Menu terloops
In Sepies [16 Sep 2026]

’n Pragtige rok, maar ’n gebroke hart: Frankie en Justin se rampspoedige ‘Suidooster’-troue


“Op haar troudag was Frankie se kop baie deurmekaar,” sê die aktrise Mienke Ehlers oor haar ‘Suidooster’-karakter.

Deur Redaksie
’n Pragtige rok, maar ’n gebroke hart: Frankie en Justin se rampspoedige ‘Suidooster’-troue

Die Suidooster-karakters Frankie en Justin se langverwagte troue Woensdagaand (16 September) het hartseer geëindig toe sy op die laaste nippertjie kop uitgetrek het. Vir Justin sou dit die begin van hul lewe saam wees, maar vir Frankie was dit die oomblik waarop sy haar hart, en nie haar verstand nie, moes volg.

Dié episode was ’n keerpunt in ’n verhouding wat van speelse flirtasie tot ernstige trouplanne gegroei het.

Iets aan die broei…

Dit het die afgelope tyd in dié kykNET-sepie duidelik geword dat daar gewis iets meer tussen Frankie (Mienke Ehlers) en Riaan (Daniel Coetzee) aan die broei is. Hoewel sy lief is vir Justin (Eden Classens), het haar aangetrokkenheid tot Riaan haar onsekerheid oor haar komende huwelik verdiep.

“Op haar troudag was Frankie se kop baie deurmekaar,” sê Mienke oor haar karakter. Volgens haar is Frankie se emosies oorheers deur “twyfel, vrees en angs”.

Justin het met heel ander verwagtinge by die kerk opgedaag.

Suidooster Justin en Frankie troue
Oomblikke voor Frankie haar troue gestop het. Foto’s: Verskaf

“Hy het haar beslis gesien as sy droomvrou met wie hy die res van sy lewe wou spandeer,” sê Eden oor die storielyn. Nadat Frankie aanvanklik gesê het sy is nie gereed vir die huwelik nie, het haar latere besluit om wel te trou, hom opgewonde gemaak. Hulle wou saam ’n toekoms bou.

Die beplanning en spoggerige trouklere het min van die naderende hartseer verklap.

Suidooster Justin en Frankie troue
“Hy het haar beslis gesien as sy droomvrou met wie hy die res van sy lewe wou spandeer,” sê Eden oor die storielyn.

Frankie het ’n noupassende, ivoorkleurige trourok deur die Kaapse mode-ontwerper Natalia Trisolino gedra, terwyl haar strooimeisies, Angie (Char Carrie) en Zoë (Lauren Joseph) se rokke, met ’n blomontwerp, van D’Vida Exclusives was.

Toe Ruiterbosch, die fiktiewe Kaapse woonbuurt waar die reeks afspeel, se pastoor, Siya (Gantane Kusch), gevra het of iemand beswaar het, het Frankie omgedraai en volgens Mienke was dit ’n bewys van hoe verdeeld haar karakter was: sy het gehoop iemand sou ingryp, maar terselfdertyd gevrees dat dit sou gebeur.

Uiteindelik was die besluit om die troue te stop haar eie.

Koeël deur die kerk

Suidooster
Justin het aanvanklik geglo hulle kon dinge uitpraat, maar vir Frankie was die koeël deur die kerk, en het sy besluit om eerlik met hom oor haar gevoelens te praat.

Volgens Eden was Justin se aanvanklike reaksie net algehele verwarring. Hul vriende en familie was daar, hulle sou hul lewe aan mekaar verbind, en skielik het alles tot stilstand geruk.

Justin het aanvanklik geglo hulle kon dinge uitpraat, maar vir Frankie was die koeël deur die kerk, en het sy besluit om eerlik met hom oor haar gevoelens te praat.

“Dit was ’n emosionele keerpunt en die oomblik van waarheid vir beide,” sê sy. “Vir Frankie was dit eerder ’n ontlading as ’n klimaks.”

Die paartjie se verlede het die tonele nog meer aangrypend gemaak.

“Hul verhouding het met tergery en gelag begin, en hulle het mekaar se sin vir humor regtig geniet,” sê sy. “Hulle was beslis beste vriende.”

Eden het die verhouding tussen Justin en Frankie se natuurlike evolusie waardeer. Die gedeelde vreugdes en uitdagings het die karakters laat groei en hul verbintenis geloofwaardig gemaak.

Vir hom was dit belangrik dat kykers hul eie ervarings in Justin se reaksies kon herken, veral hoe liefde vir iemand maklik daartoe kan bydra dat waarskuwingstekens misgekyk kan word.

“Die mense wat Suidooster kyk, is regte mense met werklike ervarings,” sê hy. “Jy wil hê hulle moet ’n verbintenis met ’n karakter of ’n situasie kan voel.”

Dit is ook nie die eerste keer dat ’n bruidegom in Suidooster voor die kansel gelaat word nie. 

In Augustus 2016, tien jaar gelede, was dit Nicci (Gerwen Simon) wat haar troue met Tim (Marco Spaumer) gestop het nadat sy besef het dat sy ware gevoelens vir Rhafiek (Irshaad Ally) het toe sy hom by die kerk sien instap. Sy en Rhafiek het daarna ’n verhouding aangeknoop, terwyl ’n woedende Tim op wraak uit was.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
6

‘Suidooster’ in September: Skokke, geheime en verraad vier hooggety

Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word vandeesmaand in 'Suidooster' telkens op die proef gestel. Hier is ses groot storielyne wat jy in September moet dophou.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-gids vir September 2026

Lily en Ruan is gebroke en Christine se verlede haal haar in. Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir September 2026

Nazeem is ’n doring in Bridgette se vlees en Frankie en Riaan het ’n moeilike gesprek. Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in September kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies