Menu terloops
In Recaps & Resensies [2 Okt 2025]

‘Boer soek ’n vrou’: Vriende en familie trek laer om gunstelinge


Die senuwees het geknaag toe drie van die boere hul kuiergaste aan hul vriende en familie voorgestel het op vandeesweek se episode van ‘Boer soek ’n vrou’. En daar blyk boonop reeds ’n paar gunstelinge te wees.

Deur Annelene Oberholzer
‘Boer soek ’n vrou’: Vriende en familie trek laer om gunstelinge

“Ons almal weet jy kan nie jou eie familie kies nie, maar as jy deel word van iemand anders se familie, of hulle van joune, dan is daar baie keuses om te maak en baie op die spel,”  het die aanbieder van Boer soek ’n vrou, Reandi Grey, in die tiende episode van kykNET se gewilde maatsoekreeks gemaan. 

Van die boere het reeds hul twee kuiergaste aan vriende en familie begin voorstel – en hulle het duidelik ook al ’n paar opinies gelug. Maar wat het intussen op die plase van Willie, Rudi H en Rudi gebeur?

Willie (26), ’n makadamia- en wildboer van Badplaas 

Cilmari en Denike het nog al te lekker daar in Mpumalanga se wêreld gekuier toe Willie besluit het hy gaan hulle aan die uiterste toets van vertroue onderwerp: ’n rit saam met hom op sy kragtige motorfiets. 

“Hou maar styf vas – dis vir my die lekker deel,” het hy hulle geterg. Al twee van hulle het toe wel baie daarvan gehou – die adrenalienhupstoot en natuurlik die styfvashou-deel.

Boer soek 'n vrou
Cilmari en Denike het nog al te lekker daar in Mpumalanga se wêreld gekuier toe Willie besluit het hy gaan hulle aan die uiterste toets van vertroue onderwerp: ’n rit saam met hom op sy kragtige motorfiets. Foto’s: Verskaf

Alleentyd 

Dit was Denike wat eerste kans gekry het om met Willie op sy eie te gesels. Wanneer dit by sterk gevoelens jeens iemand kom, wil sy net nie ophou om alles van hulle te hoor nie. En sy wil altyd naby daardie mens wees, het sy erken.

Sy het duidelik ’n indruk op Willie gemaak, en hy het vir haar gesê hy glo sy het ’n baie sterk persoonlikheid en dat sy iemand is wat nie sal skroom om haar sê te sê nie. Maar, wou hy van haar weet, watter eienskap van haar pa sal sy graag in hom wil sien?

Iemand wat ’n goeie man vir haar sal wees en haar gelukkig sal maak, en ook haar aanvaar vir wie sy is, was die antwoord. Willie het op sy beurt gesê hy is op soek na iemand met baie selfvertroue en iemand wat, soos sy ma, haarself goed kan versorg.

Cilmari het vir Willie gesê haar ideale man Bybelgewys sou Dawid wees. “Want Dawid het verskriklik baie drooggemaak, maar hy was bereid om die shots op die ken te vat.”

Cilmari wou op haar beurt by Willie uitvind wat vir hom ’n rooi vlag is wanneer dit kom by meisies. Vir hom is dit iemand wat nie oor genoeg selfvertroue beskik nie, en die twee het saamgestem dat onsekerheid wat met ’n gebrek aan selfvertroue gepaard gaan, onnodige bagasie is.

Sy het vir hom gesê haar ideale man Bybelgewys sou Dawid wees. “Want Dawid het verskriklik baie drooggemaak, maar hy was bereid om die shots op die ken te vat,” het sy, onder meer, gesê.

Boer soek 'n vrou
Vir wie glimlag Willie breër?

Willie se selferkende ongeduldigheid was ook nie vir haar ’n rooi vlag nie. Ná hulle alleentyd het sy hoopvol gevoel, maar wou sy nog steeds haar hart teen teleurstelling beskerm.

En Willie? “Ek begin reeds ’n gut feeling in die een rigting te kry,” maar oor watter rigting swyg hy soos die graf.

Kuiertyd met familie en vriende

Daar was ’n feestelike atmosfeer onder die boma toe Willie sy twee kuiergaste aan almal voorgestel het. 

Sy vriend Chris het gedink albei gaste is baie oulik, en hy was veral beïndruk daarmee dat hulle van die omgewing gehou het. Armand en Danielle, ander vriende van Willie, het ook gedink die twee het die potensiaal om by Willie in en aan te pas.

Ouma Wanda en sus Suné het die twee ook goed uitgekyk. Vir Suné het dit gevoel asof Cilmari meer luister, en sy dink Willie moet die soort vrou kies wat gaan luister. Ma Marleen en pa Pieter het ook met valkoë na Cilmari en Denike gekyk. “Ek as ma… Ek dink regtig hy moet iemand kry wat vir hom bietjie kan ’n reguit lyn trek. Hy’t iemand nodig wat die rieme bietjie kan styf trek omdat hy all over the show is,” het Marleen laat hoor.

Boer soek 'n vrou
Daar was ’n feestelike atmosfeer onder die boma toe Willie sy twee kuiergaste aan almal voorgestel het. 

Ouma Wanda se groot wens was dat Willie se oupa daar was om hom te kon sien, want die twee was van sy kleintyd af baie na aan mekaar. “Dit help nie ek wil ’n vrou kry, maar ek weet nie hoe om ’n meisie te hê nie. Dit help nie ek wil ’n meisie hê, maar ek weet nie hoe om vir iemand lief te wees nie. Dit help nie ek wil vir iemand lief wees, maar ek weet nie hoe om ’n konneksie te hê nie,” was Willie se terugvoer.

“Willie is definitief ’n diep denker. Ek dink hy dink met sy kop voor hy met sy hart voel,” het Pieter oor sy seun gesê.

Maar Armand en Danielle was seker hulle kon reeds sien watter kant toe Willie se gedagtes neig – juis omdat hulle hom lank reeds ken.

Rudi H (56), ’n boerbokboer van Windsorton

Nadat Paola die vorige dag huis toe gestuur is, het daar ’n rustigheid op die plaas neergedaal. Ella het veral die gebrek aan konstante struweling waardeer.

Vonkelwyn en visvang

Wie van Ella of Lizelle gaan die grote aan die hoek kry? Rudi H het hulle rivier se kant toe gevat en touwys gemaak hoe om aas aan die hoek te sit. Lizelle het erken dat sy haarself begin toelaat het om emosies te ervaar. 

Boer soek 'n vrou
Nadat Paola die vorige dag huis toe gestuur is, het daar ’n rustigheid op die plaas neergedaal.

Rudi H was van mening dat die twee oor baie dieselfde eienskappe beskik, maar dat een van hulle net die “bietjie vinniger atleet” is. Daarmee het hy bedoel meer kompeterend, maar hy het tjoepstil gebly oor watter een van die twee dit is.

“Dis harde werk om ’n diep verhouding te bou. Maar ek’s op soek na die buffet-ete – ek wil nie krummels van die tafel af hê nie,” het Ella laat hoor.

Alleentyd 

Lizelle het nie doekies omgedraai nie. Sy het besef sy’s reeds besig om verlief te raak op die boerbokboer, want hy laat haar opgewonde voel. Sy het ook pront vir Rudi H gesê dat hy die rede was waarom sy ingeskryf het vir Boer soek ’n vrou, want sy ondeunde, stoute glimlag het vir haar prettig gevoel. “Iewers het dit net weer ’n snaar in my laat twang,” het sy vir hom gesê.

Boer soek 'n vrou
Lizelle het besef sy’s reeds besig om verlief te raak op die boerbokboer, want hy laat haar opgewonde voel.

Rudi H het erken dat hy bang was om weer lief te raak vir iemand. Sy besluit om aan Boer soek ’n vrou deel te neem, het hom egter werklik baie gehelp. Hy is nie meer bang nie.

Hy het vir Lizelle gevra of, sou hy haar vra, sy reg sal wees vir wat voorlê. “Ek is. Ek is reg vir ’n nuwe ding in my lewe. Ek stagneer waar ek huidig is. Ek is eensaam, en ek is besig om oud te word op my eie,” was haar reaksie. En dan is daar die soeke na ’n maat, iemand wat selfs al is dit net ’n koppie koffie vir haar sal maak.

Boer soek 'n vrou
Lizelle het ook pront vir Rudi H gesê dat hy die rede was waarom sy ingeskryf het vir Boer soek ’n vrou.

Die twee het ’n diep gesprek oor die liefde gevoer. Toe Lizelle vir Rudi H vra of hy voel hy kan sy hart vir haar oopmaak, het hy, “ja”, gesê en bygevoeg dat daar reeds ’n paar boksies vir hom getiek is.

Alhoewel hy gevlei gevoel het toe hy besef dat Lizelle reeds sterk gevoelens koester, wou hy eers bietjie halt roep, want dis nog vroeg in die wedstryd. Maar as dit die regte gevoel is, hoekom nie?

Rudi H wou sommer gou-gou by Ella uitvind hoekom sy vir Boer soek ’n vrou ingeskryf het. Haar reaksie daarop was dat dit presies dieselfde rede is as wat sy van die begin af met hom gedeel het: dat sy menswees haar aangetrek het. “Ek is baie bang dat ek nie gaan voel wat ek dink ek moet voel nie. Of hoe dit moet voel nie,” het Rudi H ná die tyd erken. Dís hoekom hy nog bietjie briek aandraai, het hy gesê.

Boer soek 'n vrou
Rudi H wou sommer gou-gou by Ella uitvind hoekom sy vir Boer soek ’n vrou ingeskryf het.

Kuiertyd met familie en vriende

Rudi H se vriende en familie het sy twee gaste hartlik verwelkom by die braai. “Altwee is ewe oulik. Al twee is spontaan, al twee kan ’n gesprek voer en hulself handhaaf,” was vriende Betsie en Bennie se mening. Neef Francois se vrou, Rachel, het weer gedink nie een van die twee is eintlik reg vir Rudi H nie, maar tog het sy vir Ella ’n kopknik van goedkeuring gegee.

Sy vriende Antoinette en Leon het weer gedink Lizelle is die een wat beter gaan aanpas in die omgewing en die afgesonderdheid, want dit is waar sy haar reeds bevind.

Sus Hannelé en neef Adriaan was volgende aan die beurt, en sy het hom beskryf as iemand wat sonder enige huiwering sal inspring om iemand te help. 

Betsie het gesê Rudi H is ’n wonderlike en eerlike mens – en dis wat hy verwag van mense met wie hy omgaan. Bennie het hom as baie avontuurlik beskryf en ook as iemand wat goed sal wees vir ’n vrou.

Vir Adriaan het dit daaroor gegaan dat Rudi H iemand moet kry wat ook ’n maat vir hom sal wees en dat hy reg is daarvoor.

“Of die mense van hulle hou of nie, op die einde van die dag is dit my keuse. Ek moet besluit of dit reg is of nie reg is nie,” het Rudi H ferm gesê.

Maar iemand voel ’n bietjie jaloers…. Dit wou lyk asof een van die twee gaste meer aandag as die ander een geniet het. Daar’s selfs ’n soen gedeel.

Rudi (47), ’n toerisme- en wildboer van Beestekraal 

Ná afloop van die dag waar die twee kuiergaste alleentyd met Rudi deurgebring het, was die braaivleisvure aangesteek en skemerkelkies aan die orde van die dag. 

Rudi het erken hy was aanvanklik ’n bietjie skrikkerig vir wat op die komende braai met vriende en familie voorlê.

Hannes het gevoel sy energie was ’n bietjie laag. Hy was dankbaar dat die einde van die dag aangebreek het. Dít terwyl Arnold groot spanning oor die komende braai met vriende en familie ervaar het.

Kuiertyd met familie en vriende

Rudi het erken hy was aanvanklik ’n bietjie skrikkerig vir wat voorgelê het. Hannes het gevoel dat daar een of twee van Rudi se vriende gaan wees wat ’n impak op sy besluit gaan maak. Tog was hy oortuig dat Rudi reeds sy keuse gemaak het.

Buurvrou Mona en vriendin Annalie was duidelik daarop uit om Rudi se belange te beskerm. Mona het gehou van wat sy sien, maar was duidelik verlig dat sy nie die een was wat moes kies nie. Sy peetkind, Brendon, en bure Frik en Charmaine het haar sentiment gedeel. Einste Frik was die ou wat saam met Rudi deur sy sakke en sakke vol briewe gelees het. Hy sê hulle was albei in sy toptien gewees.

Vriende Ernst en Wesley het sommer met Hannes begin. “Hannes is baie sterk. Ek voel net hy wil ’n punt bewys in die sin van hy kom baie sterk voor. Rudi soek iemand wat ’n bietjie meer langs hom staan as hom aanvat of hom guide,” het Wesley gesê.

“Ek is glad nie beïndruk met Hannes nie,” het dit pront van sy vriendin Esmé gekom. Buurvrou Lindie het van Arnold gehou, maar het gevoel hy het nog baie om te leer.

BOER SOEK 'N Vrou
“Ek is glad nie beïndruk met Hannes nie,” het dit pront van sy vriendin Esmé gekom. Buurvrou Lindie het van Arnold gehou, maar het gevoel hy het nog baie om te leer.

Mona het ook gevoel dat Arnold beter by Rudi gaan pas. Maar Hannes het weer Frik en Charmaine se stem gekry. Beide Lindie en Ernst se groot wens is dat Rudi ’n goeie pasmaat moet vind. Ernst het dit nog verder geneem deur te wens Rudi moet sommer nog vanjaar voor die kansel gaan staan.

Waar het Rudi homself bevind? “My droom vir myself is om myself te kan wees en te kan weet dat ek steeds geliefd is. Dat iemand tevrede is en saam met my wíl wees vir die mens wie ek is. Die lewe is so plasties. Ek wil nie agter ’n masker lewe nie. Ek wil ook nie hê my lewensmaat moet agter ’n masker leef nie”

Reandi sê

“Dis moelik om jou pad deur die onstuimige waters van liefde te vind as jy nie ’n sterk ondersteuningsnetwerk het nie. Die boere het die eerste stap geneem. Sal die boere moet kies tussen hul hartsbegeerte en die opinies van hul geliefdes?”


Boer soek ’n vrou S17 saai uit op Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Nuwe episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Kyk ook Boer soek ’n vrou S14-S16 op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Binnelanders’-kykgids vir Augustus 2026

Die waarheid oor ’n dokter lei tot ’n dramatiese wending en Joe is desperaat om vrae oor sy identiteit te beantwoord. Dít en nog meer is wat op ‘Binnelanders’-kykers vandeesmaand wag.

Meer

Jou ‘Diepe Waters’-kykgids vir Augustus 2026

Jacques en Theresa se groot dag breek aan, terwyl Karla en Arno nie tot ’n vergelyk kan kom nie. Hier is waarna 'Diepe Waters'-kykers in Augustus kan uitsien.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir Augustus 2026

Mike maak (weer) droog, Kaashifa vind iets skokkend uit en die Samsodiens sien rooi... Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in Augustus kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies