Die pasmaats het hul eerste aand op die plaas deurgebring in Boer soek ’n vrou, en alles was vir hulle nog vars en nuut. Dit het ook gelyk asof die gaste op elke plaas nog met blink oë die dag begroet het.
Wat sommige van die boere nie besef het nie, was dat die aanbieder, Reandi Grey, hulle onkant gaan betrap wanneer sy op die onderskeie plase kom inloer.
Hoe gaan dit op die plase?
Evert (38), ’n makadamia-, sitrus- en wildboer van Tshipise, Limpopo
Wie kuier? Lauren en Theresa
Kykers sal onthou dat werksverpligtinge Elouise genoop het om op die eerste dag die skokkende nuus te breek dat sy nie langer aan die reeks kan deelneem nie. Evert was aanvanklik hartseer, maar hy het erken dat hy baie tevrede was met die twee vroue wat op die plaas agtergebly het.

Hy het besluit om vir Lauren en Theresa touwys te gaan maak op Tshipise se wêreldklas-rolbalbaan. Evert het reeds baie fyn waarnemings gemaak oor die twee: Een is avontuurlustig en reg vir als; die ander een meer gefokus en analities. Maar waarna soek hy werklik?
Die kompetisie het subtiel ook tussen die twee begin kop uitsteek. Gaan dinge vreedsaam vorentoe verloop?
Willie (26), ’n makadamia- en wildboer van Badplaas, Mpumalanga
Wie kuier? Cilmari, Denike en Yvonne.
Op sy beurt het Willie sy kuiergaste na ’n renoster-sentrum geneem waar renosters, onder meer, gerehabiliteer word. So tussen die renostervoerdery deur was Willie ook besig om sy kuiergaste op te som. En natuurlik hulle vir hom.
Ai, as elkeen tog net alleentyd met hom kon kry, sou van hulle dit waarskynlik bo hierdie besoek gekies het – selfs al was die renosters ’n onvergeetlike ervaring.
Reandi kom loer in
Toe Reandi wou weet of hulle gehou het van wat hulle gesien het – nie net Willie alleen nie, maar ook die ander goed wat hulle gesien en ervaar het – was al drie die eens: Dit was lekker. Een van hulle het egter genoem dat sy nie liefde met die eerste oogopslag ervaar het nie, maar beslis baie potensiaal raakgesien het.
Die drie was wel ook duidelik onseker oor wat voorlê, en hulle sou graag langer wou bly.
Willie se besluit
Hy het vir Reandi vertel dat hy sterk op sy instink gesteun het en dat hy op soek is na iemand wat sy sagter kant kan ontgin, soos ’n vrou vir ’n man kan doen. Tog het almal daai vermoë, maar die instink moet hier seëvier. Hy wil regtig net weer weet wat dit is om liefde te voel.

Hy was wel bewus daarvan dat iemand op hierdie dag huis toe gestuur moet word.
“Yvonne,” het hy kort en bondig aangekondig.
“Ja, vir iemand wat in chemie werk, kan ek sê: ‘No chemistry’,” het Yvonne tot groot vermaak van Reandi op pad huis toe aangekondig.
Op sy beurt was Willie ook verlig om te hoor dat Yvonne glad nie spyt was oor haar deelname aan die program nie en ook dat sy instink hom nie in die steek gelaat het nie.
Rudi (47), ’n toerisme- en wildboer van Beestekraal, Noordwes
Wie kuier? Nelius, Arnold en Hannes.
Hy het ’n uitstappie na die Broederstroom-area gereël waar hy en sy drie kuiergaste met pyl-en-boog en kleiduifskiet (met laser) hul vaardighede op die proef gaan stel het. Dit het kompetisie onder die span uitgelok, en Arnold het gevoel dat die kompetisie tussen hom en Hannes tasbaar was.
Met die pyl-en-boogskietery kon ’n mens nie help om te wonder of daar so ’n bietjie van Kupido se doepa aan die pyle gesmeer is nie. Alhoewel Rudi se eie pyl nie heeltemal die kol getref het nie, het hy later erken dat daar wel een – dalk twee teikens – is wat hy nou in sy visier het.

Die avontuur het nie daar opgehou nie. Rudi het sy kuiergaste na die slaghuis geneem waar elkeen hul eie boerewors moes maak. Tussen al die prosesse deur – van speserye byvoeg en derms vul – was daar komplimente en dwarsklappe oor elkeen se boerewors-eindproduk. En iemand het vies geraak oor ’n sensitiewe sakie wat deur ’n ander kuiergas geopper is.
Reandi kom loer in
Sy wou by die drie kuiergaste hoor hoe hulle dit kon regkry om so vinnig oor gevoelens te praat. Hulle het gesê dis omdat hulle weet waarom hulle daar is en dat hulle koppe en harte op die regte plek is. Ook dat hulle mekaar se lief en leed deel.
Maar ná hierdie kuier gaan dit nie meer iemand se “regte plek” wees nie.
Rudi se keuse
’n Emosionele Rudi het vir Reandi gesê dat dit moed verg “om jou hart op ’n skinkbord te sit”.
“Die persoon wat ek wil vra om vanaand asseblief veilig huis toe te ry, is Nelius,” het hy aangekondig.

“Die Here weet wat sy plan is met ons. Die Here weet wat die passie is wat ons het. Ons hoop net dat Rudi gaan oukei wees, want hy is in goeie hande,” was Nelius se reaksie.
Rudi was baie onkant betrap deur Reandi se aankoms, want hy het gedink hy sou eers die volgende dag sy keuse moes maak. Sy plan was om die wors wat die drietal gemaak het, te braai en dan ’n wenner te kies vir die volgende dag se ontbyt.
Pieter (29), ’n skaapboer van Richmond, Noord-Kaap
Wie kuier? Anzelle, Elizma en Lisa.
Hy kon nie ophou glimlag nie. Vir hom was dit pure plesier om soveel lewe in sy huis rondom hom te hê. En sy drie kuiergaste het duidelik ook die tyd geniet. Maar hoe lank gaan dit rustig en vreedsaam bly? En hoekom is daar net twee voorskote ingepak vir hul uitstappie van die dag?
Hy het hulle geneem om kaasborde te sny en af te werk. En so tussendeur die saagsels wat rondfladder, is daar ook die hoop op meer wat in elkeen van die drie se harte fladder – saam met die groot versugting vir ’n een-tot-een-kans met Pieter.
Rudi H (56), ’n boerbokboer van Windsorton, Noord-Kaap
Wie kuier? Paola, Ella en Lizelle.
Paola was sommer vroeg lus om moves te maak – en net die teenwoordigheid van die ander twee het haar glo gekeer om Rudi H van nader te leer ken.
“Drie vrouens onder een dak – dis enige man se droom,” was sy aanvanklike reaksie gewees. Gaan hierdie droom bly voortleef, want drie paar hande en drie vroue het drie verskillende idees rondom ontbyt. Meer as die eiers gaan dalk hier geklits word, en Rudi H het begin besef dat hy die resep vir ’n nagmerrie sien ontwikkel. Hy het daarom sy bes probeer om die situasie te ontlont.

Toe dit by kerktyd kom, het die kriewelrigheid onder die drie gaste weer na vore getree.
“Woeps-waps-woeps, toe’s sy in ’n mooi rokkie, armbandjies…” was die kommentaar van een van die gaste, en dit was duidelik nie as kompliment bedoel nie. Maar die kerkbesoek gaan dalk vir nog ’n omwenteling sorg, want een gas het erken dat sy glad nie ’n kerkmens is nie.
Die onweerswolke het onheilspellend bly saampak. Selfs Reandi kon nie anders as om te wonder of selfs die natuur die woelinge in die drie vroue se gemoed aangevoel het nie.
Sou die kunslesse ná die kerk dalk gehelp het? Rudi H het nie so gedink nie. Hy was steeds te bewus daarvan dat daar op eiers geloop moes word. En iemand het verklaar dat sy uit haar plek en ongelukkig voel, terwyl die ander meer geanker voel.
Oe, en dan die bitterheid! Een van die gaste het vroeër die oggend na Rudi H se kamer gegaan, en dit het groot ongelukkigheid by ’n ander gas veroorsaak wat dit gesien het.
Reandi kom loer in
Dinge het vir hom maar deurmekaar gebly, want die onderstrominge tussen sy drie gaste was tasbaar. Een van die gaste wou weet of hulle drie maats kan bly ná afloop van die program en bygevoeg: “Of is ons nie mature enough nie?” En net daar kom die naels toe uit.
“Dames, ek hoor die dag was ’n warboel van emosies? Is iemand braaf genoeg om vir my te vertel?” wou Reandi by hulle weet.
“Niemand weet hoeveel tyd hulle het om mekaar te leer ken of om te sien of daar potensiaal is vir liefde om te groei nie,” het sy die situasie opgesom. “Hierdie onsekerheid knaag aan almal. Liefde is nie ’n speletjie nie. Ons werk hier met harte vol hoop en moeilike keuses wat gemaak moet word – keuses wat elkeen se toekoms onherroeplik kan verander. Net tyd gaan vir ons wys hoe elkeen se storie gaan uitspeel.”
Volgende week
Rudi H, Evert en Pieter moet nog kies wie bly en wie gly. Watter skokke gaan hierdie episode oplewer?
Boer soek ’n vrou S17 saai uit op Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Nuwe episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Kyk ook Boer soek ’n vrou S14-S16 op Showmax.







