Van meet af kon kykers van kykNET se telenovela Diepe Waters sien iets is anders by Liam le Roux (Abel Knobel), die nuwe gesig in Boskruin. Driekampster en topatleet, ja, maar in sy sosiale interaksies, is iets anders aan die gang. Boonop tree hy vreemd op elke keer as hy oor sy geheimsinnige verlede begin praat.
In hierdie week se episodes van Diepe Waters het Liam, en sodoende ook die kykers, uiteindelik hul antwoord gekry: Hy is gediagnoseer met aandaggebrek-hiperaktiwiteitsteuring (AGHS), of die Engelse ADHD in gesprekstaal.
Abel is ook twee jaar terug met volwasse ADHD gediagnoseer, wat vir hom op ’n uiters diep reis na binne geneem het, vertel hy.

Stukkies van die legkaart
Abel se familiegeskiedenis is volop met bipolêre depressie, en hy het sowat tien jaar terug met behandeling daarvoor begin. Dié diagnose en medikasie kon egter nie ten volle strook met Abel se gedrag nie. Dit is eers met sy ADHD-diagnose wat die stukkies van die legkaart reg begin pas het. “Ek kon soveel met Liam se storie vereenselwig. Ek het dit gelees en van die begin af ’n gut feeling gehad dat hierdie rol vir my geskryf is. Ek kan so baie uit my persoonlike en emosionele ervarings vir Liam se vertolking put,” vertel Abel.
“Ek het onmiddellik gevoel daar is ’n groter doel agter die karakter en hoekom ék in sy skoene moes klim. Sodoende kon ek ook my storie, deur Liam, met eerlikheid, deernis en geloofwaardigheid vertel.
ADHD is ’n neurologiese ontwikkelingsteurnis wat gekenmerk word deur deurgaanse patrone van onder meer hiperaktiwiteit en/of impulsiwiteit en/of aandagafleibaarheid.
“Ek het spesifiek in my vertolking van Liam dit van die begin af ’n bietjie duideliker gemaak dat daar iets off-beat met hom is, sodat die verskil groter kon wees wanneer hy gedianoseer word. Ek hoop dit sit dinge in perspektief sodat die storie vir die kykers nou meer sin kan maak en dat hulle hom dalk meer kan vertrou,” voeg Abel by.

Van dié simptome was baie duidelik in Liam se gedrag. Hy sou dikwels homself met oefening ooreis, impulsiewe besluite neem of sy gedagtegang in ’n gesprek byster raak. Dinge bou stelselmatig op totdat die joernalis Bones (Wian Smit) aanhoudend vir Liam oor sy verlede begin pols en Liam hom in die swemklub voor almal aanval.
Dit is duidelik dat Liam nog nie ten volle die skielike dood van sy ma verwerk het nie. Hy voel ook baie skuldig dat sy broer daarna sy eie lewe geneem het. “Dit was ’n baie unieke, maar ook lekker, uitdaging om Liam te speel,” verduidelik Abel. “Ek het besef ek moet hierdie karakter en die storie met sensitiwiteit, empatie en respek hanteer, omdat dit so na aan baie ander mense se stories in ons samelewing is.”
‘Baie liefde’ vir Liam
Wanneer hy deur die tekste moes werk en die storie of emosies te na aan sy eie lewe gevoel het, kon hy, nes Liam, gaan oefen om sy kop skoon te kry. “Om vir die karakter voor te berei en in sy skoene te klim, het vir my baie van myself geleer. Ek het baie liefde vir die karakter ontwikkel,” sê Abel.
In Diepe Waters kies Liam om as openbare figuur bewusmaking te bevorder eerder as om stil te bly. Abel hou ook van dié benadering. “Ek was nog altyd iemand wat my kuns en gawes van bo, hetsy musiek, liedjieskryf of toneelspel, as instrument wou gebruik om ander te help deur middel van my eie verliese en uitdagings,” sê hy.
“Jou storie kan vir iemand anders genesing bring. Daarom voel ek presies dieselfde as Liam. As ek een persoon kan help om die simptome raak te sien, sal dit alles die moeite werd maak.”
Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Diepe Waters is ook op Catch Up beskikbaar.







