Menu terloops
In Sepies [1 Aug 2026]

‘Suidooster’ in Augustus: Geheime, skandes en groot besluite


’n Gesin word deur ’n ontstellende moontlikheid uitmekaar geruk, jong liefde maak ’n gevaarlike draai in die kuberruim, en trouklokkies dreig om ou wonde diep oop te kloof. Hou dié ‘Suidooster’-storielyne vandeesmaand dop.

Deur Redaksie
‘Suidooster’ in Augustus: Geheime, skandes en groot besluite

Augustus gaan die lewe in Ruiterbosch, die fiktiewe Kaapse woonbuurt waar die kykNET-sepie Suidooster afspeel, behoorlik op sy kop draai wanneer ongemaklike vrae oor familie, identiteit en lojaliteit al hoe moeiliker raak om te ontduik.

Kykers moet veral uitkyk vir dié vyf storielyne in Augustus:

1

Kate se familiekrisis verdiep

Suidooster in Augustus
Kate (Annelisa Weiland) se soeke na antwoorde neem ’n ingrypende wending. Foto’s: Skermgrepe

Kate (Annelisa Weiland) se soeke na antwoorde neem ’n ingrypende wending wanneer Lendré (Luan Jacobs) al hoe meer deel van haar lewe word. Terwyl sy wil glo dat sy uiteindelik die ontbrekende stuk van haar verlede gevind het, kan Riaan (Daniel Coetzee) nie daarin slaag om sy wantroue af te skud nie.

Wanneer daar geraamtes in Lendré se kas begin ratel, moet Riaan nie net sy plek in Kate se huis bevraagteken nie, maar ook alles wat hy nog altyd oor homself en sy familie geglo het.

En as Nazeem (Irvine van der Merwe) boonop in Lendré se verlede begin snuffel, word die vrae net meer. Is Lendré werklik wie Kate hoop hy is? En wat gaan die waarheid hierdie familie uiteindelik kos?

2

Zahra se jong liefde word ’n kuber-nagmerrie

Suidooster in Augustus
’n Intieme foto van Zahra (Caitlyn Haywood) word op ’n geselsgroep versprei.

Wat aanvanklik as jaloesie en ’n gevaarlike spel tussen Zahra (Caitlyn Haywood), Carlo (Jadon Booysen) en Fabian (Logan Cornelius) begin, neem dit ’n donker wending wanneer ’n intieme foto van Zahra op ’n geselsgroep versprei word.

Zahra hou vol dat die foto vals is. Dan beland Carlo in die spervuur en selfs die polisie begin vrae vra. Lee-Ann (Portia Joel) staan by haar seun, terwyl die Samsodiens woedend is en Zahra desperaat probeer om haar stem te laat hoor.

Terwyl die tieners na bewyse soek, raak die gevolge al hoe ernstiger. Wie sit werklik agter die foto – en kan die skade aan hul reputasie en verhouding ooit herstel word?

3

Trouklokkies of bloedrooi waarskuwingsklokke?

Die skeur tussen pa en dogter, Mike (Anrich Herbst) en Frankie (Mienke Ehlers) vererger wanneer nie een van hulle bereid is om eerste kop te gee nie. Te midde van dié familiekonflik neem Frankie en Justin (Eden Classens) ’n skielike en lewensveranderende besluit oor hul toekoms.

Justin probeer die vrede tussen pa en dogter herstel, maar Mike se trots en Frankie se seerkry staan vierkant in die pad. Intussen laat Riaan se eie familiekrisis emosies opvlam wat sake nóg ingewikkelder kan maak.

Kan Frankie met haar lewe voortgaan sonder om haar verhouding met haar pa – óf iemand anders se hart – onherstelbaar te beskadig?

4

Amanda moet haarself herontdek

SUIDOOSTER, Amanda
Amanda (Lindie Strydom) moet opnuut oor haar toekoms besin.

Amanda (Lindie Strydom) se professionele toekoms word skielik onseker wanneer sy ontstellende nuus oor haar boeke kry. ’n Onverwagse aanbod van Radio Dassie bied moontlik ’n nuwe begin, maar aanvanklik beskou sy dit eerder as ’n belediging as ’n geleentheid.

Mike het intussen sy eie planne vir die radiogolwe en dit lei tot ’n onverwagse gebaar en ’n paar misverstande. Sal Amanda tóg wel haar trots kan sluk en ’n nuwe stem vind?

5

Zoë speel met vuur wanneer ’n nuwe man haar oog vang

Die nuwe argitek by JPD, Pieter (Dean Olivier) trek dadelik Zoë (Lauren Joseph) se aandag. Dit bring egter ’n groot komplikasie mee, en die vraag is of Zoë haar vingers gaan verbrand.


Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up en DStv Stream.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

12

Wat om te kyk: 12 Afrikaanse reekse om nou te stroom

Van die rillerreeks ‘Donkerbos’ en 'Ontwaak' tot die bekroonde 'Koek' en 'Wyfie' – hier is ons keur van die beste Afrikaanse stories om nou op DStv Stream te kyk.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Binnelanders’-kykgids vir Augustus 2026

Die waarheid oor ’n dokter lei tot ’n dramatiese wending en Joe is desperaat om vrae oor sy identiteit te beantwoord. Dít en nog meer is wat op ‘Binnelanders’-kykers vandeesmaand wag.

Meer

Jou ‘Diepe Waters’-kykgids vir Augustus 2026

Jacques en Theresa se groot dag breek aan, terwyl Karla en Arno nie tot ’n vergelyk kan kom nie. Hier is waarna 'Diepe Waters'-kykers in Augustus kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies