Menu terloops
In Onderhoude [13 Nov 2026]

Leer ken ‘Kokkedoor: Klassiek’ se Jess van Dyk


Vir Jess van Dyk is haar beoordelaarsdebuut op ‘Kokkedoor: Klassiek’ ’n kinderdroom wat waar word. Ons gesels met haar oor dié nuwe hoofstuk.

Leer ken ‘Kokkedoor: Klassiek’ se Jess van Dyk

Die eienaar en hoofsjef van die bekroonde Post & Pepper-restaurant in Stellenbosch, Jess van Dyk, het onlangs haar debuut as nuwe beoordelaar op Kokkedoor gemaak. Jess staan saam met Herman Lensing aan die stuur van sake in Kokkedoor: Klassiek,wat onlangs op kykNET (DStv-kanaal 144) begin het. 

Terwyl Herman al vir jare agter die skerms by dié immergewilde koswerklikheidsreeks betrokke is en ook sy buiging as Kokkedoor-beoordelaar met Son en see gemaak het, is Jess se debuut as beoordelaar die verwesenliking van ’n kinderdroom.

Sy is egter nie heeltemal ’n vreemdeling vir Kokkedoor-kykers nie – dis juis Jess se draai as gasbeoordelaar in ’n episode van Kokkedoor: Vuur & vlam, sowat twee jaar gelede, wat haar op die reeksregisseur, Sanet Olivier, se radar laat beland het. 

Ons het met Jess gesels om meer uit te vind. 

Hoe het dit gebeur dat jy dié geleentheid aangebied is? En wat was jou onmiddellike reaksie? 

In 2024 was ek ’n gasbeoordelaar vir Kokkedoor: Vuur & vlam. Sanet [Olivier, regisseur] en van die ander lede van die produksiespan het opgelet dat ek baie gemaklik op stel is. Ek het boonop die dag op stel verskriklik geniet en altyd gehoop ek word weer gevra. En toe het die produksiespan my vroeër vanjaar genader, vertel dat die reeks na sy oorspronklike formaat terugkeer en gevra of ek sou belangstel om ’n beoordelaar te wees. Ek was kinderlik opgewonde en het dadelik “Ja!” geantwoord.

Wat het uiteindelik die deurslag gegee en gemaak dat jy “ja” gesê het?

Ek het so selfsugtig in my kop “Ja!” geantwoord en toe myself begin bevraagteken… Is dit ’n goeie loopbaanskuif? Is dit iets waarin my man en familie glo soos ek daarin glo? Wat gebeur met my span en restaurant gedurende my afwesigheid? Maar ek het uiteindelik besef dat dit al van kleins af my droom is om met kos op televisie te werk, en die blootstelling vir die restaurant en span gaan vir almal voordelig wees. So toe gryp ek hierdie geleentheid met albei hande aan!

Jy het ’n besige restaurant – was jy bekommerd oor wat die tyd weg van jou kombuis vir Post & Pepper sou beteken? Hoe het jou span daarop gereageer, en hoe het julle dit aangepak?

Ek was bietjie bekommerd – nie omdat ek dink hulle nie die mas kan opkom nie, maar net omdat ek verskriklik skuldig gevoel het om weg van die restaurant af te wees. Ek glo ek moet wys ek is 100% toegewyd om my span gemotiveerd te hou; om seker te maak my voorbeeld is een wat hulle kan volg. Maar ek weet ook ek het ’n sterk span – my seniors was in daardie stadium al so drie jaar saam met my – en ek het genoeg tyd reg langs hulle in daardie drie jaar spandeer om te weet hulle kan in my afwesigheid klaarkom. 

Ek het egter nie geweet my ervare restaurantbestuurder het intussen ’n ander werksaanbod aanvaar nie, en die dag toe ek die Kokkedoor-nuus breek, het hy bedank. En die dag wat ek van stel af teruggekom het, het die ander bestuurder ook bedank! (Lag) Ek vertel die storie, want ek dink nie mense verstaan wat ’n warrelwind die restaurantbedryf is nie. Dis nog elke keer so dat op die dae wat groot, opwindende goed gebeur, daar ook ’n laagtepunt is. 

Maar my span was verskriklik opgewonde vir my. Ek dink van die sjefs was wel ’n bietjie spyt dat hulle nou nie self kon inskryf nie.

Kokkedoor is vir baie Suid-Afrikaners ’n instelling – ’n moet-kyk op hul TV-spyskaart. Het die program se gewildheid jou meer opgewonde as angstig laat voel, of was dit andersom?

Omdat ek sulke lang ure in die restaurant werk, het ek maar min tyd om TV-programme te volg. Ek was hoofsaaklik opgewonde omdat dit oor kos, mense en stories op televisie gaan. En dis mos spesiaal en lekker.

Wanneer het die senuwees die ergste geknaag, en wanneer het jy gevoel jy is in jou element?

Ek dink die dag toe ek moes pak, my span groet en die pad vat Struisbaai toe, was die senuwees die ergste. Ek het nie geweet wat om te verwag nie. Die produksiespan werk ook al jare saam, en ek was die nuweling wat nie geweet het hoe, wat, wie, waar of wanneer nie. Maar jissie, die produksiespan is ongelooflik – en daar is ’n kits-familieband wat ’n mens met almal op stel vorm.

Jy is gewoond aan die tempo en druk van ’n professionele kombuis. Hoe vergelyk ’n TV-stel daarmee?

(Lag) Toe Sanet vir my waarsku, “Dit raak nogal rof, die dae raak lank, veral die eerste twee weke,” het ek regtig in my agterkop gedink: “Ek’s ’n sjef. Ek werk 14 ure ’n dag op my voete. Ek kén van lang dae.” Maar, ek was bietjie verras met hoe allesoorheersend dit was. Dis ’n ander tipe gereedheid wat ’n mens moet hê. In ’n kombuis kan ’n mens baie agtelose voorbereidingswerk doen… jy kerf, kook, braai, maneuvreer sonder om “aan” te lyk of te wees. Én jy doen dit in plat, gemaklike skoene en klere. Mooi skoentjies is nou nie eintlik vir so lank staan en loop gemaak nie. Die dae is meer as 12 ure lank, en dan moet jy gaan hare was en blaas, aandete inwerk, woorde oefen vir die volgende dag, en probeer om genoeg slaap in te kry sodat jy vyfuur môreoggend nie lyk soos ’n willewragtig nie. Ek het nogal oefengewigte en alles ingepak, want ek was vasberade om my roetine te handhaaf. Daar het niks van gekom nie! (Lag)

So die dae was uitputtend, en dié hardcore sjeffie het vining besef dis nie so maklik soos ek gedink het nie.

Wat het jou die meeste verbaas oor hoe Kokkedoor vervaardig word en wat agter die skerms gebeur?

Sjoe, waar begin ’n mens? 

Die hoeveelheid spanlede – julle, dis baie mense en baie werk en baie opoffering en baie ywer en baie omgee. En dit alles word met die grootste liefde, glimlagte en passie gedoen. 

En dan – die hoeveelheid hulp en omgee van die vervaardigers. Niks bly vergete nie. Almal en alles word na omgesien. Dít was ’n belewenis.

Ek dink dis ook belangrik om te noem hoe uitdagend die kompetisie vir die deelnemers is. Dis nie net ’n kookkompetisie nie – dis ook baie sosiaal, oorweldigend en oorstimulerend by tye. Die deelnemers kook saam, bly saam, eet saam, leef saam – dis onophoudelik. En dit toets nie net kookvernuf nie. Druk, min slaap, lang dae – dit toets jou beperkinge en jou menswees.

Hoe was dit om so half plekke te ruil en die een te wees wat ander mense se kos moes proe, beoordeel en terugvoer gee?

Dis nie altyd lekker nie, want om vir iemand kos te maak is so persoonlik. Dis baie erg om te hoor iemand hou nie van jou kos nie, of verstaan nie wat jy probeer doen het nie. En ek het begrip daarvoor. As sjefs word ons daagliks geresenseer, en dis die mees senutergende aspek van kosmaak vir die publiek. En hier word die deelnemers onder geweldige druk getoets – dis moeilik.

Op daardie noot – die kandidate is nie almal professionele sjefs nie. Hoe het jy die terugvoer-proses benader? Hoe sê jy byvoorbeeld vir ’n kandidaat die gereg het nie gewerk nie, sonder om hul gees te breek?

Hulle kook vir R1 miljoen. Die terugvoer moet hulle dus help om te verbeter. Die span wat daardie prysgeld wen, moet dit werd wees en die kykers moet ook kan glo hul kookvernuf en kos is dit werd. Mens wil niemand afbreek nie, maar aan die einde van die dag is dit steeds ’n kompetisie. 

My reël in my eie kombuis én in die Kokkedoor-stoor is eenvoudig: Jy moet daarvan hou en dink dit proe lekker. Dit help nie jy kook iets om fancy te wees nie. As jy dit nie wil eet nie, dan is dit mos nie eie aan jou nie. Die kos moet genoeg sout in hê, maar daar moet ook balans wees wat soet, suur, sout en tekstuur betref. So dít was altyd waarna ek gekyk het. Ja, mens wil innoverend wees, maar mens wil ook lekker eet.

Wat het die ervaring vir jou oor jouself geleer – as sjef, as leier, as mens?

Sjoe, dit het net weereens bewys hoe kragtig kos is. Ons het baie gelag en baie gehuil. Die herinneringe wat kos by jou opwek, is so ongelooflik.

Ek het ook besef hoe sterk die dissipline is wat hierdie bedryf vir my geleer het. Ek hou van goed wat reg is – ek hou myself baie verantwoordbaar en so ook vir ander.

Wat dink jy was jou grootste bydrae tot hierdie nuwe seisoen van Kokkedoor – ’n bydrae wat net jy as Jess kon maak? 

Ek probeer dit nog uitpluis. Dalk my persoonlikheid en liefde vir lag en geluk in die kombuis vind. (Lag) Ek weet nog nie. Miskien as ek myself op kamera sien en die reeks kyk, sal ek besef. Ek was maar net myself. Ek het heeltyd eie gebly aan wie ek is en wat vir my belangrik is en goed voel.

Hoe was dit om saam met Herman Lensing te werk? Hoe verskil julle, en hoe vul julle mekaar aan?

Ek het so lief geraak vir Herman. Hy is ’n besonderse mens. So lief vir wat hy doen, verskriklik kreatief en passievol en besig. (Lag) Ons het ’n ongelooflike tyd saam op stel gehad. Ons smaak verskil definitief partykeer, maar die basis van waarvoor ons staan, is eintlik baie eenders. Hy het my ook heeltyd gerusgestel. Hy werk al jare agter die skerms van Kokkedoor en kon my bietjie lei en help as ek onseker oor iets was. Veral in daardie eerste paar dae.

Sonder om enigiets weg te gee: Was daar ’n oomblik op die stel wat jy nooit sal vergeet nie, dalk iets snaaks of ontroerends? Of ’n gereg wat ’n spesiale herinnering of gevoel by jou opgeroep het?

Daar was een uitdaging waar die wenspan se dis my die grootste happe laat vat het. Ek hoop nie dit word gewys nie – ek skaam my dood – maar dit was vrek lekker! (Lag)

Het die program jou siening van Suid-Afrikaanse kos en erfenis verander of verdiep?

Definitief verdiep. Nostalgie in kos is hoe ek kook. Dis so belangrik om ’n emosie deur kos te kan voel of proe, en dis wat vir my belangrik is as ek iets eet.

Is daar iets wat jy in die Kokkedoor-kombuis gesien het wat jy in Post & Pepper se kombuis wil probeer? Of iets wat jy by die deelnemers geleer het wat jy vorentoe sal toepas of aanwend?

Dit het niks met die kombuis of kos te doen nie, maar ek het besef hoe mooi Afrikaans is en dat ’n mens regtig meer moet probeer om mooi, suiwer Afrikaans te praat. Ons raak lui. Ons praat verskriklik Mengels, en ons taal moet geoefen en respekteer word. 

Die deelnemers het my ook weer geleer hoe belangrik sout is. (Lag)

Kokkedoor: Klassiek is Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

kykNET se nuwe mini-dramareeks is ’n verhaal van verlies, vergifnis en hoop

Twee mans se paaie kruis in ’n ondersteuningsgroep ná die verlies van geliefdes. kykNET se 'Elke donker wolk' verken hoe ’n onverwagse vriendskap ruimte skep vir vergifnis, genesing en hoop.

Meer

Rubriek: Gaan griffel in Ouma se resepteboek! ‘Kokkedoor: Klassiek’ is terug! 

Ná ’n voorskou van die eerste episode laat 'Kokkedoor: Klassiek' vir Marteni Burger verlang na haar ouma se resepte én sien sy uit na nog skeppies nostalgie - met ’n knippie kombuisdrama en verrassende kinkels daarby.

Meer

Van die veld tot die kelder – kuier dié November saam met VIA

Van wildplase en wynkelders tot huise met karakter: VIA se November-aanbod beloof vars ontdekkings. Kuier saam met Shari Kennedy, Leandie du Randt, Frank Rautenbach en JP Quickelberge, en leer ken die mense, stories en plekke wat Suid-Afrika so besonders maak.

Meer

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer
Sien alle opsies