Menu terloops
In Silwerskermfees [21 Jul 2025]

‘Melkbrood’ ’n minimalistiese blik op ma-dogter-verhouding


In die jong filmmaker Winford Collings se nuutste projek, die kortfilm ‘Melkbrood’, word die brose verhouding tussen ’n ma en dogter teen die agtergrond van die Karoo-landskap ondersoek. 

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
‘Melkbrood’ ’n minimalistiese blik op ma-dogter-verhouding
Kyk lokprent

Winford Collings vertel meer oor sy minimalistiese, roerende film Melkbrood, wat by vanjaar se Silwerskermfees première en waarin die aktrises Khadija Heeger (Skemergrond) en René Cloete (Suidooster) die hoofrolle vertolk: 

Terwyl jy en Deirdré Jantjies albei as vervaardigers by hierdie projek betrokke is, het jy die draaiboek geskryf. Waar het die idee vir die film vandaan gekom en hoekom was dit vir jou belangrik om hierdie storie te vertel? 

“Toe ek eers Melkbrood begin skryf het, was ek nog in vroeë post-produksie van my speelfilm ADAM, en ’n deel van my wou aanhou om dieselfde onderliggende tema te verken: die verhouding tussen kinders en hul ouers, en die maniere waarop misverstande, of dit nou per ongeluk of doelbewus is, ’n patroon kan raak. Maar hierdie keer wou ek dit op ’n kleiner, meer gefokusde, intiemer skaal ondersoek.” 

[ADAM, wat op Showmax beskikbaar is, is deel van ’n projek wat Showmax in samewerking met die Joburg Film Festival geloods het om debuutregisseurs se films te ondersteun. Die vervaardigers is Blended Films, wenner van vier Silwerskerm-toekennings vir verlede jaar se speelfilm Hier.Na.] 

Die agtergrondmusiek en teks is gewoonlik ’n padkaart vir kykers se emosies en help hulle om met die gevoel van ’n toneel te identifiseer. In hierdie film dra die stilte by tot die angs en spanning. Hoekom dié minimalistiese aanslag? 

“Dis te danke aan René Cloete se spel. Daar was oorspronklik nóg ’n gedig wat in die eerste deel van die film sou verskyn, en ons het dit in die lokprent gebruik, maar dit het vreemd gevoel om dit in die film in te sluit, want alles wat jy van die karakter en haar binnewêreld moet weet, was reeds daar in René se vertolking. 

“Jy hoop maar altyd dat mense dit sal verstaan, en dat hulle begin vra: “Hoekom is daar nie musiek nie? Wat probeer die filmmaker sê?”, eerder as om af te skakel omdat dit nie onmiddellik bekend voel nie. 

“Een van die uitdagings met Melkbrood was om iets te maak wat doelbewus anders voel as ADAM. Ek het vroeg reeds geweet dat ek wil hê Melkbrood moet meer impressionisties wees as dialooggedrewe, of met oorvleuelende verhaallyne. Ek wou minder “verduidelik”. Maar jy moet nogtans binne die beperkte tyd van ’n kortfilm die storie kan vertel.” 

Daar is slegs drie akteurs in hierdie prent en meeste van die interaksie is tussen Khadija Heeger (Ma) en René Cloete (Em) se karakters. Wat is die belangrikste ding wat mense oor die karakters Ma en Em moet weet? 

“Daardie deel wil ek eerder aan die kykers oorlaat. Toe ek die film vir vriende wys, het elke persoon met ’n ander teorie oor die karakters vorendag gekom, en elke teorie was meer interessant as die vorige een. Ek sal wel sê dat die lokprent, wat beeldmateriaal gebruik wat glad nie in die film is nie, dalk ’n paar leidrade verklap.” 

Watter boodskap wou julle met hierdie film tuisbring? Veral met die aanslag waarop julle besluit het? 

“Die kernfokus vir my was om seker te maak dat die verhouding tussen ma en dogter eg voel. Dat dit iets is waarin kykers hulself kan inleef. Iets waarin hulle kan sit en saam wees, en hopelik dan hul eie betekenis daarin kan vind.” 

Wat lê agter die titel se betekenis? 

“Al word dit nie direk gesê nie, speel die film in die Karoo af. My eerste herinneringe van die Karoo is aan melkbrood gekoppel. In vroeë weergawes van die draaiboek het die kos wat Ma maak ’n groter rol gespeel, en dis steeds daar in die lokprent, so Melkbrood was van die begin af die titel waarmee ons gewerk het. Dit het egter later vasgesteek, ondanks die veranderinge aan die draaiboek.” 


Koop kaartjies vir die 2025 Silwerskermfees vanaf op Quicket. Vanjaar se fees loop van 20 tot 23 Augustus.

Lees ook al ons stories oor die Silwerskermfees hier.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

’n Skokwending en gevaarlike versoekings vier hoogty in ‘Suidooster’ dié Oktober

Ou vetes vlam op, nuwe liefde vertroebel oordeel en ’n skokwending ruk een gesin se wêreld in Ruiterbosch. Dié Oktober loop spanning hoog in Suidooster. Hier is vyf storielyne wat jy nie wil misloop nie.

Meer

Neels van Jaarsveld, jong talent en lekker kos op VIA in Oktober

VIA sorg in Oktober vir lekker kykstof met Neels van Jaarsveld se troeteldierstories, kombuiskuiers saam met Aneeka Papier en kookinspirasie van Herman Lensing. Jong kunstenaars wys hul staal in Gekies vir die kollig!, terwyl Die beste in die Noorde wegbreekidees bied. Huisgenoot: Ware lewensdramas keer ook terug vir sy twintigste seisoen.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
6

‘Suidooster’ in September: Skokke, geheime en verraad vier hooggety

Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word vandeesmaand in 'Suidooster' telkens op die proef gestel. Hier is ses groot storielyne wat jy in September moet dophou.

Meer
Sien alle opsies