Menu terloops
In Sepies [6 Sep 2025]

Sepievoorskou: Breekpunt in ‘Binnelanders’, woede en wraak in ‘Suidooster’


Roekelose besluite bedreig iemand se sprokieverhaal, terwyl foute uit die verlede vir ’n ander sy loopbaan kan kos. Lees ons sepievoorskou vir meer oor die drama wat vandeesweek op ons sepies ontvou.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepievoorskou: Breekpunt in ‘Binnelanders’, woede en wraak in ‘Suidooster’

Ons sepievoorskou vertel jou meer oor waarna jy hierdie week (8 tot 12 September) in Suidooster, Binnelanders en Skemergrond kan uitsien.

Binnelanders

Met Tracy (Melinda Viljoen) wat al hoe verder van Tertuis (Reynardt Hugo) beweeg, raak die man nou amptelik van sy kop af. En sy pyn is dié week tasbaar. Mens kan duidelik sien dat hy op breekpunt is! Ek het regtig gedink toe Tertius by Mimi’s instap dat dit die einde is. ’n Man wat soveel seer het, is tot enigiets in staat en ongelukkig kom slegte mense mos maar altyd met hul dade weg in sepieland… Dít terwyl goeie mense vinnig-vinnig vir hul sondes boet. 

Ek wou regtig nie hê hy moet een van die sepieland-clichés word nie. Gelukkig was Pretoria se eie knight in shining armor daar om hom te help. Maar gaan Tracy dit oorleef om te sien hoe dinge uitspeel? Dit is die groot vraag op almal se lippe en meer as een persoon begin nou onder die druk knak.

Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

Suidooster

’n Skurk soos Nazeem (Irvine van der Merwe) kry nie elke dag ’n kans op geluk nie, hulle kry nog minder ’n tweede kans in die lewe. Hierdie week kry Nazeem albei en ’n ekstra bonus wat almal op Ruiterbosch se groot aand verras! Maar ek het nou al geleer ’n mens moet nooit té opgewonde raak nie, want so vinnig as wat ons sepieskrywers vir kykers iets lekker kan gee, kan dit net so vinnig weggepluk word. 

Nazeem eindig sy week meer woedend as wat ek hom al ooit gesien het. En met goeie rede! Ja, hy het die afgelope paar maande in ’n rolstoel deurgebring en hy het beslis ’n nuwe bladsy opgeslaan, maar ’n skurk vergeet nie sommer al sy ou tricks nie. So toe hy snuf in die neus kry, kon ek in sy oë sien hier kom moeilikheid, en dáái toneel het my beslis nie teleurgestel nie. Ek wonder net wat hy nou met die inligting gaan doen!

Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax.

Skemergrond

Spyt kom altyd te laat… Toe Ronnie (Mario Haupt) met Christine (Devonecia Swartz) in die bed gespring het, het hy seker nie gedink daai besluit gaan hom so in die gat kom byt nie. Toe hy en Hazel (Carmen Maarman) vir Christine daar voor die hotel so ’n stink gesig gee, het ek geweet dit gaan haar kop weer oortyd laat werk. Ek het nou nie gedink sy gaan ou koeie gaan uitgrawe nie, maar ons moes almal seker van beter geweet het. Ek was seker nog meer stomgeslaan as die Louws toe hulle daai e-pos van Christine ontvang.

Ek dink dit is tot dusver seker die laagste wat sy al gedaal het… Nie dat ons baie van haar verwag nie. Hierdie een gaan seermaak, al dink mense hulle het al deur dinge gewerk. Ok Christine, game on! Jy het nou my aandag, ek kan nie wag om te sien hoe hierdie een uitspeel nie. 

Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

kykNET se nuwe mini-dramareeks is ’n verhaal van verlies, vergifnis en hoop

Twee mans se paaie kruis in ’n ondersteuningsgroep ná die verlies van geliefdes. kykNET se 'Elke donker wolk' verken hoe ’n onverwagse vriendskap ruimte skep vir vergifnis, genesing en hoop.

Meer

Rubriek: Gaan griffel in Ouma se resepteboek! ‘Kokkedoor: Klassiek’ is terug! 

Ná ’n voorskou van die eerste episode laat 'Kokkedoor: Klassiek' vir Marteni Burger verlang na haar ouma se resepte én sien sy uit na nog skeppies nostalgie - met ’n knippie kombuisdrama en verrassende kinkels daarby.

Meer

Van die veld tot die kelder – kuier dié November saam met VIA

Van wildplase en wynkelders tot huise met karakter: VIA se November-aanbod beloof vars ontdekkings. Kuier saam met Shari Kennedy, Leandie du Randt, Frank Rautenbach en JP Quickelberge, en leer ken die mense, stories en plekke wat Suid-Afrika so besonders maak.

Meer

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer
Sien alle opsies