Menu terloops
In Wat om te kyk [10 Nov 2025]

‘Boer soek ’n vrou’ se Lauren: ‘Evert sal altyd ’n spesiale plek in my hart hê…’ 


“Alhoewel ek met ’n stukkende hart en teleurstelling weggeloop het van hierdie ervaring, glo ek steeds dat ek my partner in crime en beste vriend gaan vind om hierdie dolle en wonderlike lewe mee te deel,” vertel ‘Boer soek ’n vrou’ se Lauren nadat haar en Evert se verhouding ten einde geloop het.

Deur Annelene Oberholzer
‘Boer soek ’n vrou’ se Lauren: ‘Evert sal altyd ’n spesiale plek in my hart hê…’ 

Die afgelope seisoen van kykNET se gewilde maatsoekreeks, Boer soek ’n Vrou was ’n uitsonderlike seisoen waar dit van meet af aan gelyk het of die liefde soos stroop gaan loop. 

Getroue kykers het week na week voorspellings gewaag oor wat vir die gekose pasmaats en hul boere voorlê, en dit was duidelik dat die pasmaats ook diep in die kykers se harte ingekruip het. Soos Lauren, 33, van Evert, 39. Die liefde het omtrent vir dié twee tydens die reeks geblom, maar ongelukkig het dit na verfilming dat dié verhouding nie bestem was nie.  

Lauren gesels oor haar deelname.

Lauren, boer soek n vrou
“Met Evert was daar werklikwaar ’n konneksie van die oomblik toe ons mekaar ontmoet het,” vertel Lauren. Foto’s: Skermgrepe

Hoe het dit gevoel toe jy gekies is vir die blitsafsprake? En het jy ooit gedink jy sal tot in die finale episode deurdring?  

“Ek het nooit eers gedink ek gaan daardie oproep kry om te sê dat ek onder die top-10 was nie. Natuurlik was ek baie opgewonde, maar ook senuweeagtig want dit het beteken ek sal myself op ’n baie openbare manier moet blootstel. 

“Met Evert was daar werklikwaar ’n konneksie van die oomblik toe ons mekaar ontmoet het. Ek het net gehoop dat ek meer tyd gegun sou word om hom beter te leer ken. En ek sal vir altyd dankbaar wees vir die tyd en herinneringe wat ons gedeel het, selfs al was dit kortstondig.”

Hoekom het jy besluit om spesifiek vir Evert te skryf? Was daar iets van sy profiel wat hom vir jou laat uitstaan het?  

“My ma het my gebel en gesê ek moet na Evert se bekendstellingsvideo kyk – ek self het dit in daardie stadium nog nie gesien nie. Baie van dit wat hy gesê het, het ooreengestem met dit waarna ek gesoek het in ’n potensiële verhouding. Hy het gelyk na iemand wat dieselfde belangstellings as ek het – hardloop, die buitelewe, diere, sterk familiebande en geloof.”

Vertel meer oor jou eerste indrukke toe jy hom as mens ontmoet het. Het hy voldoen aan jou verwagtinge?   

“Wow! Hy was selfs meer aantreklik in persoon . . .  Ek het nie geweet wat om te verwag met daardie blitsafsprake nie. Die woord ‘blits’ nie ’n oordrywing nie, daardie vyf minute gaan hopeloos te gou verby!

“Tydens ons eerste ontmoeting het alles net moeiteloos gevoel en ons gesprek het natuurlik gevloei. Hy het al my verwagtinge oortref. Hy wás daardie warm en werklike mens wat ek in sy bekendstellingsvideo gesien het.”

Op die skerm het dit gelyk asof jy en Evert ’n baie natuurlike aanklank by mekaar gevind het. Wanneer het jy besef daar mag dalk ’n regte vonkie tussen julle wees? 

“Tydens ons alleentyd-afspraak op die tweede dag by Doolhof was daar geskerts en ’n paar opmerkings gemaak net voordat ek oorkant hom gaan sit het. En nee, ek gaan nie die opmerkings herhaal nie – maar op daardie oomblik kon nie een van ons twee ophou lag nie.

