Menu terloops
In Recaps & Resensies [28 Aug 2025]

‘Boer soek ’n vrou’: Vreugde én teleurstelling toe boere hul top-3 kies


Die boere het vandeesweek harde klippe gekou toe hulle op die volgende ‘Boer soek ’n vrou’-avontuur twee van hul vyf gekose pasmaats huiswaarts moes stuur. Ja, die pad na die liefde is nie ’n maklike een nie…

Deur Annelene Oberholzer
‘Boer soek ’n vrou’: Vreugde én teleurstelling toe boere hul top-3 kies

In die vorige episode van die maatsoekreeks Boer soek ’n vrou moes die vyf boere deur hul eerste groot vuurdoop gaan: blitsafsprake met die pasmaats wat hulle in hul inskrywings gekies het. 

Dit was taai, het hulle ná die tyd by AfriCamps op die Doolhof-wynlandgoed naby Wellington in die Boland erken. Daar was ’n skitterblink glinstering in sommige van die voornemende pasmaats se oë, terwyl ander se vlam van hoop uitgedoof is toe van hulle gekies is en sommige van hulle nie verder kon deelneem nie. 

Ja, die pad na die liefde is nie ’n maklike een nie. “Kommunikasie en spanwerk is twee van dié belangrikste pilare in ’n verhouding,” het Boer soek ’n vrou-aanbieder Reandi Grey gesê. Maar gaan daar genoeg daarvan wees om twee harte saam te laat klop?

Ná die eerste ronde het die boere nog harder klippe gekou toe hulle op die volgende avontuur twee van die vyf gekose pasmaats huiswaarts moes laat keer.

Maar eers…

Daar is behoorlik kopgekrap toe almal die volgende dag by Africamps op die Doolhof-wynlandgoed aangekom het en daar ’n sak vir elke boer en sy vyf keuses neergesit is. Wie het gedink hulle gaan ’n tent moet opslaan? 

Rudi H glo dis juis daar waar die eerste vuurdoop gaan wees, want tent opslaan, kan maklik frustrasies laat oorkook. Maar op die oog af het dit goed afgeloop – behalwe vir wildboer Rudi wat een van die tentpenne gebuig het.

Boer soek 'n vrou
Wie sou kon dink dat die boere en die pasmaats moes tente opslaan! Foto: Skermgreep

’n Lieflike piekniek ná afloop van hul hande-arbeid was ’n gesellige kuier. Elke boer het met sy keuses heerlik aan kos en wyn weggelê. 

Dit was ’n vrolike Reandi wat by elke groepie gaan inloer het. Sy het van die pasmaats skertsend oor die vingers getik omdat hulle nog nie die boere genoeg uitgevra het nie. Dit het die interaksie ’n bietjie aangewakker en nuwe momentum gegee.

Langer gesprekke op die kaarte

Die pasmaats was baie opgewonde oor hierdie geleentheid om alleen met die boere te gesels sonder die frustrerende beperking van vyf minute. Dit het hulle die kans gegee om die boere uit te vra, want tydens die blitsafsprake was dit hoofsaaklik die boere wat vrae gestel het.

Boer soek 'n vrou
Piekniek en geselsies op die gras. Foto: Skermgreep

Daar is diep gedelf, drome is gedeel en ’n paar onverwagte antwoorde het opgeduik. Die pasmaats het nie teruggehou met wat hulle wou deel of wat hulle graag wou weet nie.

Uit een van die gesprekke het dit geblyk dat die oënskynlike gemak waarmee die potensiële pasmaats tot nou toe met mekaar oor die weg gekom het, nie deur almal só ervaar is nie. Een pasmaat het gevoel sy word by gesprekke uitgesluit. Gaan sy sink of gaan sy swem?

Wie moet huis toe gaan?

Evert (38), ’n makadamia-, sitrus- en wildboer van Tshipise, Limpopo

Vir hom is daar gewoonlik ’n pistool wat afgaan vir die wegspring wanneer daar met ’n nuwe projek begin word. Maar met hierdie liefdesprojek is die stilte oorverdowend. Die finale skoot het egter geklap vir Anmari en Brümilda.

Wie gaan plaas toe? Lauren, Theresa en Elouise.

Evert se topdrie – Lauren, Theresa en Elouise.

Rudi H (56), ’n boerbokboer van Windsorton, Noord-Kaap

Aanvanklik het hy elkeen op “eie meriete” beloer. Maar toe hy erken hy’s nie juis John Travolta nie, want hy het “nie genoeg ritme om aan ’n deur te klop nie”, het dit gelyk of almal baie gewillig sou wees om hom te leer langarm. Marian en Joey gaan egter nie vir hom langarmlesse op die plaas leer nie.

Wie gaan plaas toe? Paola, Ella en Lizelle.

Rudi H se topdrie – Ella, Paola en Lizelle.

Willie (26), ’n makadamia- en wildboer van Badplaas, Mpumalanga

Diplomaties het Willie laat hoor dat elkeen van die meisies op hul eie manier oulik is, maar Nadine en Monique gaan nie saam met hom op die plaas kuier nie.

Wie gaan plaas toe? Cilmari, Denike en Yvonne.

Willie se topdrie – Cilmari, Yvonne en Denike.

Rudi (47), ’n toerisme- en wildboer van Beestekraal, Noordwes 

Oogkontak was vir hom die sleutel. En ook dat sy span sy pasmaat moet respekteer en andersom. Hy het gesukkel om sy emosies in toom te hou toe hy moes kies wie se pad nie verder saam met syne gaan loop nie, maar Morné en Flip moes huiswaarts keer.

Wie gaan plaas toe? Nelius, Arnold en Hannes.

Rudi se topdrie – Hannes, Arnold en Nelius.

Pieter (29), ’n skaapboer van Richmond, Noord-Kaap

Vir hom was die ontmoetings baie positief en het hy goed raakgesien by sy potensiële pasmaats wat nie noodwendig uit hul briewe duidelik was nie. Leoné en Altanja is die twee wat ongelukkig nie Karoo-skaaptjoppies op die plaas gaan geniet nie.

Wie gaan plaas toe? Anzelle, Elizma en Lisa.

Pieter se topdrie – Elizma, Lisa en Anzelle.

Volgende keer

Dis plaas toe – en Reandi is vol hoop en opgewondenheid oor wat vir die boere voorlê en hoe hul soektog na liefde verder gaan verloop. Soos Reandi sê: “As dit kom by die liefde, is niks eenvoudig nie.”


Boer soek ’n vrou S17 saai uit op Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Nuwe episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Kyk ook Boer soek ’n vrou S14-S16 op Showmax.


Inskrywings vir seisoen 18 van Boer soek ’n Vrou

KykNET soek nou ongetroude boere of plaasbestuurders, manlik of vroulik, wat reg is om ’n liefdesreis saam met Boer soek ’n vrou aan te pak.

Só kan boere inskryf:

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
6

‘Suidooster’ in September: Skokke, geheime en verraad vier hooggety

Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word vandeesmaand in 'Suidooster' telkens op die proef gestel. Hier is ses groot storielyne wat jy in September moet dophou.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-gids vir September 2026

Lily en Ruan is gebroke en Christine se verlede haal haar in. Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir September 2026

Nazeem is ’n doring in Bridgette se vlees en Frankie en Riaan het ’n moeilike gesprek. Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in September kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies