Menu terloops
In Gons [3 Apr 2025]

‘Bou of breek’: Reeks ’n nuutjie onder leefstylprogramme


Of dit nou is om ’n bestaande vertrek ’n heel nuwe gedaante te gee of die bou van ’n splinternuwe huis –  Johan en Zanelle Dorfling skrik nie sommer nie. Dié egpaar is die aanbieders van ’n nuwe leefstylprogram, ‘Bou of breek’, waarin hulle oor 13 episodes wys hoe hulle, binne begroting, nuwe lewe in bestaande ruimtes blaas. 

Deur Annelene Oberholzer
‘Bou of breek’: Reeks ’n nuutjie onder leefstylprogramme

In elke episode van Bou of breek werk Johan en Zanelle Dorfling, die eienaars van Country Home and Design in Jeffreysbaai, saam met hul kliënte om enigiets van woonhuise tot besighede in asemrowende plekke te omskep. 

Johan, beter bekend as Pikkie, en Zanelle is al 20 jaar getroud en is amper teenpole van mekaar. Johan is ’n introvert; Zanelle ’n ekstrovert. Johan neem sy tyd met besluite; Zanelle doen voor sy dink. Johan is presies; Zanelle kleur maklik oor die lyne in, maar elkeen bring hulle eie unieke ondervinding, vaardigheid en kunstigheid na alles wat hulle aanpak. 

Bou of breek
Johan en Zanelle Dorfling. Foto: Verskaf

Die vervaardiger van die reeks is die akteur Reynardt Hugo. Hy en sy produksiemaatskappy, StraatKatMedia, was ook verantwoordelik vir die reeks Net mens. Volgens hom is Bou of breek enig in sy soort onder plaaslike leefstylprogramme. “Ons verf nie net mure nie. Ons bou huise van die grond af op en maak bestaande plekke baie mooi. Dit gaan nie net oor fisieke restourasie nie, maar ook oor die herstel van die siel… (Dis die) eerste Suid-Afrikaanse huisopknap- en huisbouprogram van sy soort.”

Van die projekte wat in Bou of breek gesien gaan word, sluit die restourasie in van ’n huis in St. Francisbaai vir ’n familie wat Johannesburg vir die Oos-Kaap verruil het, ’n barbierwinkel in Stellenbosch en ’n huis op die Gamtoosrivier wat in gaste-akkommodasie omskep word. 

Terloops het met Johan en Zanelle gesels. 

Julle konsulteer met mense voordat julle ’n projek aanpak om seker te maak hulle wíl huis toe kom ná werk. Maar hoe gaan julle te werk as jy en Zanelle dink die projek moet dalk ’n ander rigting inslaan om dit juis meer verwelkomend vir die huismense te maak? 

Johan: “Daar is ’n fyn lyn tussen om klante presies te gee wat hulle wil hê en om iets beter voor te stel. Ons lees mense vinnig en verstaan wat hullel regtig nodig het. Ons weet wanneer om ’n ander idee voor te stel en wanneer om eenvoudig net wense uit te voer. Uiteindelik is dit altyd die kliënt se besluit.”

Wat is die eerste vraag wat julle vir mense vra wanneer hulle julle nader om hul huis te help regruk?

Zanelle: “Hoe wil jy in die vertrek voel?”

Watter vertrekke “praat” gewoonlik eerste met julle? 

Zanelle: “Wanneer ons ’n huis heeltemal opknap, is die kombuis vir my die belangrikste element in die ontwerp. Dit is die hart van die huis, en die res van die huis se styl bou ek daarom. Daarna is die hoofslaapkamer vir my prioriteit, want dit is waar jy rus en herlaai vir die volgende dag. Dit hang egter altyd af van hoe mense leef en waar hulle die meeste tyd spandeer.”

Wat was, tot op hede, die moeilikste taak wat julle met Country Home & Design moes afhandel? 

Johan: “Sonder twyfel, hierdie show! Om soveel projekte binne ’n beperkte tyd af te handel was uitdagend. Ons is altyd reguit en oop met klante, so as iemand ongelukkig was, kon ons dit uitsorteer omdat daar van die begin af duidelike kommunikasie was.”

Bou of breek
Volgens Johan was die verfilming van Bou of breek die grootste uitdaging wat hy en Zanelle al moes baasraak. Foto: Verskaf

Julle het saam jul droomhuis ontwerp. Hoe het die proses verloop met dié dat julle twee sulke uiteenlopende persoonlikhede het? 

Zanelle: “Ná soveel jare saam ken ons mekaar se sterk- en swakpunte goed. Ons vul mekaar eintlik perfek aan, maar dit kom met sy uitdagings. Ons het geleer om geduld en genade met mekaar te hê; daarsonder sou dit nie werk nie!”

Julle vertel dat Amerikaanse TV-werklikheidsprogramme rondom opknappings dinge vir julle laat kliek het. Uit watter program het julle die meeste inspirasie geput?

Zanelle: “Sonder twyfel, Fixer Upper! Ons vereenselwig met hul styl, asook hul familiewaardes en down-to-earth-persoonlikhede. Ek sien bietjie van myself in Chip Gaines en van Pikkie in Joanna Gaines.

Vertel van een van die grootste winskopies wat julle nog gevind het? En waar het dit opgeeïndig?

Zanelle: “Ek is mal oor ’n bargain! Een van my gunstelinge is Canvas & Print se aanlyn-aanbiedinge. Ek koop digitale foto’s op Etsy (ook winskopies!) en laat dit daar druk. Dit is ’n maklike en bekostigbare manier om ’n vertrek op te hef. My huis is vol daarvan, en ek gebruik dit gereeld in ons projekte. Met ’n hoë resolusie foto kan jy ’n canvas soos ’n kunswerk laat lyk, en dit verander ’n vertrek onmiddellik!”


Bou of breek begin op Sondag 6 April om 17:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

26

‘G20’, ‘1923’, ‘One Piece’ en nog: 20+ TV-reekse en flieks wat in SA geskiet is

Van 'One Piece', een van Netflix se reekse met die meeste kykertalle in 2023, tot die nuwe fliek 'G20' met die Oscar-bekroonde Viola Davis – hier is ’n lys van internasionale produksies wat of gedeeltelik, of heeltemal in Suid-Afrika verfilm is.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir April 2025

Shani is opgewonde oor haar oudisie, maar Rachelle het slinkse planne vir haar... Dít terwyl Sunette met haar gesondheid sukkel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir April 2025: Koebaai aan June en Joe in ‘The Handmaid’s Tale’, ‘You’

Wat om te kyk: Dis koebaai-tyd met die finale seisoene van die fenomeen-reekse ‘The Handmaid’s Tale’ en ‘You’; Pedro Pascal is terug vir S2 van ‘The Last of Us’; en Afrikaans se wortels word ondersoek in ’n nuwe dokkiereeks – dié stories en meer tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-kykgids vir April 2025

Aline weier om met Antônio te onderhandel terwyl al wat ’n man is oënskynlik ook op haar verlief is... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in April. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies