Willem in die kykNET-sepie Suidooster skep drama en konflik; Ivan Zimmerman, wat dié omstrede karakter vertolk, verkies vrede en vreugde.
Tog is dit juis dié karakter se ingewikkelde aard wat die akteur telkens na hom bly terugkeer. Sedert Suidooster Ivan in 2019 vir die eerste keer vir die rol genader het, geniet hy die uitdaging om iemand te vertolk wat nog lank nie vrede met homself gemaak het nie.
Agter Willem se woede en hardkoppigheid skuil daar volgens Ivan ’n gebroke mens wat hulp nodig het – al sukkel hy om dit te erken.
Ons het met Ivan gesels oor die mens agter Willem se moeilike besluite, sy vertolking teenoor Eden Classens wat sy seun Justin speel en hoe dit voel om ná meer as twee dekades weer teenoor sy voormalige 7de Laan-kollega, Nina Swart, voor die kameras te wees.

Wat het jou aanvanklik tot die rol van Willem aangetrek, en wat geniet jy die meeste daarvan om hom te vertolk?
Suidooster het my in 2019 genader om die rol van Willem te vertolk. As akteur sê ’n mens nie sommer nee vir werk nie, so die vooruitsig om te werk was aanvanklik ’n groot trekpleister. Gelukkig was dit ook ’n uitdagende rol met baie diepte. Dit is juis wat ek so geniet: Willem is nie vir my ’n maklike karakter om te vertolk nie.
Hoe sou jy Willem beskryf aan iemand wat hom nog nie ken nie?
Hy is iemand wat nog op soek is na homself en hy het nog nie sy donker kant omhels nie.
Hoe benader jy ’n karakter wie se besluite jy nie noodwendig self sou neem nie?
Ek begin by my eie lewenservaring en kyk of daar iets is wat ek vir die karakter kan inspan. Indien nie, probeer ek iemand anders se lewe as verwysingsraamwerk gebruik. As dit steeds nie werk nie, steun ek op navorsing en my instink.
Dit is natuurlik ook ’n spanpoging. As akteurs kry ons wel baie leiding van die skrywers en die regisseur.
Willem en Justin se verhouding is ingewikkeld. Waarmee dink jy sukkel Willem die meeste om oor homself as pa te erken?
Dat hy ’n gebroke mens is wat baie hulp nodig het.
Hoe werk jy en Eden Classens saam om die geskiedenis en onuitgesproke gevoelens tussen pa en seun geloofwaardig oor te dra?
Ek en Eden kom baie goed oor die weg en ons albei hou daarvan om te repeteer. Ons bestee baie tyd daaraan om die dialoog saam deur te werk tot waar die toneel homself as ’t ware aan ons openbaar. Só kom ons by die punt waar ons die nuanses verstaan en kan oordra.
Wat maak Willem en Elzette se dinamiek vir jou interessant om te speel?
Elkeen dink hy of sy is beter as die ander een – en het meer reg!
Is daar iets van jouself wat jy in Willem herken, of verskil julle hemelsbreed?
Ek ervaar baie vrede en vreugde in my lewe en vermy onnodige drama en konflik. Daarenteen skep Willem juis drama en konflik.
Sonder om iets weg te gee: Watter kant van Willem het jou die meeste as akteur uitgedaag?
Sy innerlike woede. Dan was daar ook die tempo waarteen die regisseur wou hê ek moes praat: vinnig en op die punt af. Ek is van nature baie meer ontspanne.
Wat hoop jy sal kykers beter van Willem verstaan namate hulle hom leer ken?
Dat Willem ook maar net ’n mens is. Daar is in ’n meerdere of mindere mate iets van Willem in ons almal.
Jy en Nina Swart was destyds albei in 7de Laan, jy as Steyn en sy as Willemien. Hoe is dit om ná al die jare weer teenoor haar te speel, dié keer as Willem en Elzette in Suidooster, en watter herinneringe roep julle samewerking op?
Dit was 24 jaar gelede – of dalk al 25! Dit is altyd vir my lekker om te sien hoe mense gegroei het, en ook as skeppende mense verander en ontwikkel het. Dit was vir my besonders om dit by Nina te kon sien. Ek het ons samewerking baie geniet.







