’n Kinkel begin by nuuskierigheid: Wat gebeur as ’n bekende geur ’n onverwagse pasmaat kry?
In Kokkedoor: Klassiek bring tien kinkelkokke hul tegniek, verbeelding en uiteenlopende koservarings na die kompetisiekombuis. Hul paaie loop deur hotelkombuise, patisserieë, restaurante en verre lande.
Onder dié groep tel jong talent, gesoute sjefs en mense wat opnuut ruimte vir hul kosdrome maak. Saam met die onthoukokke gaan hulle bekende geregte met vars oë bekyk, nuwe moontlikhede beproef en ontdek hoeveel daar nog by mekaar te leer is.
- Die onthoukok bring kennis van tradisionele kos, familieresepte en die praktiese wysheid van jare agter die kospotte. Formele sjefsopleiding is nie ’n vereiste nie. ’n Passie vir onthoukos en ervaring is wat tel.
- Die kinkelkok gebruik ’n sjefskwalifikasie of professionele kombuis-ervaring om bekende geregte met tegniek en verbeelding op vars maniere te herinterpreteer.
Die tien kinkelkokke is:
Kheenan Douman | Kinkelkok

- Ouderdom: 36
- Van: Elsiesrivier, Wes-Kaap
- Beroep: Senior soussjef
Kheenan Douman se liefde vir kosmaak het as klein seuntjie in sy ma se kombuis begin. Eers het hy net dopgehou, later ook hand bygesit. Daardie tyd saam met haar het hom geleer hoeveel liefde ’n mens deur kos kan wys.
By House of David Caterers het hy hom onder die leiding van sy mentor, Uncle Davi, van skoonmaker tot sjef opgewerk. Daar het hy die dissipline en tegniek geleer waarop hy vandag as senior soussjef by ’n vooraanstaande wynlandgoed voortbou.
Dié twee invloede bly deel van sy kookstyl. Hy wil kos maak wat goed lyk en smaak, maar ook iets by die eter wakker maak.
Kheenan is getroud met Leigh en beskryf homself as ’n grapmaker met ’n sagte hart. Hy heg waarde aan die kleiner besonderhede en hou daarvan om ander mense gemaklik te laat voel. Agter die vrolikheid is iemand wat groot droom en bereid is om daarvoor te werk.
Beeswang verteenwoordig sy benadering, want dit vra tyd en geduld voordat die vleis sag en vol geur is. Hy geniet die uitdaging om eenvoudige bestanddele in iets besonders te verander.
Na Kokkedoor: Klassiek bring hy kalmte en ’n vasberadenheid om probleme saam op te los. Die Onthoukokke se ervaring en aanvoeling vir huiskos beteken vir hom baie. Hy hoop kykers sien sy opregtheid en die sorg wat in elke bord kos ingaan, en onthou hom as iemand wat met hart kook.
Ruan Swanepoel | Kinkelkok

- Ouderdom: 27
- Van: Table View, Kaapstad, Wes-Kaap
- Beroep: Professionele sjef
Vir Ruan Swanepoel het ’n animasieprent die kombuisdeur oopgemaak. Nadat hy as kind Ratatouille gekyk het, wou hy self uitvind watter geurkombinasies moontlik is. Later het die kos in animasieprente hom inspireer om geregte op die skerm in die regte lewe te probeer namaak.
Hy kom oorspronklik van Kimberley en het ná matriek Kaapstad toe getrek om ’n loopbaan in kos te bou. Met nege jaar se ervaring in vyf kombuise, onder meer in die hotelbedryf, het daardie nuuskierigheid as kind lank reeds ’n beroep geword. Oosterse kos en die ontdekking van ander mense se koskulture prikkel steeds sy nuuskierigheid.
Buite die kombuis is Ruan stil. Sodra hy begin kook, voel hy egter tuis en kry sy idees ruimte. Dieselfde verbeelding kom na vore in die dinge wat hy graag in sy vrye tyd doen: Hy is lief vir The Lord of the Rings, flieks en aanlyn speletjies. Hy speel graag Rainbow Six Siege saam met sy neef, waar hulle saam oor die volgende skuif moet dink. Hy het ook as negejarige tromme begin speel.
Familie is vir hom ’n groot dryfveer. Met sy deelname wil hy sy ma en familie trots maak en sy oorlede pa eer. Sy droom is om sy ma van Kimberley, Kaap toe te bring en vir haar te kan sorg.
Ruan vergelyk homself met potjiekos: eenvoudig van buite, met heelwat lae onder die deksel.
Kokkedoor: Klassiek is vir hom ’n kans om nuwe mense te ontmoet, sy vermoëns te toets en te wys hoe ver aanhou probeer jou kan bring. In ’n span waardeer hy eerlike terugvoer en ’n kalm benadering wanneer dinge skeefloop.
Douglas Botha | Kinkelkok

- Ouderdom: 24
- Van: Wellington, Wes-Kaap
- Beroep: Privaat sjef en mede-eienaar van Chapter One Catering
Douglas Botha se kosloopbaan het met ’n verjaardaggeskenk aan homself begin: ’n Kitchen Samurai-mes. Hy het daarmee begin eksperimenteer en al hoe meer tyd in die kombuis deurgebring. Wat eers bloot belangstelling was, het geleidelik sy planne vir die toekoms verander.
Hy het op ’n plaas in Slanghoek grootgeword en was ’n koshuiskind by Hoër Jongenskool Paarl. Sy formele studies was in voorsieningskettingbestuur, waarin hy ’n BCom-graad behaal het. Sjefskool was nie oorspronklik deel van sy lewensplanne nie. Dit was sy werk saam met sjef Kevin Grobler by Vrymansfontein wat hom laat glo het dat hy ’n plek in die koswêreld kon vind.
Vandag bedryf hy Chapter One Catering saam met sy meisie, Lindie Viljoen. Hulle is al tien jaar saam en woon in Wellington met hul kat, Jasper. Douglas bly gretig om te leer. As ’n gereg in ’n restaurant sy belangstelling prikkel, vra hy graag of hy die kombuis kan besoek en met die sjefs kan gesels.
Sy kookstyl verbind plaaslike produkte met klassieke tegniek.
’n Kreefgereg met geroosterde mielie, waterblommetjies, Kaaps-Maleise speserye en ’n geurige bisque (skelvissop) verteenwoordig die soort kos wat hy graag maak. Hy geniet die fyn beplanning wat verskillende elemente op die regte oomblik bymekaarbring.
Douglas het vir Kokkedoor: Klassiek ingeskryf omdat hy van ’n uitdaging hou en wil sien hoe hy onder druk presteer. Hy bring vinnige besluitneming en tydsbeplanning na ’n span en verwelkom eerlike terugvoer. Sy hoop is dat kykers iemand sien wat aanhou leer, bereid is om foute te maak en elke keer beter probeer doen.
Hanroe Erasmus | Kinkelkok

- Ouderdom: 45
- Van: Secunda, Mpumalanga
- Beroep: Sjef en mede-eienaar van Genade Shoppie
Hanroe Erasmus se kombuis-ervaring strek van hotelle in Gauteng tot The Palace by Sun City, waar hy as hoofsjef gewerk het. Ná meer as twintig jaar in die bedryf is daar steeds dinge wat hy aan homself wil bewys. Kokkedoor: Klassiek bied hom ’n nuwe uitdaging en ’n kans om sy kreatiwiteit te wys.
Hy moes lank vir dié droom wag. Hy het voorheen ingeskryf, maar moes weens sy vrou se gesondheid onttrek. Nou kry hy weer die geleentheid om daardie plan aan te pak. Vandag bedryf hy en Kirsten die Genade Shoppie in Secunda, waar sy jare se professionele ervaring ’n ander tuiste gevind het.
By die huis is hy pa van Tauri en Rhylan. Hy beskryf homself as iemand wat met toewyding man, pa en sjef probeer wees. Sy liefde vir kook kom van kleintyd af, met sy ma, Estelle, en ouma, Hannah, wat hom aangemoedig het om daardie belangstelling te ontwikkel.
Wanneer die voorskoot afkom, geniet Hanroe dit om in die see te gaan hengel. Hy skiet ook graag teiken met ’n pyl en boog. Dié belangstellings bied ’n welkome afwisseling van die kombuis.
Die gereg waarmee hy homself vergelyk, is ’n potjie: eenvoudig van buite, maar met talle lae binne. Sy persoonlikheid kan sterk na vore kom, erken hy, en daarom waardeer hy ’n spanmaat wat ’n mening durf gee en hom tot orde kan roep wanneer dit nodig is.
Onder druk bring Hanroe rustigheid en die vermoë om probleme op te los. Hy hoop kykers onthou die verbeelding in sy kos en leer ook die mens agter die sjef ken.
Mishka Brink | Kinkelkok

- Ouderdom: 24
- Van: Paarl, Wes-Kaap
- Beroep: Patisseriesjef
Mishka Brink het aanvanklik chemiese ingenieurswese gaan studeer, maar haar toekoms het uiteindelik in die kombuis gelê. Sy het van koers verander, haar sjefdiploma cum laude verwerf en as die beste student in haar klas haar diploma voltooi. Vandag werk sy as patisseriesjef by Dusk in Stellenbosch, onder sjef Callan Austin.
Dit was ook Callan wat haar aangemoedig het om vir Kokkedoor: Klassiek in te skryf. Sy wou nuwe ervarings opdoen en haarself buite haar gemaksone toets. Vir iemand wat as kind graag kosprogramme gekyk het, is dit besonders om nou self deel van een te wees.
Haar ma het haar liefde vir kook aangewakker. Sy het eers gesit en kyk terwyl aandete gemaak word en later begin help.
Mishka is verloof aan Austin Pottas en baie na aan haar familie. Sy beskryf haarself as ’n lewenslustige ekstrovert wat haar hart op haar mou dra. Sy geniet dit om met teksture, geure en die voorkoms van ’n bord te eksperimenteer.
Haar stokperdjies sluit visvang in. Sy is ook musikaal, sing graag en het op skool aan kore, produksies en eisteddfods deelgeneem.
Ten spyte van haar werk in ’n fynproewerskombuis, bly haar ma se eenvoudige pasta met groente, maalvleis en kaas die gereg wat haar die beste verteenwoordig: ongekompliseerd, gebalanseerd en lekker.
Na die kombuis bring sy kennis van bestanddele en ’n kalm aanslag. Sy waardeer ’n spanmaat met wie sy idees kan uitruil. Haar ervaring groei nog, maar haar bereidwilligheid om aan te hou probeer en haar sin vir humor is altyd saam met haar agter die kospotte.
Karen du Plessis | Kinkelkok

- Ouderdom: 60
- Van: Swellendam, Wes-Kaap
- Beroep: Sjef en sakevrou
Karen du Plessis werk deur haar oorlede ma se resepteboeke en vind daarin weer die kos waarmee sy grootgeword het. Ná ’n moeilike jaar wou sy iets vir haarself aanpak en haar familie se kookerfenis verder uitdra. Kokkedoor: Klassiekhet haar die geleentheid gegee om daardie liefde opnuut te ontdek.
Sy het as jong vrou al van ’n sjefloopbaan gedroom, maar die pad daarheen was nie reguit nie. Karen het uiteindelik haar plek in die bedryf gevind en dekades se kennis opgebou. Vandag is sy die vrou agter Sout van die Aarde-speserye in Swellendam en droom sy daarvan om haar kookskool se deure weer oop te maak.
Karen is getroud met Henno, ma van David en ouma van Kylie. Haar eie ma en ouma het haar liefde vir kos sterk gevorm, terwyl haar pa buite gekook, gebraai en potjiekos gemaak het. Daardie invloede bly sigbaar in haar liefde vir geurige kos, al is haar aanslag soms waaghalsig.
Kleur is vir haar belangrik – op die bord én buite die kombuis. Sy skilder graag om te ontspan en geniet dit om nuwe idees te beproef. Sy deel ook haar kennis geredelik met ander en glo ’n mens is nooit te oud om te leer nie.
As sy ’n gereg moet kies wat haar verteenwoordig, is dit sjokoladefondant: ferm buite en baie sag binne. Voorbereiding is hier deurslaggewend.
Karen bring ervaring na ’n span en wil hê albei spanlede moet idees deel. Sy hoop kykers sien haar deursettingsvermoë, deernis en hernude lus om te kook raak.
Maradine Whitehorn | Kinkelkok
- Ouderdom: 44
- Van: Fourways, Johannesburg, Gauteng
- Beroep: Privaat sjef
Maradine Whitehorn kan net so opgewonde raak oor ’n parfuumbottel as oor ’n nuwe gereg. Die manier waarop geure saamgestel word, die ontwerp van die bottel en die afgeronde eindproduk boei haar. Haar loopbaan sluit ook fotografie en fotojoernalistiek in.
Kos het egter van vroeg af ’n groot plek in haar lewe ingeneem. Sy het op ’n plaas grootgeword, waar haar ma, die familie en die groentetuin haar herinneringe gevorm het. Daar was altyd mense, en kuier het telkens om kos gedraai. Later het reis en restaurantbesoeke haar smaak verder verbreed.
Sy kry ewe graag inspirasie by ’n deftige restaurant in Sandton as by ’n klein viskafee aan die Weskus. Nuwe ontdekkings hou haar aan die beweeg. Sy wil proe, eksperimenteer en iets van haar eie skep. Maradine het voorheen die restaurant Seisoen bedryf en in 2018 aan My Kitchen Rules deelgeneem.
Vandag werk sy as privaat sjef en woon sy in Fourways saam met haar vrou, Shannon, en hul dogter, Evie Leigh. Sy beskryf haarself as liefdevol, energiek en altyd gereed om iets nuuts aan te pak. Mense, en die gevoel om deel van iets te wees, beteken vir haar baie.
Haar speelse keuse van ’n gereg wat haar verteenwoordig, is panna cotta: Dit beweeg en bewe, maar bly bymekaar. In ’n besige kombuis dink en werk sy vinnig en waardeer sy ’n spanmaat wat oop is vir nuwe idees.
Kokkedoor: Klassiek was lank op haar wenslys. Nou wil sy wys wat sy kan doen en haar liefde vir kos én mense deel.
Zani Bormann | Kinkelkok

- Ouderdom: 44
- Van: Linden, Johannesburg, Gauteng
- Beroep: Tuisteskepper met ervaring as patisseriesjef en produkontwikkelaar
Zani Bormann het al in professionele kombuise gewerk en produkte ontwikkel, maar die afgelope paar jaar het haar gesin eerste gekom. Met Kokkedoor: Klassiek maak sy weer plek vir ’n uitdaging van haar eie. Sy wil meer leer, haarself toets en die vreugde van kosmaak opnuut ervaar.
Sy en Reinald woon in Linden. Sy is die ma van Muller en Christiaan, en “bonusma” van Reinald se kinders, Heinrich en Karin, uit ’n vorige huwelik. Die versorging van haar jongste, wat outisties is, het haar geleer om die klein treetjies vorentoe raak te sien. Sy wil ook vir haar oudste wys dat ’n mens kan aanhou probeer en nuwe dinge aanpak, selfs wanneer die lewe moeilik raak.
Haar kos-agtergrond is ryk aan familieherinneringe. Haar ma het ’n restaurant in die Vrystaat gehad, haar oupa het uie gepiekel en sult gemaak, en spesiale geleenthede het dikwels ’n restaurantbesoek ingesluit. Sout, soet en suur bly belangrike boustene van haar kookstyl.
Haar professionele pad het haar onder meer na Ellerman House en die V&A Hotel geneem, met produkontwikkeling by NetFlorist en Pick n Pay. Tog beskryf sy haar kos eenvoudig as trooskos met ’n bietjie avontuurlus.
Buite die kombuis speel Zani graag padel en lees sy langs die krieketveld. Sy erken dat sy nie ’n goeie pokergesig het nie en eers later in die oggend sal sy werklik begin babbel.
Botterhoender is haar keuse om haarself te beskryf: warm en sag maar met ’n skop.
Sy bring lojaliteit en humor na ’n span en waardeer eerlikheid. Haar uitgangspunt is dat vooruitgang belangriker as volmaaktheid is.
Janie Lottering | Kinkelkok

- Ouderdom: 36
- Van: Gqeberha, Oos-Kaap
- Beroep: Kulinêre konsultant
Janie Lottering het op vier begin beskuit bak en op agt haar eerste kookboek gekry. Kos was vroeg reeds ’n bron van nuuskierigheid – van teepartytjies en basaars tot haar pa se Sondagbraaie.
Toe kosprogramme haar wêreld groter maak, wou sy self ontdek wat alles in ’n kombuis moontlik is.
Sy het in Oudtshoorn met twee broers grootgeword en later ’n loopbaan in restaurante en op wynplase gebou. Haar ervaring sluit La Colombe, ’n hoofsjefpos by Savages Fine Food en vier jaar oorsee in. Sy het ook gasvryheidsbestuur studeer. Kos en gasvryheid hoort vir haar bymekaar.
Ná die geboorte van haar dogter, Zoe-Jane, het sy haar beroep vir ’n tyd op ys gesit om op ma-wees te fokus. Haar man, JP, het haar aangemoedig om vir Kokkedoor: Klassiek in te skryf. Dit was ’n kans om weer haar plek in die koswêreld te verken en haar kreatiwiteit uit te leef.
Janie speel gholf en klavier en het groen vingers. Plantvermeerdering – die kuns en wetenskap om nuwe plante uit bestaande plante te kweek – is ’n groot belangstelling. Musiek is ook deel van haar lewe. As kind het sy op stil Sondagmiddae met haar pa se groot oorfone na sy plate geluister en oor haar toekoms gedroom.
In die kombuis beskou sy ’n wit bord as ’n doek waarop sy met bestanddele kan werk. Sy geniet fyn afronding, maar wil hê haar kos moet ook herinneringe skep.
Janie bring aanpasbaarheid en kalmte na ’n span. Sy waardeer iemand wat idees, vrae en insette deel, en hoop haar deelname moedig jong mense aan om nostalgiese Suid-Afrikaanse kos op nuwe maniere te laat voortleef.
Paul Theron | Kinkelkok

- Ouderdom: 44
- Van: Durban, KwaZulu-Natal
- Beroep: Sjef
Paul Theron se kosreis het hom van Kaapse hotelkombuise na luukse skepe en klubs in Amerika geneem. Tog begin sy verhaal by sy ouers en die gemeenskap waarin hy in Mitchells Plain grootgeword het. Daar het hy gesien hoe ’n maaltyd mense kan voed, bymekaarbring en ’n gevoel van behoort kan gee.
Sy loopbaan het by die Ritz Hotel in Seepunt begin, gevolg deur ’n soussjefposisie by The Bay Hotel. Reis het mettertyd nuwe bestanddele en invloede by sy kinderherinneringe gevoeg. Met ’n Duitse pa en ’n Indiese ma is kos ook vir hom ’n manier om sy eie identiteit te verken.
Vandag woon hy in Durban en deel sy lewe met Lerushca Smit. Sy het hom aangemoedig om vir Kokkedoor: Klassiekin te skryf, ’n stap buite sy gemaksone. Die twee Bullmastiffs, Bella en Tramp, het ook ’n belangrike plek in sy lewe.
Paul geniet langplankry, ure langs die strand deurbring, fotografie en tyd in die natuur. Sy tuin is ’n projek waarop hy trots is, veral wanneer die voëls en bye kom kuier. Hy luister graag na ouer mense se stories, want hy koester die kennis wat andersins maklik verlore kan gaan.
In die kombuis is hy reguit, prakties en op sy beste wanneer daar vinnig gedink moet word. Wedersydse respek en duidelike kommunikasie is vir hom noodsaaklik – ’n span se werk moet bymekaar uitkom.
Sy deelname het sy belangstelling in erfeniskos en streekgeure versterk. Paul wil bekende geregte met respek vir hul oorsprong verder ontwikkel. Hy hoop sy kos laat mense stilstaan, iets onthou en die oomblik saam geniet.
Kokkedoor: Klassiek begin Donderdag 5 November om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.







