Menu terloops
In Recaps & Resensies [21 Aug 2025]

‘Boer soek ’n vrou’ S17: Tyd vir die blitsafsprake! Wie word gekies om weer te kuier?


Die vyf boere moes ná tien blitsige afsprake vyf moontlike pasmaats kies – makliker gesê as gedaan… Hier’s als wat jy van dié week se episode van ‘Boer soek ’n vrou’ moet weet.

Deur Annelene Oberholzer
‘Boer soek ’n vrou’ S17: Tyd vir die blitsafsprake! Wie word gekies om weer te kuier?

Die afgelope paar maande is daar gehoop, in sommige gevalle ook gebid, vir die regte brief om by die regte boer uit te kom in die 17de seisoen van kykNET se gewilde maatsoekreeks Boer soek ’n vrou. 

Duisende kilometers is deur die Boer soek ’n vrou-aanbieder Reandi Grey afgelê om die stapels hoopvolle briewe en pakkies aan die boere te besorg. Hulle moes toe met die hulp van twee ondersteuners elk, hetsy familie of vriende, deur daardie possakke werk om tien potensiële pasmaats vir blitsafsprake te kies.

Reandi gesels met van die hoopvolle briefskrywers wat vir die blitsafsprake genooi is.

Tyd vir die blitsafsprake

By die Doolhof-wynlandgoed naby Wellington in die Boland het die boere hul keuses vir die eerste keer in lewende lywe ontmoet. Natuurlik pas die stewel ewe goed aan die ander voet. Die briefskrywers wat opgedaag het met hoop in hul harte op liefde, gaan beslis binne daardie vyf minute nie kan ophou wonder of hul brief die kol getref het nie.

Boer soek 'n vrou
Al die hoopvolle briefskrywers wat gekies is om aan die blitsafsprake deel te neem. Foto’s: Skermgrepe

Hier moes die vyf boere elkeen vyf moontlike pasmaats kies vir die volgende fase van die program. Maar dit was ’n uitdagende taak – die boere het net vyf minute tot hul beskikking gehad om die kat uit die boom te kyk! 

Vir ’n ysbreker het Reandi die vyf boere (wie se senuwees tog wel ’n bietjie gelol het) gevra om vir hul briefskrywers ’n danspassie op die stoep uit te voer. Evert het ewe wikkelboude weggespring, en die res het meer beskroomd gevolg. Maar Rudi H het heftig sy “m**rse seer rug” blameer en ook genoem dat sy kerk nie dans nie. Sy verskonings het beslis nie almal oortuig nie…

Boer soek 'n vrou
Die manne staan gereed vir hul blitsafsprake!

Ná afloop van die blitsafsprake was daar een boer wat klaar sy keuse gemaak het, maar hy het gevoel hy’s dalk in die moeilikheid met nog ’n paar potensiële pasmaats wat hy daarna raakgesien het. 

Die algemene gevoel onder die vyf boere is dat daar beslis vyf moontlikhede bestaan, met  so hier en daar die keuse van die vyfde een in die weegskaal. Van hulle het egter erken dat hul aanvanklike indrukke tydens die blitsafsprake verander het.

Die keuses 

Elkeen van die boere het al die pasmaats baie mooi bedank vir hul briewe en die groot moeite wat aangegaan is om tot by hierdie fase te kom. Sommige van hulle het ook maar swaar gesluk toe hulle die name moes aankondig van diegene wat nou huiswaarts moes keer.

Evert (38), ’n makadamia-, sitrus- en wildboer van Tshipise, Limpopo

Evert, boer soek 'n vrou
Evert het die meeste briewe ontvang.

Lauren, Theresa, Elouise, Brümilda en Anmari is die vyf pasmaats wat deur die sjarmante Evert gekies is.

Rudi H (56), ’n boerbokboer van Windsorton, Noord-Kaap

Boer soek 'n vrou, Rudi H
Moenie verbaas wees as Rudi H sy dansskoene aantrek nie.

Hy het vir Joey, Marian, Paola, Ella en Lizelle gekies – en moenie verbaas wees as dié boer iewers sy dansskoene gaan aantrek nie.

Willie (26), ’n makadamia- en wildboer van Badplaas, Mpumalanga

Boer soek 'n vrou willie
Willie was aanvanklik verbaas oor die aantal briewe wat aan hom gerig is.

Die boer met die diep kuiltjies het vir Cilmari, Denike, Yvonne, Nadine en Monique gekies.

Rudi (47), ’n toerisme- en wildboer van Beestekraal, Noordwes 

Rudi was in sy noppies oor die moeite wat mense gedoen het om vir hom te skryf. En hom in lewende lywe te ontmoet!

Die groot man met die sagte hart het vir Morné, Flip, Nelius, Arnold en Hannes as sy topvyf gekies.

Pieter (29), ’n skaapboer van Richmond, Noord-Kaap

Pieter was die ene glimlagte tydens sy afsprake.

Watter een van sy vyf keuses het die skamerige boer se hart met die eerste oogopslag gesteel? En wie was die ander wat hom laat voel het hy’s dalk in die moeilikheid? Was dit Anzelle, Elizma, Lisa, Altanja of Leoné? Tyd sal leer.

Ná die tyd het al die boere gesê hulle is gelukkig met die keuses wat hulle gemaak het. Hulle was dit ook eens dat die besluite moeiliker was as wat hulle verwag het.


Boer soek ’n vrou S17 saai uit op Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Nuwe episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Kyk ook Boer soek ’n vrou S14-S16 op Showmax.


Inskrywings vir seisoen 18 van Boer soek ’n Vrou

KykNET soek nou ongetroude boere of plaasbestuurders, manlik of vroulik, wat reg is om ’n liefdesreis saam met Boer soek ’n vrou aan te pak.

Só kan boere inskryf:

  • Besoek www.kyknet.tv waar jy óf aanlyn kan inskryf óf ’n inskryfvorm kan aflaai;
  • Bel: 079 614 2229
  • Stuur ’n e-pos na boer@wolflightsa.com

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

kykNET se nuwe mini-dramareeks is ’n verhaal van verlies, vergifnis en hoop

Twee mans se paaie kruis in ’n ondersteuningsgroep ná die verlies van geliefdes. kykNET se 'Elke donker wolk' verken hoe ’n onverwagse vriendskap ruimte skep vir vergifnis, genesing en hoop.

Meer

Rubriek: Gaan griffel in Ouma se resepteboek! ‘Kokkedoor: Klassiek’ is terug! 

Ná ’n voorskou van die eerste episode laat 'Kokkedoor: Klassiek' vir Marteni Burger verlang na haar ouma se resepte én sien sy uit na nog skeppies nostalgie - met ’n knippie kombuisdrama en verrassende kinkels daarby.

Meer

Van die veld tot die kelder – kuier dié November saam met VIA

Van wildplase en wynkelders tot huise met karakter: VIA se November-aanbod beloof vars ontdekkings. Kuier saam met Shari Kennedy, Leandie du Randt, Frank Rautenbach en JP Quickelberge, en leer ken die mense, stories en plekke wat Suid-Afrika so besonders maak.

Meer

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer
Sien alle opsies