Menu terloops
In Recaps [21 May 2026]

‘In die sop: Gastehuisrevolusie’: Daar waar die peperboom noord wys 


In die vyfde episode van ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’ was Die Kuierhuis, in die hartjie van die Vrystaat, in die span se visier.

Deur Annelene Oberholzer
‘In die sop: Gastehuisrevolusie’: Daar waar die peperboom noord wys 

Verlede week het die In die sop: Gastehuisrevolusie-span binne drie dae hul Bethulie-veldtog uitgevoer. Maar hierdie week, het hul Vrystaat se kant toe gemik. “Waar op aarde gaan ons heen?” het reeksaanbieder Janie du Plessis gewonder toe hulle die tweespoorpad weg van die glinsterende, swart N1 na hul bestemming geneem het. Dit het gelyk of dié grondpad reguit die vlaktes in loop.

“Die Kuierhuis is in die hartjie van die Vrystaat, naby Ventersburg,” het die eienaar van dié gastehuis, Amanda Louw, verduidelik.

“Dit is nou nog pure plaas,” het sy hulle verseker. Daar’s Paul die pou, wat die honde se kos steel, hoenders, makoue en kalkoene, wat die werf tot stof skrop, en daardie pragtige peperboom wat meer as ’n 150 jaar oud is.  

“Hy groei na die noorde. So, ’n ou kan sommer sien waar’s noord,” het sy oor dié besonderse peperboom vertel.

Terwyl Amanda op ’n plaas grootgeword het, het haar man, Andries, nie daardie voordeel gehad nie. Hy moes baie vinnig leer wat boerdery alles behels. Maar, soos Amanda opgemerk het, die sleutel tot oorlewing en sukses is om aan te hou beweeg. En dis presies wat sy aanhou doen het nadat Andries oorlede is en die boerdery-inkomste opgedroog het.

Die Kuierhuis se stories

In die sop Gastehuisrevolusie Die Kuierhuis Janie du Plessis
Met Janie se aankoms by Die Kuierhuis, het Amanda haar gou ingelig dat daar baie stories is om te vertel, en veral oor die items wat in die gastehuis te vinde is. Foto’s: Verskaf/Skermgrepe

Janie en haar span moes eers meer oor Die Kuierhuis leer voordat hulle inspring. Dit was natuurlik weer Dirk Jacobs wat vooraf daarheen moes gaan vir ’n “oornagbesoek”, oftewel ’n spioenasie-missie. Hy’s aan stuur van sake by 21 Nettleton – een van Kaapstad se mees eksklusiewe boetiekhotels – en hy weet wat werk en wat nie werk nie. 

Met Janie se aankoms, het Amanda haar gou ingelig dat daar baie stories is om te vertel, en veral oor die items wat in die gastehuis te vinde is. En ja, sy wil haar storie lewend hou. Janie het Amanda egter laat besef sy kan nie net aan die verlede vashou as sy verandering wil hê nie en het toe die perseel self verken.

“Ek voel ek is in ’n bordeel – in die middel van die Vrystaat,” het dit van Janie gekom toe sy die rooi fluweellap op die bank in een van die selfsorgeenhede gewaar het. En “o, gaats” het onwillekeurig uitgeglip toe sy die plonspoel/swembad by dieselfde eenheid ontdek het…

Janie se kop was ’n warboel nadat sy deur al die eenhede gegaan het. Sy moes duidelik hulp invoer Vrystaat toe – en dit was Griki Lubbe, dekorkenner. Maar nie eens Griki kon die ramp keer wat byna alles omver kom gooi het nie. 

’n Onverwagte donderstorm het losgebreek, die werksaamhede met minstens twee uur vertraag en die grondpad verander in “chocolate mousse”, soos een kuiergas dit beskryf het. Diensverskaffers het in die modder vasgeval, en verskeie ritte na Johannesburg en Welkom het gevolg om benodighede aan te koop. 

Dit kon egter nie ’n groep kundiges en knap hande stuit nie, maar ’n paar kragwoorde is hard laat val.

Meer oor Amanda en die storie agter Die Kuierhuis:

Hierdie is jul familieplaas. Is dit waar jou liefde vir die plaas vandaan kom? Waar het jy grootgeword?

“Ja, die plaas is reeds geslagte lank (aan my ma se kant) in die familie. Ek self het in Hertzogville op ’n plaas grootgeword, maar gereeld by oupa en ouma Kleynhans op Grootdam kom kuier. 

In die sop Gastehuisrevolusie Die Kuierhuis
Die Kuierhuis is in die hartjie van die Vrystaat, naby Ventersburg.

“In 1995, toe ek en Andries die polisiediens vaarwel toegeroep het, het die land oopgelê en ons het net geweet ons wil nie meer in die stad bly nie. Juis gedurende daardie tyd het dit finansieel baie swaar met my ouers op die plaas gegaan. ’n Deel van Grootdam was my ma se erfporsie. Ons het toe die geleentheid gebruik om die plaas te koop, deels om hulle te help en deels om op ’n plek te kon bly wat wonderlike herinneringe ingehou het. 

“Ná my oupa se dood was die grond aanvanklik in huurders se hande, en die plaashuis het vir 20 jaar leeg gestaan. Daar het baie werk op ons gewag om dit weer leefbaar te maak.”

Hoe lank gelede het julle jul eerste betalende gaste ontvang – en hoe het julle dit ervaar?

“Ons het ons eerste gaste in 1996 ontvang. Dit was ’n groep buitelanders, en dit was ’n wonderlike ervaring. Vandaar het ons treetjie vir treetjie gegroei soos wat ons fondse toegelaat het. Ons wou nooit skuld aangaan nie. 

“Ons is mense-mense en dis vanwaar die gastehuisgedagte gebore is.”  

Elke ding in jou gastehuis het ’n storie. Is daar een item wat jy graag wil uitsonder, en hoekom?

“Daar is soveel. Een van hulle is die foto met Andries se geskiedenis in die SAPD. Dis ’n besonderse herinnering aan die uitdagings wat hy as ’n 13 jaar lange lid van die Spesiale Taakmag moes trotseer.  

“Die twee miniatuurkamele met ’n polisieman op hul rug beteken ook vir my baie. Ek het destyds een van die plaaslike inwoners van Upington gehelp om toestemming te kry vir die maak van die miniatuurbeeldjies. Hy het drie gemaak, maar nadat hy die eerste een verkoop het, is hy vermoor omdat hy die polisie goedgesind was. Sy familie wou daarna niks met ons te doen hê nie. 

“Daai kerkbank in my gang het behoue gebly toe die Engelse tydens die Anglo-Boereoorlog in 1900 die NG Kerk afgebrand het. Dit herinner my aan my oumagrootjie wat met haar klein kindertjies op ’n perde-“trêppie” voor die Engelse moes uitvlug. Hulle het haar nooit gevang nie.

“Ek het ook nog die transportakte van die plaas. Dit is gedateer 1913 en herinner my altyd aan die wonderlike geleentheid om te kon terugkeer na ’n plek vol geskiedenis en onthou. 

“Die peperboom wat noord aandui, is omstreeks 150 jaar oud, en daar het wonderlike kleintydstories en onthou onder daardie merkwaardige boom gestalte gevind.”  

Wanneer het jy besef Die Kuierhuis is in die sop? En hoe het dit vir jou gevoel om uit te reik na die program?

“Ná my man se dood het ek besef daar gaan geen inkomste van die plaas kom nie en dat die gastehuis my moet onderhou vir die toekoms. Daarom moes daar vernuwing kom, want ’n mens kyk mos maar vas teen jou eie foute, en dis moeilik om kundige raad te kry hier op die platteland.  

“Ek het besef my vel sal maar dik moet wees om te hoor van alles wat verkeerd is, maar ek het ook uitgesien na hulp waar mens net kan uitvind wat jy beter kan doen. Ek het besef ek het dit nodig.”  

In die sop Gastehuisrevolusie Die Kuierhuis
Amanda kon haar oë nie glo nie, toe sy sien wat Janie en die res van die In die sop-span vermag het.

Dit was vir jou moeilik om Janie alleen te laat rondstap op die plaas. Het jy tog wel die kans gekry om vir haar te vertel wat jy wou? En hoe het jy haar terugvoer op jou onderneming gevind?

“Om eerlik te wees, ek was maar gespanne, en ek kan glad nie onthou wat ek vir haar vertel het nie. Dus sien ek uit na die program se uitsending om vanuit ’n ander hoek haar kommentaar te hoor.

“Janie se kommentaar het wel vir my baie sin gemaak. Ek het met ’n ander oog na dinge begin kyk. Tog sou ek meer tyd met haar en Griki wou spandeer vir hul raad en menings oor die gedeeltes van die gastehuis wat hul binne die kort tyd nie kon doen nie.” 

Jy was vreesbevange dat die In die sop: Gastehuisrevolusie-span dalk van jou meubels gaan vernietig. Hoe het dit gevoel toe jy tog wel alles in een stuk aangetref het?

“Baie dankbaar! Hulle het die plaasgevoel beklemtoon, wat ek regtig waardeer het. Ek het ook die waarde daarvan besef om elemente van goeie gehalte in te span.”

Watter element van die revolusie het jou die meeste beïndruk of verbaas gelaat? En hoekom?

“Beslis die kombuis van die selfsorgeenheid wat hulle getakel het. Ek het wel gevoel die kombuis was nie reg nie, maar ek het nie geweet hoe om meer ruimte en gemak te skep nie. 

“Dan was daar natuurlik al die luukshede wat dit dadelik in ’n ander liga geplaas het. Goed waarvoor daar nooit voorheen fondse beskikbaar was nie. En ek is ewig dankbaar vir wat daar nou is. Daai kaggel, die dammetjie, die luukse beddegoed, die liggies …

“Ek is ook dankbaar vir die inbring van nuwe tipe produkte, soos dit wat op die stoep se vloer aangewend is. Ons het nie daarvan kennis gedra nie.”

Het jy enige raad vir ander gastehuise wat ook in die sop mag wees, maar dalk nie hierdie kundige span tot hul beskikking het nie?

“My raad aan ander gastehuise is: Vra eerlike opinies van hoe ander mense jou gastehuis sien en wat hulle aanbevelings sal wees. Gebruik wat jy het en moenie skuld maak nie. Spaar tot jy iets kan bekostig om ’n bietjie luukse afwerking te gee. Moet nooit die inpak wat ’n blik verf kan maak, onderskat nie.”

Hoe gaan dit deesdae met Die Kuierhuis?

“Ons het baie hard gewerk om die ander kamers en die tweede selfsorgeenheid op dieselfde standaard te kry. Ons het so ver as moontlik die raad van die In die sop: Gastehuisrevolusie-span probeer volg. Sonder al hul kundigheid en hulp het dit wel baie langer geneem. Ons is nou egter klaar en gereed om ons gaste ná afloop van die episode se uitsending te ontvang. Tot dusver het ons al so baie komplimente gekry.” 

Enige boodskap aan die In die sop: Gastehuisrevolusie-span?

“Wat ’n besonderse voorreg om sulke pragtige mense te kon ontmoet. Baie, baie dankie dat ek die voorreg en eer aangedoen is met die keuse van Die Kuierhuis. En ook vir al die span se kennis, insigte en die finansiële inspuiting.

“Graag nooi ons die span uit om weer ’n draai te kom maak. Net sodat hulle kan sien dat ons na hulle geluister het en wat ons na die beste van ons vermoë gedoen het. Met ons hope kreatiewe planne glo ons regtig dat die span se insette uitgevoer is. Met groot dankbaarheid sien ons uit na ’n nuwe bloeitydperk vir Die Kuierhuis.”


In die sop: Gastehuisrevolusie word Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Die reeks is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

kykNET se nuwe mini-dramareeks is ’n verhaal van verlies, vergifnis en hoop

Twee mans se paaie kruis in ’n ondersteuningsgroep ná die verlies van geliefdes. kykNET se 'Elke donker wolk' verken hoe ’n onverwagse vriendskap ruimte skep vir vergifnis, genesing en hoop.

Meer

Rubriek: Gaan griffel in Ouma se resepteboek! ‘Kokkedoor: Klassiek’ is terug! 

Ná ’n voorskou van die eerste episode laat 'Kokkedoor: Klassiek' vir Marteni Burger verlang na haar ouma se resepte én sien sy uit na nog skeppies nostalgie - met ’n knippie kombuisdrama en verrassende kinkels daarby.

Meer

Van die veld tot die kelder – kuier dié November saam met VIA

Van wildplase en wynkelders tot huise met karakter: VIA se November-aanbod beloof vars ontdekkings. Kuier saam met Shari Kennedy, Leandie du Randt, Frank Rautenbach en JP Quickelberge, en leer ken die mense, stories en plekke wat Suid-Afrika so besonders maak.

Meer

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer
Sien alle opsies