter Buffy en nog ’n 'Game of Thrones' spin-off – hier is ’n keur van die TV-reekse wat vanjaar op kykers wag.

Meer

Wat om te kyk: Sit dié reekse op jou moet-kyk-lysie vir Januarie 2026

Die volgende romantiese rondomtaliedans in 'Bridgerton', die terugkeer van die trefferreeks 'Een keer om die son', en die Afrikaanse weergawe van 'The Office' tel onder my top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Dís waar jy die 2026 Golden Globe-benoemdes plaaslik kan kyk

Van die heerlike derde seisoen van ‘The White Lotus’ en Seth Rogen se briljante ‘The Studio’ tot die ingrypende dramareeks ‘Adolescence’ en die fabelagtige fanfare in ‘Wicked: For Good’ – hier is al die reekse en films wat benoemings vir 2026 se Golden Globes ontvang het, én waar jy dit plaaslik kan kyk.

Meer
10

Wat om te kyk: 10 Kersfeesflieks vir die feestyd

Van een van die mees romantiese flieks van alle tye tot een baie, baie spesiale Kersbriefie – hier is ons keuse van Kersfeesflieks om oor dié feestyd te kyk. 

Meer
Sien alle opsies