Dié week is verskeie karakters by ’n kruispad waar een besluit hul toekoms vir altyd kan verander. Terwyl sommige gereed is om ’n nuwe hoofstuk te begin, sukkel ander om van die verlede los te breek. Van ongemaklike verrassings tot oomblikke wat jou hardop gaan laat lag – ons sepies wys weer hierdie komende week dat die grootste kinkels gewoonlik kom wanneer jy dit die minste verwag.
Lees ons sepievoorskou vir meer oor die drama wat vandeesweek op die kassie uitspeel.
Suidooster
Frankie (Mienke Ehlers) en Justin (Eden Classens) is hierdie week gereed om ’n groot stap te neem, maar ek is een van daardie mense wat glo dat wag soms die beste besluit is. Ek hoop regtig hulle kies om nie oorhaastig op te tree nie, want hierdie storielyn voel nog lank nie klaar geskryf nie.
Kate (Annelisa Weiland) word ná ’n skokkende voorval gedwing om tussen haar kop en haar hart te kies. Maak nie saak wat sy besluit nie – iemand gaan seerkry. Ek was eerlikwaar stomgeslaan toe sy nie haar eie seun verdedig nie. Ná die onthullings van die afgelope week verstaan ek heeltemal hoekom mense haar optrede bevraagteken. As dit nie genoeg is nie, het sy reeds gesien hoe iemand hul goed pak en loop.
Zahra (Caitlyn Haywood) dink sy is oud genoeg om volwasse besluite te neem, maar dié plan blaas behoorlik in haar gesig op. Ongelukkig raak die gevolge veel meer mense as net haarself… Ek vermoed hierdie is nog net die begin van haar moeilike pad.
Intussen sien Ruiterbosch uit na ’n groot opening. Ek weet nog nie of dit ’n reuse-sukses of ’n totale flop gaan wees nie, maar ek gaan beslis kyk hoe dit uitspeel.
Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up en DStv Stream.
Binnelanders
Ella (Marlee van der Merwe) moet uiteindelik die gevolge van haar dade dra, maar Joe (Roberto Kyle) is glad nie bereid om die uitkoms te aanvaar nie. En eerlikwaar? Ek neem hom nie kwalik nie. Ella het al meer lewens as ’n kat gehad en in ’n stadium moet ’n mens tog verantwoordelikheid daarvoor aanvaar.
Sy probeer desperaat bewys dat sy steeds ’n goeie dokter én ’n goeie mens is, maar haar optrede maak dit al moeiliker vir ander om haar te glo. Hierdie keer raak dit selfs ’n pasiënt se sorg en ek weet nie of sy hiervan gaan herstel nie.
Tracy (Melinda Viljoen) besef intussen dit is tyd om aan te beweeg, maar net toe sy dink sy weet waarheen haar lewe op pad is, wag daar ’n verrassing wat my mond laat oophang het. Ek weet nie wat dit beteken nie, maar ek is beslis nuuskierig.
Johan (Gustav Gerdener) se verlede begin hom ook inhaal. Ek wonder net hoe lank hy nog sy geraamtes in die kas gaan kan hou.
Nuwe episodes van Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Daar is ook elke aand ’n herhaling van die episode om 23:30, asook Dinsdag tot Vrydag om 08:30.
Skemergrond
Ná verlede week se troue is dit tyd vir groot veranderinge in Gemoedsdrift, maar nie almal pas ewe maklik by hul nuwe werklikheid aan nie. Tillie (Deirdre Wolhuter) speel met vuur en ek dink nie ’n huwelik behoort op geheime gebou te word nie. Sy moet haar man eerder vroeër as later die waarheid vertel. Al verstaan ek nogal hoekom sy eerder op die plaas as in die hotel wil wees!
Dit sorg darem vir een van die snaakste oomblikke van die week. Tillie beland in ’n ongelooflik ongemaklike situasie en ek kon nie ophou lag nie. Iets sê vir my dit gaan beslis nie die laaste keer wees nie.
Gloria (Hunter Plaatjies) hou intussen ’n klein geheim. Ek moet erken, ek bewonder haar talent, maar die speletjie raak nou gevaarlik. Soms is onskuldige pret glad nie so onskuldig soos dit lyk nie en ek hoop dit kos haar nie haar verhouding nie.
Daar is ook ’n nuwe, maar bekende gesig in Gemoedsdrift wat meer as een persoon op hul tone hou. Alles dui daarop dat ’n groot konfrontasie op pad is. Gryp maar solank die popcorn, myne staan reeds reg.
Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.