Menu terloops
In Gons [15 Jul 2025]

De Klerk Oelofse maak sy sepie-debuut in ‘Suidooster’


Sy grootste liefde is die teater – óf dit nou op die verhoog of as fasiliteerder is. Maar kyk nou net waar die veelsydige De Klerk Oelofse hom deesdae bevind – ‘Suidooster’! 

Kyk 'Suidooster' op DStv Stream

De Klerk Oelofse maak sy sepie-debuut in ‘Suidooster’

 Die sepiewêreld is ’n eerste vir die akteur De Klerk Oelofse (Die Boekklub, Nêrens, Noord-Kaap en Kanarie). Dié aanbieder van kykNET se prettige Kyk wie praat gaan nou as Henog kykers in Suidooster verskyn. 

Hy het ’n paar vrae oor dié nuwe professionele avontuur beantwoord: 

Hoe sal jy jou karakter Henog beskryf en wat maak hy in Ruiterbosch? 

“Dit was nog nooit vir my so moeilik om hierdie vraag te beantwoord nie. Henog is vir my meer ’n gevoel, ’n kalmte. Ek dink hy is funksioneel in die sin dat hy vir Kate (Annelisa Weiland) raaksien en na haar luister wanneer dit vir haar voel asof niemand anders dit doen nie.”

Dis jou eerste sepierol. Hoe sal jy die ervaring beskryf en hoe daag hierdie genre  jou as akteur uit?

“Ek moet sê, ek was nogal altyd baie bang daarvoor omdat ek nog nooit in ’n ateljee was waar soveel kameras op dieselfde tyd rol nie. Dit was ’n groot uitdaging vir my, maar een wat ek vreeslik geniet het. Dis grootliks daaraan toe te skryf dat dit die vriendelikste manier was waarop al my medespelers hulle oor my ontferm het en vir my touwys gemaak het waar hulle kon sien ek is bietjie uit my diepte.”

In jou storielyn speel jy veral teenoor Annelisa Weiland (Kate). Hoe was dit om teenoor een van SA se grootste sepie-ikone te speel?

“Dit was dalk my gunsteling-deel van die hele ervaring. Dit was so ’n voorreg om my eerste sepie-ervaring met so ’n ou hand te kon deel. Ek het, terwyl ek aan Suidooster geskiet het, ook aan ’n teaterstuk gewerk. Ek en sy kon heerlik klets oor haar jongdae van verhoogproduksies met die destydse streeksrade. Sy is ’n lieflike mens en het werklik diep in my hart gekruip.”

De Klerk Oelofse as Henog in Suidooster
Om teenoor Annelisa Weiland in Suidooster te speel, was vir De Klerk Oelofse ’n hoogtepunt, vertel hy. Foto: Verskaf

As jy terugkyk op jou loopbaan, watter projek of rol het die grootste impak op jou professionele groei gehad?

“Sjoe, ek dink daar is klomp, maar almal vir verskillende redes. Die Boekklub was special omdat dit vir die eerste keer begin voel het of ek televisie-werk begin verstaan. Hotel was uniek in terme van die gehoor wat dit bereik het en die feit dat ’n mens saam met jou pêlle op so ’n manier werk dat dit nie soos werk voel nie. 

“Maar ek sal altyd terugkeer na die teater toe. Die verskeie rolle waaraan ’n mens vir weke lank aan kan werk en skaaf – dit voel vir my dis die naaste wat jy ooit daaraan sal kom om werklik in iemand anders se skoene te staan.”

Waarmee is jy andersins ook besig op die oomblik?

“Ek is baie opgewonde oor een van die grootste teaterprojekte waarby ek tot nou toe al betrokke was. Marthinus Basson regisseur Breyten Breytenbach se Boklied by vanjaar se Woordfees en ek is gelukkig genoeg om deel te wees van die geselskap.”


Suidooster, wat vanjaar sy tiende verjaarsdag vier, word weeksdae om 18:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, en om 18:30 op kykNET & Kie, DSTv-kanaal 145, uitgesaai. Dit is ook beskikbaar op DStv Stream en Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

kykNET se nuwe mini-dramareeks is ’n verhaal van verlies, vergifnis en hoop

Twee mans se paaie kruis in ’n ondersteuningsgroep ná die verlies van geliefdes. kykNET se 'Elke donker wolk' verken hoe ’n onverwagse vriendskap ruimte skep vir vergifnis, genesing en hoop.

Meer

Rubriek: Gaan griffel in Ouma se resepteboek! ‘Kokkedoor: Klassiek’ is terug! 

Ná ’n voorskou van die eerste episode laat 'Kokkedoor: Klassiek' vir Marteni Burger verlang na haar ouma se resepte én sien sy uit na nog skeppies nostalgie - met ’n knippie kombuisdrama en verrassende kinkels daarby.

Meer

Van die veld tot die kelder – kuier dié November saam met VIA

Van wildplase en wynkelders tot huise met karakter: VIA se November-aanbod beloof vars ontdekkings. Kuier saam met Shari Kennedy, Leandie du Randt, Frank Rautenbach en JP Quickelberge, en leer ken die mense, stories en plekke wat Suid-Afrika so besonders maak.

Meer

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer
Sien alle opsies