Menu terloops
In Onderhoude [29 Jun 2026]

‘Beter as Gister’ se Corné van Rooyen vertel oor die ‘reeks van die pappas’ en pa-wees


“Ek ruil haar doek om en kry amper ’n staande applous. Ek stap met haar rond om haar aan die slaap te kry en mense sê: ‘Sjoe, jy is darem ’n goeie pa’. Maar wanneer ’n vrou presies dieselfde doen, is sy nie ’n held nie. Sy is net ’n ma.” Corné van Rooyen vertel oor hoe die emosionele kern vir die nuwe dramareeks ‘Beter as Gister’ reeds in die begindae van pa-wees begin vorm aanneem het.

Deur Rozanne Els
‘Beter as Gister’ se Corné van Rooyen vertel oor die ‘reeks van die pappas’ en pa-wees
Kyk lokprent

Wat is ’n goeie pa? ’n Gelaaide vraag wat nie ’n eenvoudige antwoord het nie. Trouens, vir elkeen van ons, sal wat dit beteken om ’n eenhonderd persent teenwoordige pa te wees, heeltemal verskil. En dít – die veelvlakkigheid en veranderbaarheid van wat vaderskap behels – word in die TV-skeppers Corné en René van Rooyen se nuutste gesinsdrama vervat. 

Die Van Rooyens het oor die afgelope paar jaar vir hulself ’n tipe nis uitgekerf as skeppers van TV-gesinsdramas, met kykers wat by reekse soos Summertide, en veral Alles Malan, aanklank gevind het.

Dís hoe saadjie vir reeks geplant is

Beter as Gister plaas die fokus op vier uiteenlopende pa’s in verskillende gesinsdinamikas.

Marco Fouché (Van Jaarsveld) is ’n toegewyde tuisbly-pa; Bernard Kruger (Frank Rautenbach) is ’n sakeman wat gereeld sy werk voor sy gesin plaas; Eben Strauss (Edwin van der Walt) is ’n enkelpa met ’n dogtertjie op die outisme-spektrum; en Tariq Cupido (Elton Landrew) is ’n wewenaar en afgetrede polisieman wat na sy oorlede dogter se sesjarige moet omsien. 

Met dié uitbeeldings hou Corné en René – nie net die reeks se draaiboekskrywers nie, maar ook die regisseurs – ’n spieel op vir die samelewing se idees en standaarde rondom vaderskap. Dit is, soos Corné en René se dogtertjie Hannah dit noem, “die reeks van die pappas”. 

Dis juis met haar geboorte gedurende Covid wat die saadjie vir die reeks geplant is. 

“Soos baie pa’s in daardie tyd was ek vir amper ’n jaar op kraamverlof by die huis,” vertel Corné. “In daardie tyd het ek begin verstaan wat dit regtig beteken om ’n eenhonderd persent teenwoordige pa te wees.” 

Frank Rautenbach, wat ook in Corné en René van Rooyen se Summertide gespeel het, vertolk Bernard in Beter as Gister. Foto’s: Skermgrepe

Emosionele ontlading

Hy het gou agtergekom hoe hard hy moet werk om deel van sy dogter se lewe te wees. “Ek het nie vir haar in my baarmoeder gedra nie, ek het nie vir haar geborsvoed nie – daar is nie daardie emosionele verbintenis, soos tussen ’n ma en haar kind, op ’n natuurlike manier uit die staanspoor nie. En daar’s baie wat ’n pa moet deurgaan om uiteindelik by daardie konneksie met jou kind uit te kom,” verduidelik Corné. 

En hy het.

Corné wys op ’n baie spesifieke ervaring toe René op Catch Me a Killer gewerk het en hy hul dogtertjie se primêre versorger was. “Ek het haar afgelaai by die skooltjie en in ’n koffiewinkel gaan sit en ewe skielik het daar net trane uit my gekom. Dit was nie eens dat ek gehuil het nie. Dit was net alles wat uitkom. Skielik was die emosies net daar.” 

Dit was in dié emosionele ontlading dat hy besef het hoe sterk die band tuseen ouers en kinders is – hoe sterk die band tussen hom en Hannah is. “As ons kinders hartseer is of seerkry, is ouers so kwesbaar, want daai emosie het ’n direkte lyn na ons toe. Dis toe wat ek besef het my ‘naelstring’ aan Hannah is net so sterk,” sê hy.

BETER AS GISTER
Elton Landrew as Tariq.
Beter as gister
Neels van Jaarsveld as Marco.

Verskillende standaarde 

Met tyd het hy ook ’n begrip ontwikkel vir hoe anders die wêreld na ’n teenwoordige pa kyk as na ’n teenwoordige ma. “Ek ruil haar doek om en kry amper ’n staande ovasie. Ek stap met haar rond om haar aan die slaap te kry en mense sê: ‘Sjoe, jy is darem ’n goeie pa’. Maar wanneer ’n vrou presies dieselfde doen, is sy nie ’n held nie. Sy is net ’n ma.

“Dit het my laat besef hoe laag die standaard vir mans is om as goeie pa’s gesien te word. Én hoe ongelooflik hoog die standaard vir vroue is om as goeie ma’s erken te word. In die publiek se oë is dit maklik om ’n goeie pa te wees. Doen net die basiese dinge, en almal klap hande. Maar vir my het dit verkeerd gevoel. Want om ’n goeie pa te wees, vra baie meer as dit.”

Om ’n betrokke pa te wees, is nie noodwendig om net fisiek daar te wees nie, maar verg ook emosionele teenwoordigheid, voeg hy by. 

“Die reeks is gebou op daardie gevoel wat ’n ouer kry wanneer hulle hul kind in die bed gesit het en kyk hoe rustig hulle slaap,” sê Corné. “Moontlik was dit ’n lang dag vol emosie, uitbarstings, skuldgevoelens en ongeduld. Maar dan kyk jy na hulle en dink: Môre gaan ek beter wees. In daardie stil oomblik langs die bed, kom daar liefde, hoop en ’n nuwe voorneme. Dít is eintlik die hart van die reeks.” 

Beter as gister, Edwin van der Walt
Edwin van der Walt is Eben in Beter as Gister.

100% teenwoordig

Met Beter as Gister wou hy en René juis pa’s wys wat hulself goed van hul taak kwyt. En dat die idee van 50-50-ouerskap eintlik 100-100 vir albei ouers moet wees. “Dis waaroor Beter as Gister gaan – kom ons wys pa’s wat ongelooflik goed is met hul taak as pa. Jy’s 100% deel van jou kind se lewe. Dis nie 50-50 nie. Kom ons wys pa’s wat 100% daar is vir hul kinders. Ek wil pa’s wys waarna mense kan opkyk en sê, ‘Jissie, dis cool om ’n pa te wees.” Want, sê hy, die samelewing kyk, ironies genoeg, dikwels neer op mans wat wél goeie pa’s is en wil wees. “Om ’n goeie pa te wees, maak jou nie minder van ’n man of vat jou manlikheid weg nie.”

Saam op die bank

Oor hoekom hy en René so lief is daarvoor om met gesinsdramas as genre te werk, sê Corné dat dit neerkom op sy visie vir televisie skep. “Ek onthou hoe ons as gesin op een bank gesit en saam televisie gekyk het. En dis my droom vir wat ek doen as ek TV maak. Dit is vir my belangrik dat ons werk families saambring.” 

Hy voeg by: “Ek en René kom van baie goeie families af. Ons het nie trauma nie, ons het nie daai probleme van geskeide gesinne of so iets nie. Baie keer voel filmmakers hulle moet trauma hê om te kan skep, maar met ons TV-werk gebruik ons eerder ons bevoorregte posisies om ’n storie te vertel.”

’n Voorbeeld

Met dié storie is die doel ook meer persoonlik – en toekomsgedrewe. 

“Ek het ’n dogtertjie en ek wil ’n verskil maak in hoe sy eendag mans sien. As sy in ’n verhouding ingaan, wil ek nie hê dat sy ’n man uit ’n wond uit moet kies nie. So ek wil ’n voorbeeld wees. Dat jy nie jou identiteit hoef op te gee vir ’n man nie, en mans hoef ook nie altyd sterk te wees nie. As ek op ’n emosionele vlak as pa daar is, kan dit ’n verskil maak in hoe sy die lewe sien, en hoe haar self-waarde ontwikkel.

“So, vir my gaan dit maar oor my eie dogter. Ek wil hierdie storie op TV vertel sodat sy dit kan sien. Sy weet nou dit is die ‘reeks van die pappas’. Maar eendag gaan dit dalk iets anders vir haar beteken.”


Beter as Gister begin op 30 Junie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Dit sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

’n Skokwending en gevaarlike versoekings vier hoogty in ‘Suidooster’ dié Oktober

Ou vetes vlam op, nuwe liefde vertroebel oordeel en ’n skokwending ruk een gesin se wêreld in Ruiterbosch. Dié Oktober loop spanning hoog in Suidooster. Hier is vyf storielyne wat jy nie wil misloop nie.

Meer

Neels van Jaarsveld, jong talent en lekker kos op VIA in Oktober

VIA sorg in Oktober vir lekker kykstof met Neels van Jaarsveld se troeteldierstories, kombuiskuiers saam met Aneeka Papier en kookinspirasie van Herman Lensing. Jong kunstenaars wys hul staal in Gekies vir die kollig!, terwyl Die beste in die Noorde wegbreekidees bied. Huisgenoot: Ware lewensdramas keer ook terug vir sy twintigste seisoen.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
6

‘Suidooster’ in September: Skokke, geheime en verraad vier hooggety

Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word vandeesmaand in 'Suidooster' telkens op die proef gestel. Hier is ses groot storielyne wat jy in September moet dophou.

Meer
Sien alle opsies