Menu terloops
In Gons [2 Aug 2026]

‘Kwêla’ se Dorp van die Jaar: Hier is die wendorp!


‘Kwêla’ se Dorp van die Jaar-kompetisie was vanjaar kop aan kop tot reg aan die einde, maar uiteindelik het Hartbeespoort as wenner uit die stryd getree. 

Deur Redaksie
‘Kwêla’ se Dorp van die Jaar: Hier is die wendorp!

As jy wil hê almal van die Kaap tot in die noorde van Namibië moet brand om jou dorp te besoek, moet jy eenvoudig die Kwêla Dorp van die Jaar-kompetisie wen. Maar om te wen is nie so eenvoudig nie. Die kompetisie is elke jaar straf, en vanjaar was geen uitsondering op daardie reël nie.

Hannes van Wyk, die aanbieder van Kwêla, sê dit was kop aan kop tot reg aan die einde. Om die wenner uit die nege finaliste aan te wys was vanjaar besonder moeilik. Vra maar vir diegene wat deur die sowat 120 000 stemme moes werk en tel.

Die wendorp

Hannes het groot lof gehad vir die uitstekende pogings wat aangewend is met die dorpe se inskrywings. Maar daar kan ongelukkig net een wenner wees.

En vanjaar se Kwêla Dorp van die Jaar-wenner is Hartbeespoort, aan die voet van die Magaliesberge. 

Adri Louw van Proudly Harties kon nie uitgepraat raak oor hoe goed die gemeenskap van hierdie dorp bymekaargekom het nie. “Dit was eintlik vir ons ’n wonderwerk,” het sy gesê. En daar is (stilweg) fees gevier toe die oproep van Kwêla hulle na Kaapstad ontbied het. 

Mauritz du Preez van Hartbeespoort se toerisme-vereniging het vertel hoe hulle die gemeenskap gemobiliseer het – van die kerke tot die skole en almal tussenin. Maar, het hy gesê, dit was nie net die dorp se mense wat gestem het nie. Selfs vanuit Gauteng en die res van Noordwes het hulle ongelooflike steun geniet.

Adri en Mauritz het ook meer vertel oor Proudly Harties, wat die afgelope 18 maande reeds aan die gang is. Dit het begin met ’n groep mense wat ’n verskil aan die dorp wou maak. En sedertdien maak hulle die dorp skoon, veiliger en help dat dit beter funksioneer.

Dorpies deel hul passie

Dis vanjaar reeds die vierde jaar wat Lottoland SA by hierdie kompetisie betrokke is, en soos Maryke Hayward, bemarkingsbestuurder van Lottoland SA, aan Hannes verduidelik het, is dorpies deel van hul passie. Daarom ondersteun hulle graag Kwêla se Dorp van die Jaar-kompetisie.  “Dit gaan ook oor trots – en elke mens wil tog trots wees op sy eie dorp,” het sy gesê. 

Natuurlik wil hulle dan ook hul dorp met trots met die res van die land deel.

Waldimar Pelser, M-Net-direkteur van Premium-kanale, het daarop gewys dat daar deurentyd nuusberigte is oor hoe sleg dit op die platteland gaan. Maar wat hom moed gee, is dat daar dorpe is wat besluit hulle gaan nie deel van die neerdrukkende statistiek word nie. Inteendeel, hulle wil juis hoop uitdra en sorg dat mense tog wel op die platteland aanbly. “Wat my so opgewonde maak oor hierdie projek, is dat mense weier om hul lot net passief te aanvaar en sê, ‘ons gaan ’n verskil maak aan hierdie dorp’,” het hy gesê. 

Daarmee het hy ook die lyn deurgetrek na die kykers van Kwêla en gesê hulle is die mense wat nie net terugsit en wag tot iets vir hulle gedoen word nie. Hulle kry dinge gedoen.

Hartbeespoort se prys

Die prys is R1 miljoen van Lottoland SA, kykNET-lugtyd ter waarde van R1 miljoen en dan daardie moeder van alle makieties wat wag.

Planne is daar reeds gemaak vir die Lottoland-geld. Die regmaak van die damwal se verkeerslig is sommer eerste op die lysie. Die groen gebiede gaan ook verder ontwikkel word, en daar gaan meer straatligte geïnstalleer word om die donkerte te verdryf en die dorp veiliger te maak.

Met die kykNET-lugtyd tot hul beskikking gaan daar gefokus word op toerisme in die gebied, want dit is die enigste werklike bedryf in die dorp. En daai makietie? Daarvoor kan hulle nie wag nie!

2026 se topvier

  1. Hartbeespoort  
  2. Gansbaai 
  3. Secunda  
  4. Howick  

2026 se nege finaliste

  1. Hopetown (Noord-Kaap)
  2. Gansbaai (Wes-Kaap) 
  3. Secunda (Mpumalanga)
  4. Keimond (Oos-Kaap)
  5. Howick (KwaZulu-Natal)
  6. Gobabis (Namibië) 
  7. Bethlehem (Vrystaat) 
  8. Mokopane (Limpopo)
  9. Hartbeespoort (Noordwes/Gauteng)

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

12

Wat om te kyk: 12 Afrikaanse reekse om nou te stroom

Van die rillerreeks ‘Donkerbos’ en 'Ontwaak' tot die bekroonde 'Koek' en 'Wyfie' – hier is ons keur van die beste Afrikaanse stories om nou op DStv Stream te kyk.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Binnelanders’-kykgids vir Augustus 2026

Die waarheid oor ’n dokter lei tot ’n dramatiese wending en Joe is desperaat om vrae oor sy identiteit te beantwoord. Dít en nog meer is wat op ‘Binnelanders’-kykers vandeesmaand wag.

Meer

Jou ‘Diepe Waters’-kykgids vir Augustus 2026

Jacques en Theresa se groot dag breek aan, terwyl Karla en Arno nie tot ’n vergelyk kan kom nie. Hier is waarna 'Diepe Waters'-kykers in Augustus kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies