Menu terloops
In Gons [5 Sep 2025]

‘Appels en tee’: Diaan Lawrenson en Tinarie van Wyk Loots lei nuwe Afrikaanse dramareeks 


kykNET se nuwe dramareeks ‘Appels en tee’, met Diaan Lawrenson en Tinarie van Wyk Loots in die hoofrolle, blyk beide ’n grootwordverhaal waarin verskillende generasies ’n nuwe lewensfase moet aandurf én ’n viering van vrouwees te wees.

‘Appels en tee’: Diaan Lawrenson en Tinarie van Wyk Loots lei nuwe Afrikaanse dramareeks 

“Bloed is dikker, maar tee is sterker.” Dít is die lokreël van Appels en tee, kykNET se splinternuwe dramareeks wat op 21 Oktober begin.

Die premis

In Paradysbos lyk Lisa Rossouw (Diaan Lawrenson) se lewe perfek. Sy bestuur ’n teetuin saam met haar gerespekteerde man Dawid (Ivan Zimmermann), en voorbeeldige seun, Francois (Jacques Erasmus). Maar dan is daar ’n motorongeluk voor die teetuin en skielik bots Lisa se verlede met haar hede. Want in die kar is haar langverlore vriendin Henriëtte de Klerk (Tinarie van Wyk Loots) en dié se gesin, waaronder Henriëtte se man, Wessel (Neels van Jaarsveld). Is dit toeval, of die noodlot? 

Die De Klerks het intussen hul plaas verloor, en Lisa bied dan vir hulle ’n heenkome aan totdat hulle weer op hul voete is. Dit bring natuurlik herinneringe van hul vriendskap terug, maar eweneens word ou wonde oopgekrap. Hulle het immers vir ’n rede mekaar 27 jaar laas gesien…

Appels en tee, Neels van Jaarsveld en Tinarie van Wyk Loots
Neels van Jaarsveld en Tinarie van Wyk Loots. Foto: Verskaf

Met die vriendinne se herontmoeting, moet Griet (Rika Sennett), Henriëtte se ma, en Jakkals (Ian Roberts), Lisa se pa, ook hul eie seer en wrokke in die gesig staar. Daarmee saam moet Annie (Bianca Langedyk), Henriëtte se dogter, met haar doofheid vrede maak en sy vorm dan ’n onverwagte vriendskap met Lisa se seun, Francois. 

Die dramareeks beweeg tussen die hede en die Langkloof in die negentigs waar Lisa en Henriëtte hul hegte tienervriendskap en drome deel, maar ’n reeks donker geheime die twee uiteindelik uitmekaar dryf. 

Wie nog? 

Hannah Borthwick, Rika Sennett se aktrise-dogter, speel die jong Griet, en Hendrik Cronjé is die jong Jakkals. Anya Human is Lisa en Nicola Nothnagel is Henriëtte in 1998. Ander spelers sluit Viljé Maritz, Moses Williams, Beáta Bena Green en Marlo Minnaar in. 

Appels en tee, kyknet
Anya Human en Nicola Nothnagel vertolk die jonger Lisa en Henriëtte. Foto: Verskaf

Oor die rolverdeling sê Berdene Burger, reeksregisseur: “Ons was op soek na twee sterk vrouens om die hoofrolle te vertolk, en Diaan en Tinarie het ontsagwekkend daarin geslaag om die verskillende fasette van vrouwees en ma-wees met soveel sensitiwiteit uit te beeld. Rika en Ian was voor die hand liggende keuses vir die ouer karakters, en ons het vars talent in Bianca en Jacques gevind. Neels en Ivan was ons twee ankers as die mans in Lisa en Henriëtte se lewens.” 

Berdene is ook die reeks se vervaardiger en medeskrywer, met Tina Kruger as hoofskrywer en uitvoerende vervaardiger, en Gita Fourie as nog ’n medeskrywer. 

Die reeks is in die Langkloof, Hoekwil en op die Tuinroete verfilm. Tasché en Janine Neethling het vir die temaliedjie gesorg. 

“Daar is iets vir elkeen in die reeks,” sê Berdene. “Ons vier vrouwees, maar kyk ook na die uitdagings van die hedendaagse pa en man. Hoe hou mens aan voorsien ten spyte van groeiende ekonomiese druk? Hoe bind geheime ons? Wat gebeur wanneer liefde taan? Vryheid is slegs moontlik wanneer die waarheid seëvier. Ouer word beteken nie dat daar nie tweede kanse is nie. Vergifnis hoef nie te laat te kom nie.”


Appels en tee begin op Dinsdag 21 Oktober om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer

Lag, liefde en soveel meer: Ons kykNET-kyklys vir Oktober

Oktober op kykNET bring plaasromanse, slim speletjies en stories vir boekliefhebbers. 'Boer soek ’n vrou' se liefdeskeuses sorg vir afwagting, 'Haas se gat' speel met woorde en feite, terwyl 'Boekmerk' by skrywers en leeskringe kuier vir gesprekke oor Afrikaanse boeke.

Meer

’n Skokwending en gevaarlike versoekings vier hoogty in ‘Suidooster’ dié Oktober

Ou vetes vlam op, nuwe liefde vertroebel oordeel en ’n skokwending ruk een gesin se wêreld in Ruiterbosch. Dié Oktober loop spanning hoog in Suidooster. Hier is vyf storielyne wat jy nie wil misloop nie.

Meer

Neels van Jaarsveld, jong talent en lekker kos op VIA in Oktober

VIA sorg in Oktober vir lekker kykstof met Neels van Jaarsveld se troeteldierstories, kombuiskuiers saam met Aneeka Papier en kookinspirasie van Herman Lensing. Jong kunstenaars wys hul staal in Gekies vir die kollig!, terwyl Die beste in die Noorde wegbreekidees bied. Huisgenoot: Ware lewensdramas keer ook terug vir sy twintigste seisoen.

Meer
Sien alle opsies