“Ek dink dis veilig om te sê dat Evert ’n aansteeklike lag het. Die kameraspan was genoodsaak om die skoot te onderbreek en ons moes weer van vooraf begin. 

“Ek dink dit was op daardie oomblik dat ek besef het Evert kan ’n baie spesiale persoon in my lewe word. Tog was daar soveel ander faktore wat nog ’n rol gespeel het voordat ek té opgewonde kon raak, want ek sou hom eers weer in Februarie sien saam met die ander twee pasmaats, Theresa en Elouise. 

“Gevoelens het werklik in ’n moontlike werklikheid begin ontaard tydens ons eerste oggend op die plaas tydens plaasweek. Ek en Evert het vir ’n vroegoggend-hardloopsessie gegaan, gesprekke het natuurlik gevloei en ek was op my gemak in sy teenwoordigheid. Dit was tydens hierdie oomblik waar ek gevoel het dat ek ‘ons’ kon sien in ’n normale roetine, in sy wêreld, een waarin ons saam die lewe leef.

“Ons kon gesels oor vorige verhoudings en gebeure wat gelei het tot die oomblik waar ons vir Boer soek ’n vrou ingeskryf het.”

Boer soek 'n vrou
“Om deel te wees van die reeks het my werklik gedruk om by tye emosioneel oop te maak, om kwesbaar en eerlik te wees – nie net met iemand anders nie, maar ook met myself,” deel Lauren oor haar ervaring.

Verhoudings word gereeld in die kollig gestel tydens die reeks. Wat was vir jou die moeilikste deel om iemand romanties te leer ken terwyl die kameras gerol het? 

“Dis een ding om jouself oop te stel vir liefde en om iemand in die werklike lewe na aan jou toe te laat. Dit was beslis uitdagend om iemand te leer ken terwyl die kameras rol, wetende dat jou privaat romantiese keuses kort voor lank deel van openbare gesprekke gaan wees. 

“Ek was nog nooit iemand wat my hart op my mou gedra het nie en ek dink deur myself aan hierdie ervaring bloot te stel wou ek ook nie al my gevoelens toon nie. Daar is die vrees vir seerkry op die lange duur. As ons tog maar net ons gevoelens kon beheer . . . Ek het hard en vinnig geval. 

“Hoe langer die proses geduur het, hoe moeiliker het dit geword om daardie persoonlike gesprekke voor die kamera te voer. Ons het al die oppervlakkige gesprekke waartydens ons mekaar beter leer ken het, op kamera gedeel. Ek het net gevoel daar’s dele van my wat die land nie van hoef te weet nie.”

Wat was jou gunsteling-oomblik, of die een wat jy die langste gaan onthou, tydens die skiet van Boer soek ’n vrou? 

“Dis nogal moeilik om my gunsteling-oomblik terwyl ons verfilm is, vas te pen. Ons was so bevoorreg om al die plekke te kon sien en Evert en die produksiespan het werklik uit hul pad gegaan om epiese aktiwiteite vir ons te reël.

“Ek was werklik gek oor die tyd op die plaas. Tshipise is so ’n lieflike deel van ons land. Maar as ek ’n paar oomblikke moet uitsonder, was dit: 

  • Middagete onder die kremetartboom, net wow!    
  • Buffeljag. Dit was net ’n geverfde buffel – waarna Evert as sy meesterstuk verwys het. Alhoewel hierdie nie tydens die reeks gewys is nie, was dit ’n bloedige warm dag. Die sweet het letterlik van ons neuspunte af gedrup en dan was daar die druk om die teiken te tref . . . Evert het soveel geduld met ons gehad. En danksy sy kalmerende teenwoordigheid het ek soveel meer gemaklik gevoel in wat andersins ’n onbekende, ongemaklike situasie sou wees.
  • Diepseehengel. Ek wou dit nog altyd van my lysie aftiek. Om Evert in sy element te kon sien en dit saam met hom te kon ervaar, was beslis een vir die boeke. Terloops, hy het werklik ’n haai gevang!
  • Kudo’s vir die Boer soek ’n vrou- span. Hulle was ongelooflik. Ten spyte van die lang dae, het hulle deurentyd ’n positiewe atmosfeer geskep en ons gemaklik laat voel. Hulle het ons ook van die eerste dag af ondersteun.”

Kykers het gehou van jou gemaklike sin vir humor. Was dit moeilik om ontspanne te bly tussen die kameras en kompetisie deur?

“Ek kan nie dink ek sou deur hierdie tipe ervaring gekom het met enigiemand anders nie. Ons het soveel pret gehad terwyl ons mekaar beter leer ken het, meestal waar die kameras nie by was nie. 

“Ek veronderstel daar kan gesê word dat my sin vir humor my manier is waarop ek met senuweeagtigheid deel. Deur te lag en dinge lig te hou – dít hou my voete op die grond tydens die proses. Evert was in pas met hierdie energie en dit het gehelp dat ons konneksie so gemaklik en natuurlik oorgekom het.” 

Hoe het dit gevoel om jou reis met Evert op televisie te sien uitspeel? Was daar oomblikke wat jou verbaas het noudat jy dit weer gesien het?  

boer soek 'n vrou
Lauren en Evert: “Daar was soveel wat gebeur het, en baie gesprekke wat agter die skerms gevoer is. Kykers sien bloot ’n fraksie van wat plaasgevind het.”

“Ek het eerlikwaar nie beplan om dit te kyk nie. Maar toe die tyd aanbreek . . . wel, ek raai ek wou sien hoe alles afgespeel het en wat gesê was. Dit was nie maklik om al die oomblikke en emosies te herleef wat deur die reeks verweef was nie.

“Daar was soveel wat gebeur het, en baie gesprekke wat agter die skerms gevoer is. Kykers sien bloot ’n fraksie van wat plaasgevind het. Ja, om van die tonele op televisie te sien, en in jou kop terug te speel wat voor dit plaasgevind het, het beslis my hartsnare geroer. 

“Ek en Evert het oop kaarte met mekaar gespeel wat die ‘proses’ van die reeks behels het. Daar was nie enige verrassings nie.” 

Tydens die reünie het jy genoem dat afstand vir jou ’n uitdaging was. As jy nou terugdink, was dit dalk die rede hoekom dinge nie uitgewerk het nie?

“Was die afstand ’n bydraende faktor waarom dinge nie uitgewerk het nie? Dalk. Maar dit was nooit permanent nie. Vir my was dit altyd ’n jaarlange plan, op die meeste, voordat ek noorde toe sou skuif.

“Tog dink ek daar was ander faktore wat ek dalk nooit van sal weet of verstaan nie, wat daartoe gelei het dat dinge aan die einde van die dag nie vir ons uitgewerk het nie. Ons is altwee baie bewus daarvan dat ons aan die teenoorgestelde kant van mekaar in die land bly. Oproepe en videogesprekke was wonderlik, maar daar moes meer moeite ingesit word om werklik tyd te maak om mekaar te sien.”

Alhoewel jy en Evert nie meer bymekaar is nie, wat het jy van jouself geleer tydens jou Boer soek ’n vrou-reis?    

“Genade, ek dink as ek ’n paar jaar gelede gevra sou word of ek ooit iets soos Boer soek ’n vrou sou doen, sou ek dit bloot net afgelag het. Ek het geleer hoe belangrik dit is om getrou aan myself te bly, selfs wanneer ek buite my gemaksone is en my in so ’n unieke, openbare omgewing bevind. 

“Om deel te wees van die reeks het my werklik gedruk om by tye emosioneel oop te maak, om kwesbaar en eerlik te wees – nie net met iemand anders nie, maar ook met myself. Ek het altyd geweet, en nou besef ek dit soveel meer, dat ek ’n diep, werklike konneksie bo kits-chemistry verkies.

“Die lewe het soms ’n vreemde manier om ons dinge oor onsself te leer. Dinge het nou wel nie uitgewerk op die manier waarop ek gehoop het nie, maar aan die einde van die dag het ek voel nou sterker, is meer bewus van my eie self en baie dankbaar vir die groei en die herinneringe waarmee dit gepaard gegaan het.”

BOER SOEK 'N VROU
Dié mooie verhaal het ten einde geloop.

Watter eienskap van Evert bewonder jy steeds die meeste? 

“Evert het die stil selfvertroue van ’n ware ou-skool-heer, ’n eienskap wat jy deesdae selde raakloop. Dit was duidelik dat sy maniere nie net daar was vir die reeks nie, maar dit kom van ’n instinktiewe bewustheid van deernis en respek. Hy hou deure oop vir vroue, staan op wanneer ’n vrou die vertrek binnekom en hy doen altyd moeite om in kontak te bly in ’n oorvol omgewing. Dis alles klein gebaartjies wat hom as ’n respekvolle man met selfvertroue definieer.”

Het jy en Evert nog steeds kontak? 

“Nee.” 

Wat sou jou raad aan iemand wees wat dink om vir die volgende seisoen van Boer soek ’n vrou in te skryf, veral gegrond op jou eie ervaring?  

“Ek vermoed die maklikste antwoord sal wees: “Wat het jy om te verloor”. Maar die werklikheid van die situasie is dat jou hart kan breek en teleurstelling is nie uitgesluit nie. Dit vat moed om jouself op ’n baie openbare platform bloot te stel, maar glo in jouself.

“Wees oopkop want jy weet nooit werklik wat voorlê en waarheen hierdie reis jou kan neem nie. Ek het ongelooflike mense ontmoet, mense met wie my paaie andersins nooit sou kruis as dit nie vir die Boer soek ’n vroufamilie was nie.”

Glo jy nog steeds dat jy liefde op ’n onverwagse manier gaan vind? 

“Absoluut! Die lewe is vol onverwagte oomblikke en ek kan nie wag om uit te vind wat God volgende vir my lewe beplan nie.

“Alhoewel ek met ’n stukkende hart en teleurstelling weggeloop het van hierdie ervaring, glo ek steeds dat ek my partner in crime en beste vriend gaan vind om hierdie dolle en wonderlike lewe mee te deel.” 

Laastens, hoe voel jy nou wanneer jy terugkyk op die hele ervaring? Sien jy dit as ’n spesiale hoofstuk of ’n trappie na iets nuut?

“Past. Tim Keller het gesê “God se leiding is eintlik ’n kompas. Dit wys jou die volgende stap, nie die hele kaart nie”. 

“My Boer soek ’n vrou-reis was so ’n unieke ervaring en dit sal vir altyd ’n hoofstuk wees wat my oopgemaak het vir nuwe moontlikhede. Dit het my herinner dat elke konneksie, selfs al hou dit nie vir ewig nie, ’n rol speel in die vorming van wie jy is en waarvoor jy volgende gereed is.

“Ek is beslis uit my gemaksone gedruk op maniere wat ek myself nooit sou kon indink nie. Dit het my soveel geleer oor oop-wees, kwesbaarheid en om eerlik met myself en ander te wees. 

“Evert sal altyd ’n baie spesiale plek in my hart hê en ek wens hom net alles van die beste toe.”


KykNET stel die agtiende seisoen se tien boere op Donderdag 13 November om 20:00 bekend. Volgende op kykNET se werklikheidsreekspyskaart is Kokkedoor: Son & see wat op Donderdag 20 November begin. Dié seisoen van Boer soek ’n vrou is vir nog ’n wyle op Catch Up beskikbaar. Kyk ook die vorige seisoene op Showmax  

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
Sien alle opsies