September in Boskruin bring hartseer, gevaarlike geheime en plofbare drama. Terwyl die gemeenskap steier onder ’n tragedie word vertroue gebreek en verhoudings op die proef gestel. Boonop dreig ’n nuwe persoon in Boskruin met nog drama…
Hier is vyf groot kinkels waarna Diepe Waters-kykers hierdie maand kan uitsien:
Skokgolwe tref vir Gys en Boskruin
Die maand begin in die skadu van ’n donker tragedie wat Gys diep raak. Terwyl die rou sy tol eis, sukkel sy geliefdes om hom te bereik. Kan Gys homself regruk voor hy ’n besluit neem wat sy lewe vir altyd verander?
Karla se ingewikkelde web van geheime
Karla loop op baie dun ys. Sy word verteer deur skuldgevoelens oor keuses wat sy weet verkeerd is, en haar geheime dreig om haar verhoudings met Arno, Sanet en haar naaste vriende te vernietig.
Rossouw: Van internetsensasie tot ’n geheime sending
Rossouw is op ’n emosionele wipwarit! ’n Onverwagse oomblik verander hom oornag in ’n internetsensasie, maar die kollig sny diep. Kort daarna neem hy ’n ingrypende besluit, en vertrek op ’n geheime sending.
Nuwe inligting en gevaarlike speletjies
Die druk neem toe wanneer belangrike inligting oor ’n donker misdaad na vore kom. Terwyl Jenna deurslaggewende leidrade hou, is Fouché besig om ’n gevaarlike speletjie agter geslote deure te speel.
’n Sjarmante nuweling met verborge motiewe
Net toe almal dink dinge bedaar, daag ’n nuwe gesig in die dorp op. Gihan, ’n sjarmante nuwe winkelsentrum-eienaar, maak vinnig vriende in Boskruin. Maar wanneer hy ’n geheim van Zelda uitvind, verander sy fokus heeltemal. Wat soek hy regtig, en watter nuwe probleme gaan hy bring?
Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144).