Pak jou tasse en maak gereed vir ’n visuele fees, want die gewilde reisprogram Leef jou Reis is terug op kykNET (DStv-kanaal 144) vanaf Saterdag, 4 April om 19:30.
Gerrie Pretorius gaan kykers neem op ’n ontdekkingstog wat strek van die hartjie van die Karoo tot die ysige uithoeke van Noorweë.
“Reis gaan nie net oor die plekke wat jy sien nie, maar oor die siel van die mense en die stories wat in die mure van antieke geboue vasgevang is,” sê Gerrie. “Of ons nou polenta in Roemenië eet en ’n koue bier in ’n eeue-oue brouery geniet, en of ons die geheime van Japan se neon-strate ontdek – elke oomblik is ‘n herinnering wat wag om gemaak te word.”
In Dracula se voetspore…
Hierdie seisoen neem ons kykers op ’n onvergeetlike reis, wat begin in die hartjie van Roemenië en Transilvanië.
“Ons loop letterlik in die voetspore van Dracula tydens ’n besoek aan die ikoniese 14de-eeuse Bran-kasteel, terwyl ons die verrassende historiese band tussen Koning Charles en hierdie streek ontrafel, vertel Gerrie.
“Boonop kan natuurliefhebbers uitsien na ’n seldsame kykie na die magtige bruin bere wat die Karpatiese berge hul tuiste noem.”
DIe program verken ook die uiterstes van die wêreld – van die Ooste se misterie tot die koue van die Noorde.
’n Draai in die Ooste
In Japan word die sintuie geprikkel deur die kulinêre skatte van Osaka waar selfs die berugte blaasopvis op die spyskaart is. Dit word gevolg deur die rustige atmosfeer van eeue-oue apteke en tuine.
Gerrie verdiep hom verder in die kultuur deur ’n tradisionele tee-seremonie saam met ’n geiko by te woon. Intussen, in Noorweë, trotseer die span temperature van tot minus 40 grade celcius om die Noorderligte te sien en die ryk tradisies van die Sami-mense, Europa se oudste inheemse stam, te leer ken.
Die reis sluit ook klassieke Europese elegansie en prag in. In Londen word daar gekuier in die stad se oudste kroeë, ’n draai gemaak by die koninklike hoedmaker, en selfs agter die mure van Windsor Kasteel geloer.
Local is ook lekker
Terug op Suid-Afrikaanse bodem word die skoonheid van die Karoo gevier. Die span kuier by Antoinette Pienaar op Theefontein om die geheime van veldkruie te ontdek en gaan op ’n belangrike soektog na die hoogs bedreigde oewerkonyn in die Karoo Nasionale Park.
“Ons doel met hierdie seisoen was om die kontraste van die wêreld te wys,” voeg Gerrie by. “Van die tegnologiese wonders van Japan se sneltreine tot die absolute stilte van die Karoo-veld waar jy jou eie hartklop kan hoor. Dis ‘n uitnodiging aan elke kyker om saam met ons die wêreld te herontdek.”
Leef jou reis begin Saterdag 4 April 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.







