Eerlik, pront, pretensieloos, onbeskaamd en onbeskroomd het Frank Opperman sy hart en siel in sy seun, Frankie, se dokkiereeks Frank, blootgelê vir ’n insig in sy lewe wat wys hoekom hy in wese volksbesit is.
Hier is die oomblikke wat my die meeste in die slotepisode aangeraak het:
Frank en Frankie

Terwyl hy sy musiekkamer in Melville moes oppak, het Frank ruiterlik erken dat dit hom emosioneel baie ontstem het. En, net soos in die tweede aflewering van hierdie intieme dokumentêre reeks oor dié veelsydige akteur se lewe, het hy weer deur sy ou VHS-videos gegrawe.
Dis toe einste Frankie – die seun wat nou die dokumentêre reeks oor sy pa vervaardig – wie se knit-one-slip-one-tandjies 31 jaar gelede die skerm gevul het want die tandemuis het onder die outjie se tande gewoel. Maar dit het hom allermins gepla, want hy was in Amerika – en hy het eerstehands die grotte in Amerika gesien waar Batman verfilm is.
“Dis oulik,” het dit van Frankie gekom toe hy gesien het hoe sy jonger self vir pa Frank om die hals val en ’n stywe drukkie gee. Frank se oë het geknipper-knipper teen die trane wat wou kom . . .
Ja, dit was die Hollywood-dae toe Frankie ook ’n akteur wou word – en sy gunsteling held was die pienk Power Ranger.
Dominee Tienie op eBay?
Terwyl Frank deur die bokse met aandenkings gewerk het, het hy op Dominee Tienie se toga afgekom. Dalk kan hy dit op eBay of Facebook Marketplace verkoop, het hy gemymer.
“Aaaa, hierdie outjie. Jy hoef hom net te wys, dan weet mense waarvan jy praat,” het hy laggend opgemerk toe “Ouboet” op ’n hanger uit een van die bokse gelig word. Daai rooi sweetpak met die wit strepe en wit ritssluiter het al ’n lang pad met veral Afrikaanse gehore geloop – en met heruitsendings doen dit nog steeds.
Geliewe Willie en Orkney snork nie
“Willie, ek wil net eerstens net sê ek kan nie dat my seun ’n documentary oor my lewe maak sonder om vir Willie Esterhuizen daar in te hê . . . die eerste mens met wie ek ooit professioneel gewerk het in my lewe,” het Frank sy aankoms by Agterplaas BnB-gastehuis verduidelik.

“Ja, en jy was so goedkoop daai tyd – ek het jou sommer die hele tyd gebruik,” het dit gladweg van Willie gekom, tot groot vermaak van Frank.
Willie het verduidelik dat hy destyds ’n sitcom wou maak omdat The Cosby Show daardie jare so gewild was. En dat familie-komedies goed gewerk het en ook baie gewild was onder kykers. Tog het dit 11 jaar geneem vandat hy die loodsepisode geskryf het tot waar die eerste episode met die Van Tonder-gesin uitgesaai is.
“Toe’s die mense mal oor daai gesin. Want almal ken ’n Ouboet, hulle almal ken ’n Yollie (Sally Campher), hulle almal ken ’n tienerseun (Wimpie, vertolk deur Anrich Herbst) en daai hele familiebesigheid,” het Willie vertel.
En Ouboet? Maklik, het Willie verduidelik. Gaan loer maar net in by enige motorwerkswinkel en daar sal jy iemand soos Ouboet aantref. En dis so maklik om oor hulle te skryf want hulle is onskuldig en hulle werk hard, het hy bygevoeg.
Terwyl die twee hulle verkneukel het in die beeldmateriaal wat hulle van Ouboet en Wors (2017-2018) gekyk het, het Willie vir Frankie vertel hoe trots hy op Frank is. “Hy is die liefling van Afrikaanse televisie.”
Henriëtte de Jager (gebore 11 April 1936)
“My ma, Henriëtte, sy was ’n mooi vrou. Sy’t haar hele lewe lank skoolgehou en haar absoluut afgesloof vir haar twee kinders. As ek nou een fan op hierdie planeet het, dan is dit my ma,” het Frank vertel.

Sy bly deesdae in Huis HJ Piek in Pretoria. En Frank wil hê sy moet vir Frankie die storie van sy geboorte vertel.
Met die groetery was dit duidelik dat sy bitter bly was om vir sowel Frank as Frankie te sien. “Haai, weet julle, vandat hy (Frank) klein is, het hy my tot nou toe altyd drie soentjies wat hy my gee,” het dit van die elegante gryskopvrou gekom.
Frank het vir haar verduidelik dat hierdie dokumentêr oor sy lewe slegs moontlik gemaak is omdat sy altyd alles in lêers en albums gesit het. Tussendeur het sy ook haar eie lewe op papier neergepen, ’n proses wat sy op 87-jarige ouderdom afgeskop het.
Frank se eerste lewenslig
Hy was 16 jaar oud toe hy vir die eerste keer die waarheid oor sy geboorte uitgevind het. En Frank wou hê sy ma moes ook vir Frankie vertel wat destyds gebeur het.
“O, dit was verskriklik,” het sy begin. Sy en Frankie was baie verlief en het verloof geraak. Toe die skok twee maande voor hul troue . . . sy is swanger.
Frank is as gevolg daarvan drie maande “te vroeg” gebore want mense het veral destyds baie graag die kalender dopgehou om vas te stel of die swangerskap fatsoenlik of skandelik sou wees. Toe moes Frank sy opwagting by die Katolieke hospitaal in Johannesburg gemaak, weg van die familie.
Henriëtte en Frankie het hom daar tussen die nonne gelos terwyl die res van die familie salig onbewus daarvan was dat Frank reeds opgedaag het. Maar, vertel Henriëtte, hulle het feitlik elke tweede aand gery om na hul pragtige baba te gaan kyk. “En dan huil ek. Dit was vreeslik,” onthou sy. En sy moes nog boonop voorgee dat sy swanger is. Dis toe dat daar plan gemaak word met ’n kussing-storie om die middellyf.
Die kussing het gebly tot waar dit skoolvakansie was. Toe het sy en Frankie hul Frank gaan oplaai – en sy het hom die hele lang pad Durban toe in haar arms vasgehou. So is Frank wat die res van die familie betref in Durban “gebore”.
’n Volwasse besluit – en pa-wees
In sy tweede jaar het Frank volgens homself ’n “verskriklike volwasse besluit” geneem. En dit was om met Annelie te trou. Die huwelik het toe nie gehou nie en hy bly toe op sy eie in die huis in Mayfair-Wes.
Pa Frankie het met die idee na vore gekom om ’n woonstel onder die huis te bou.
“Daar trek ’n girl daar in. Toe ek weer sien, staan ek en sy voor die landdros in Pretoria.”
Dit was toe Frankie se ma, die bekende aktrise Susan Coetzer. Die twee het nie gras onder hulle voete laat groei nie. Twee maande nadat hulle mekaar ontmoet het, was daardie plegtige troubelofte afgelê. Maar hy het gou vir Frankie vertel dat hy eers ná hul troue in die prentjie gekom het.
“As jy ’n pa word, dan word jy ’n pa. Niemand beplan dit of kan dit vooraf uitwerk nie. ’n Ou word maar net ’n pa, en skielik het jy iets waaroor jy baie, baie omgee.”
Rapport, 10 Mei 1992
Die opskrif bo ’n foto van Frank, Susan en Frankie het dit uitgegil: Ouboet skei! Frank was baie verontwaardig daaroor dat hulle nie eers sy eie naam gebruik het nie.
Hy het ook verduidelik dat hul egskeiding die nuus gehaal het omdat hulle die Saterdagaand elkeen ’n Artes-toekenning ontvang het: Hy as beste akteur vir sy spel as Chris Karedes in The big time en sy as die beste aktrise vir haar spel as Ralie in die TV1-reeks Meester.
’n Kuiertjie by Susan

“Ons is hier, ek het die eksman gebring,” was Frankie se woorde toe hy hul aankoms met Susan gedeel het.
“Oukei, laat ek hom gou vermorsel,” was haar onmiddellike reaksie, tot groot vermaak van die twee manne. Sy het hom wel met ’n watergeweer tegemoet gekom voordat die twee mekaar baie vriendelik gegroet het.
“Jou ma – jy kan haar óf verwyt óf prys – het aanbeveel dat jy met my trou,” het sy Frank ingelig, en toe heerlik gelag toe sy sien hoe Frank se gesig met daai aankondiging geval het. Hy was heeltemal onkant betrap.
Maar Susan het vertel hoe sy dit uitgevind het. Dit was ’n boodskap op die antwoordmasjien wat Frank destyds gehad het. En sy het vir Henriëtte woord vir woord aangehaal: “Frankie, hierdie enetjie moet jy nie deur jou vingers laat glip nie, hoor. Sy kook fantasties.”
En hoe het die bootjie op die rotse beland? Baklei en verby mekaar gelewe het die antwoord gekom, want destyds het werk op die stel maande weg van mekaar beloop.
“Ek het ’n verskriklike lekker verhouding met jou… As ons nie onder dieselfde dak woon nie,” het Susan met ’n glimlag erken.
‘Frankie goes to Hollywood’

Marguarite Robinson het dit so mooi vasgevang in haar koerantartikel wat op 2 Augustus 1993 die lig gesien het: “Opperman gaan nie emigreer nie – hy gaan net vir ’n rukkie ’n banneling word ter wille van die gees”.
En so het hy in 1994 sy tasse gepak vir daardie avontuur, een met ’n jacuzzi op die stoep, ’n deurmekaar slaapkamer, onder andere ’n foto van hom en Frankie en ’n vaalwit 1974-Kewer vir wiele – nogal een wat hy by Arnold Vosloo gekry het nadat die Boetie gaan Border toe!-ster ’n kontrak van miljoene onderteken het.
Om askies en dankie te sê
Frank en Frankie het koers gekies Alberton toe. Hy het sy ou vriend, Arnold Vosloo, gaan opsoek nadat hy hom meer as 30 jaar gelede gesien het. “Ek skuld hom nog ’n groot dankie,” het Frank gesê.
Toe Arnold die hek vir hom oopmaak, was die twee vriende duidelik oorweldig deur die oomblik. En toe onthou Arnold hy het vir Frankie laas gesien rondkruip as ’n eenjarige.
Die wilde weste in Hollywood
Frank het vir Arnold vertel hoe hy van agent na agent gegaan het, baie trots met sy werk op video vasgevang. Maar ai.
Een meisie by ’n agentskap het wel 20 sekondes of so daarna gekyk en toe vir hom gesê dit laat haar aan die slaap raak. Gelukkig het Frank nie gedoen wat hy wou nie – en dit was om haar by die venster uit te gooi…

‘F*k, Frank kry nie ’n tjek nie’
Arnold het vertel wat sy sleutel tot sukses was in Hollywood, selfs nog voor The Mummy (1999) die skerms getref het. Ook hoe die Akteursgilde (SAG) na al die jare nog gereeld vir hom betalings deurgee vir enige van die produksies waarin hy opgetree het. Selfs Hard Target (1993).
Toe wou hy ’n Frank Opperman-storie vertel wat kort sy aankoms sowat twee jaar gelede in Suid-Afrika gebeur het. “Die eerste aand wat ek hier gesit het, toe’s Orkney snork nie aan. En toe sien ek jou en toe’s ek so bly. En ek sê ‘aaah, daar’s Frank, dis so koel dat hulle hierdie ding nog wys’, en my tweede gedagte was: ‘F*k, Frank kry nie ’n tjek vir hierdie ding nie’.”
“Ek het ’n tjek gekry,” het Frank erken. “Vir R89. Vir ses maande se ses shows ’n week. Prime time . . . dis hoekom ouens in hierdie land arm doodgaan.”
Dana se beurt
Frank het vir Dana by die kerksaal van die Melville-gemeente gaan ontmoet. Dis die einste plek waar Die uwe, Pottie Potgieter 20 jaar gelede opgevoer is met Frankie wat die klank hanteer het.
“Ek het ’n storie gelees van Dana oor ’n man wat suip,” en vir Frank was dit ’n pragtige storie. Dis net waar hy gevoel het Dana moet ’n toneelstuk skryf. Dit het tot Die uwe, Pottie Potgieter gelei. Nie lank daarna nie, het Rooikaart gehore vermaak.

Toe kry Frank ’n hondjie. En die res is geskiedenis met die komedie Hond (2016), ook Dana se pennevrug – en dis weer opgevolg deur Dominee Tienie (2018). En Donkie(2019). En Reünie (2025).
Frank sien homself as ’n akteur, maar hy het ook hierdeur besef dat daar na ’n skrywer gesoek moet word met wie jy kan werk. En dié twee wérk. “En, jinne, hierdie man skryf mooi,” het Frank vir Dana lof toegeswaai.
“Die laaste 20 jaar kon ek eet, ek kon my kind sit in ’n goeie skool in Jo’burg, ek kon lewe, ’n lewe maak… danksy die goed wat jy geskryf het,” het ’n emosionele Frank met ’n gebroke stem aan Dana gesê.
“Dit het hom ook al gehelp. Ons albei score daaruit,” het Frank verklaar.
Frank wys Woensdagaande om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144).










