Menu terloops
In Gons [4 Nov 2023]

‘Boer soek ’n vrou’: Gaan ’n brief dalk Janco se liefdeswens bewaarheid?  


‘Boer soek ’n vrou’ se boer Janco se hart was al gebreek, maar hy hoop dat hy iemand sal ontmoet wat gereed is vir wat hy kan bied.

‘Boer soek ’n vrou’: Gaan ’n brief dalk Janco se liefdeswens bewaarheid?  

Janco, ’n 37-jarige plaasbestuurder van die Colesberg-omgewing, is een van die tien boere wat liefde in die 16de seisoen van kykNET se maatsoekreeks Boer soek ’n vrou wil vind.

Op die plaas word daar met bees, skaap en wild geboer. Hy hoop om binne die volgende vier tot vyf jaar voltyds na die plaas te skuif en die leisels by sy pa oor te neem.

Die voormalige professionele veldgids het voor sy terugkeer na die plaas gaan reis omdat hy glo ’n mens moet eers die wêreld, en ander mense, van nader leer ken.

“Jy kan nie net werk nie. Jy moet ook ’n lekker lewe kan hê, en jy moet jou vlerke sprei,” vertel dié Noord-Kapenaar.

Sy wortels op die plaas lê diep. Dis immers waar hy grootgeword het. Van Janco se beste herinneringe is kleintyd se baljaar saam met sy pa op die grasperk waar hulle alles van gholf tot krieket en rugby gespeel het.

“En dan familie wat hier kom kuier het. Kersfeestye op die plaas was altyd ongelooflik lekker. Dit sal altyd huis wees vir my – maak nie saak waar ek op hierdie planeet Aarde is nie.”

Boer soek 'n vrou Janco
“Ek wil ’n goeie man vir my vrou wees en ’n goeie pa vir my kinders, en ek wil ’n sukses maak van die plaas,” sê Janco.

’n Beter Janco

Janco sê dat hy baie na aan die Here leef en ’n goeie verhouding met hom het. Hy hou daarvan om homself gereeld uit te daag, want hy glo ’n mens kan altyd ’n beter weergawe van jouself word. 

Hy beskryf juis sy gebrek aan geduld as sy drie swakste eienskappe, maar verklap daarmee saam dat sy vriende hom as iemand met integriteit beskryf. Janco voel ook dat hy eerlik en opreg is.

“Ek streef daarna om ’n beter Janco te wees as wat ek vandag was.”

Waar sien Janco homself oor vyf jaar? 

Dis juis omdat hy dit moeilik vind om vroue te ontmoet vanweë die besige plaaslewe dat hy hom na Boer soek ’n vrou gewend het.

“Ek wil graag van dié geleentheid gebruik maak om myself beskikbaar te stel. Dalk skryf sy vir my ’n brief.

“Ek wil ’n goeie man vir my vrou wees en ’n goeie pa vir my kinders, en ek wil ’n sukses maak van die plaas,” sê Janco.

Hoe lyk sy ideale pasmaat?

Sy hart was al ’n paar keer in die verlede aan skerwe, maar hy skryf dit daaraan toe dat die meisies nog nie gereed was vir wat hy hulle kon bied nie.

Die vrou waarna hy soek, moet ook ’n verhouding met Jesus hê. Daarmee saam soek hy ’n spontane en eerlike mens met goeie waardes en ’n liefde vir die natuur. 

“Sy moet ook ’n vrou wees wat na haarself kyk en trots op haarself is,” vertel hy.

Janco erken dat hy nie maklik oor sy gevoelens en “dit wat hierbinne my aangaan” praat nie, want dis vir hom ’n spesiale plek – die plek waar hy kan wees wie hy is. Hy heg wel groot waarde aan kommunikasie omdat geen verhouding daarsonder kan werk nie.

“Ek wil baie graag weet wat gaan in haar lewe en hart aan, wat gaan in haar kop aan, want dit help my om haar te verstaan, en sy moet my kan verstaan.

“Ek het baie liefde in my hart, en ek is ’n positiewe mens. Ek voel ek het baie om te bied in ’n verhouding. En ek wil my vrou laat voel asof sy die enigste vrou op hierdie planeet is.”

Janco glo baie beslis aan die liefde en sê: “Dis een iets waarsonder geen mens kan klaarkom nie. Ek glo nie ’n mens kan heel wees as jy nie liefde in jou lewe het nie.

“Ek soek iemand by wie ek kan wees – elke dag – en ek wil nie sonder haar wees nie.”

Wil jy vir ’n boer skryf?

Persone wat die boere beter wil leer ken, kan dit op een van die volgende maniere doen: 

  • Skryf in op kykNET se webtuiste by www.kyknet.tv.
  • Besoek die boere se profiele op die Afrikaanse maatsoek-app, KOER.
  • Bel die vervaardigers, Wolflight, by 079 614 2229.
  • Stuur ’n e-pos na boer@wolflightsa.com.
  • Die sluitingsdatum vir briewe is teen middernag op 30 November 2023.

Wanneer kan jy kyk?

Marciel Hopkins bied vir ’n vierde keer Boer soek ’n vrou aan, en dié maatsoekreeks sal van Julie 2024 op kykNET uitgesaai word. Kykers sal dan die boere se liefdesreise kan volg, en die reeks, wat uit 13 episodes bestaan, sal oudergewoonte fokus op die vyf boere wat die meeste briewe ontvang het.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Redakteurskeuse vir Februarie 2025

Wat om te kyk: Die popkultuur-fenomeen ‘White Lotus’ keer terug vir ’n derde seisoen, ‘Suits’ se spin-off, ‘Suits L.A.’, maak sy debuut, en Kate Hudson is in haar element in die nuwe Mindy Kaling-komedie, ‘Running Point’ – hierdie stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou telenovela-gids vir Februarie 2025: Ontvoerings en opskuddings in ‘My naam is Farah’

Tahir neem sake in eie hande en Farah sal enigiets doen om haar ma te red. Dít en nog meer wag op ‘My naam is Farah’-kykers in Februarie. Hier is ons handige kykgids.

Meer

‘Suidooster’: Kyk uit vir dié 5 storielyn-kinkels in Februarie

Dié ‘Suidooster’ kom in Februarie nie saggies teen die hange van die berg af nie… Hier is vyf storielyne wat ‘Suidooster’-kykers in die maand van die liefde hul naels behoorlik gaan laat kou.

Meer

Jou kykgids vir ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ se tweede seisoen

In die tweede seisoen van die kykNET-kosreeks 'Kokkedoor Vuur & Vlam' is die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha weer op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier. Hier is waarna kykers oor die loop van die tweede seisoen se 13 episodes kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies