Menu terloops
In Recaps & Resensies [14 Aug 2025]

‘Boer soek ’n vrou’: Die top-5 boere is… 


Dit begin als met ’n brief… Op vandeesweek se episode van ‘Boer soek ’n vrou’ reis dié reeks se aanbieder, Reandi Grey, die land heen om briewe af te lewer… En ons vind uit watter vyf boere die meeste briewe ontvang het.

Deur Annelene Oberholzer
‘Boer soek ’n vrou’: Die top-5 boere is… 

Verlede week Boer soek ’n vrou-aanbieder, Reandi Grey, by die tien boere gaan inloer om uit te vind waarna hulle soek en waar hulle hulself in hierdie stadium sien. In vandeesweek se episode was dit sy en die bultende possakke wat afgelewer moes word, en die boere wat moes uitvind of hulle genoeg briewe ontvang het om deur te dring na die blitsafspraakronde. 

“Om jou hart oop te maak en te deel met iemand sonder om te weet wat die uiteinde gaan wees, is nie net dapper nie, maar ook die grootste geskenk wat jy vir iemand kan gee,” kom dit van haar af.

Die boere se briewe

Lourie 

Lourie (26), ’n beesboer van Vryburg, Noordwes, spot daarmee dat die enigste liefde wat hy die laaste paar jaar gekry het, van sy vierpotiges afkomstig was. 

Daar’s nie net ’n stapel briewe wat opgedaag het nie. Reandi ruk ook ’n paar groterige bokse met pakkies van onder die tafel uit. Maar, maan Reandi, sy het vir hom goeie en slegte nuus.

Die goeie nuus vir Lourie? Hy sal verlof moet insit om te gaan kuier vir al die meisies wat vir hom geskryf het. Die slegte nuus is dat hy nie genoeg briewe ontvang het om vir die blitsafsprake te kwalifiseer nie. Dit keer hom egter nie om sommer daar en dan ’n blitsbesluit te neem en dadelik een van die belangstellendes te bel nie.

Willie 

Reandi kies volgende koers na Willie (26), ’n makadamia- en wildboer van Badplaas, Mpumalanga. Hy’s aanvanklik verbaas oor die aantal briewe wat aan hom gerig is, maar hy raak baie opgewonde toe hy van die foto’s sien, want ’n “mooi meisie is altyd my tipe”.

Willie (26), ’n makadamia- en wildboer van Badplaas, Mpumalanga. Foto’s: Gys Loubser

Willie se kuiltjies trek dieper as diep toe hy hoor hy ook het meer as genoeg briewe ontvang om na die volgende ronde deur te dring. Hy het nou wel nie die meeste briewe gekry nie, maar beslis die meeste pakkies. 

Blitsafsprake, hier kom ’n ding!

Rudi H 

Die pad het volgende na Windsorton gelei waar Rudi H (56), ’n boerbokboer van die Noord-Kaap, se bokke en hul lammetjies vir Reandi verwelkom. Rudi H vertel vir Reandi hy voel nou soos ’n foksterriër wat ’n bus gejaag het en hom gevang het, maar nou nie weet wat om daarmee te doen nie.

Die twee gesels oor dinge soos “afskaal” en “rustiger”, maar daardie planne van Rudi H gaan vir eers opsygesit moet word. 

“Ek het nou vir jou slegte nuus. Jy gaan nie kan afskaal nie. En jy’t gesê jy soek so graag net een vrou in jou huis, maar jy gaan drie vrouens in jou huis hê,” lig sy hom in. En hy bloos sowaar toe die nuus insink.

Rudi H (56), ’n boerbokboer van die Noord-Kaap.

Francois (sy neef) en André (sy jonger broer) het hand bygesit met die sortering van die briewe en pakkies. Hulle is van een ding oortuig – en dis dat hierdie die regte ding was vir Rudi H om te doen om mense te ontmoet.

Christof 

Reandi kan nie help om te wonder of daar plek of tyd gaan wees vir ’n vrou in Christof (38), die onkonvensionele turksvy- en soutboer van Petrusburg, Vrystaat, se besige roetine nie, want, sê sy, vroue neem baie tyd in beslag.

Dis ongelukkig ook hier waar Christof en Boer soek ’n vrou se paaie skei omdat hy nie genoeg briewe gekry het nie. Maar daar is beslis meer as genoeg vir hom om lank die land te deurkruis om al die skrywers van sy briewe te ontmoet.

Evert 

Volgende het Reandi ’n ver draai gery na die land van die oeroue kremetartbome, die plek waar Evert (38), ’n makadamia-, sitrus- en wildboer van Tshipise, hom bevind. Hy is aan die draf toe sy opdaag, maar dis nie wat Reandi verbaas nie. Wat haar wel verbaas, is die “liplapa” waarmee hy nou spog – ’n lekker dik snor.

Evert (38), ’n makadamia-, sitrus- en wildboer van Tshipise.

“Jy’t nie net genoeg briewe gekry om deur te gaan na die blitsafsprake toe nie – jy het ook die meeste briewe en geskenke gekry hierdie seisoen,” lig Reandi hom in. En toe word die sakke en sakke en sakke ingedra.

“Jy joke,” kom dit van ’n verstomde Evert. Hoewel hy volgens homself as ’n reël nie bloos nie, is daar tog ’n gesonde skeutjie rooi wat sy wange verkleur. En dis nie sonbrand nie.

Rudi 

Volgende aan die beurt is Rudi (47), ’n toerisme- en wildboer van Beestekraal, Noordwes.

“Rudi, daar is baie mense wat voel Boer soek ’n vrou is nie die plek vir ’n gay man om in te skryf nie. En dit is definitief iets wat mans kan afskrik, want as jy inskryf, maak jy jouself oop vir baie kritiek en baie kommentaar.

“Daar is egter baie mans wat voel jy is die kommentaar en die kritiek werd, want dit het hulle definitief nie afgeskrik nie,” sê Reandi vir hom en vra dat hy moet help om die res van sy pakkies af te laai.

Boer soek 'n vrou
Rudi (47), ’n toerisme- en wildboer van Beestekraal, Noordwes.

Hy erken hy het gewik en weeg voordat hy ingeskryf het vir Boer soek ’n vrou, maar toe dink hy: Hoekom nie? “Ek voel ek is ook geregtig op liefde. Ek is ook geregtig op ideale. En dit maak nie saak wie of wat jy is of wat ook al nie, go for it. Jy moet jou kans vat in die lewe.”

Hy raak skoon aangedaan oor die moeite wat mense gedoen het om vir hom te skryf. Maar daar’s nog goeie nuus: Rudi het meer as genoeg briewe ontvang om ook na die volgende ronde deur te dring. Nou lê die blitsafsprake vir hom voor.

Nicolaas 

Hy het net een brief gesoek. Dit was Nicolaas (37), ’n skaap- en saaiboer van Bredasdorp se wens toe Reandi hom die eerste keer ontmoet het. Toe gee sy vir hom een brief. En nog een. En toe sommer nog ’n hele paar. 

Dit was egter nie genoeg om hom weer by die blitsafsprake raak te loop nie. Maar die man is ’n rustige man, en nou kan hy op sy tyd deur sy briewe lees. Van rustigheid was daar egter geen sprake nie. Hy het sommer onmiddellik besluit om een van die briefskrywers te bel.

“Klink oulik,” kom dit van hom met ’n skewe glimlaggie. Wie weet wat kan gebeur?

Reinier 

Reinier (29), ’n saai-, bees- en skaapboer van Frankfort, was die volgende stop. Reandi geniet dit baie om saam met hom deur van die briewe te lees en video’s te kyk. Alhoewel hy nie genoeg briewe ontvang het om vir die blitsafsprake te kwalifiseer nie, is hierdie jong boer meer as gelukkig met wat hy ontvang het.

“Dis nie die getal wat saak maak nie. Op die einde van die dag kort jy net een brief. Dis al wat saak maak.”

Ruan

Het iemand die kol getref en Ruan (30) ’n skaap-, bees- en saaiboer van Tweespruit, se hart vinniger laat klop? Hy besluit sommer daar en dan om ’n oproep te maak aan iemand wat vir hom ’n baie oulike video gestuur het. Terwyl hy nog sy balans tydens die gesprek probeer vind, is dit Reandi wat hom nog meer laat bloos toe sy vir die persoon aan die ander kant vertel hoe bloedrooi hy nou is. Ongelukkig is dit nie vir Ruan beskore om na die topvyf deur te dring nie. 

Pieter

Boer soek 'n vrou
Pieter (29), ’n skaapboer van Richmond, Noord-Kaap.

Naby Richmond gee Reandi opdrag aan die skaapboer Pieter (29), ’n skaapboer van Richmond, Noord-Kaap, om sy perd af te saal om briewe te kom lees. Hy besluit sommer die eerste brief is al genoeg. Reandi noem aan hom dat sy kan sien hoe sy selfvertroue begin toeneem het sedert hul eerste ontmoeting en dat hy reg is om voluit te gaan met die proses.

Dis natuurlik ’n goeie ding, want ook hy gaan drie dames op sy plaas verwelkom. 

2025 se vyf topboere is:

Boer soek 'n vrou, BSV
Van links na regs: Willie, Rudi H, Evert, Reandi, Pieter en Rudi. Foto: Gys Loubser
  • Evert (38), makadamia-, sitrus- en wildboer van Tshipise, Limpopo
  • Rudi (47), toerisme en wildboer van Beestekraal, Noordwes
  • Rudi H (56), boerbokboer van Windsorton, Noord-Kaap
  • Pieter (29), skaapboer van Richmond, Noord-Kaap
  • Willie (26), makadamia- en wildboer van Badplaas, Mpumalanga

Boer soek ’n vrou S17 saai uit op Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Nuwe episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Kyk ook Boer soek ’n vrou S14-S16 op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

kykNET se nuwe mini-dramareeks is ’n verhaal van verlies, vergifnis en hoop

Twee mans se paaie kruis in ’n ondersteuningsgroep ná die verlies van geliefdes. kykNET se 'Elke donker wolk' verken hoe ’n onverwagse vriendskap ruimte skep vir vergifnis, genesing en hoop.

Meer

Rubriek: Gaan griffel in Ouma se resepteboek! ‘Kokkedoor: Klassiek’ is terug! 

Ná ’n voorskou van die eerste episode laat 'Kokkedoor: Klassiek' vir Marteni Burger verlang na haar ouma se resepte én sien sy uit na nog skeppies nostalgie - met ’n knippie kombuisdrama en verrassende kinkels daarby.

Meer

Van die veld tot die kelder – kuier dié November saam met VIA

Van wildplase en wynkelders tot huise met karakter: VIA se November-aanbod beloof vars ontdekkings. Kuier saam met Shari Kennedy, Leandie du Randt, Frank Rautenbach en JP Quickelberge, en leer ken die mense, stories en plekke wat Suid-Afrika so besonders maak.

Meer

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer
Sien alle opsies