Menu terloops
In Wat om te kyk [25 Nov 2021]

6 kinderflieks op Netflix vir die vakansie en feesseisoen



Die lang somervakansie is op hande en Kersfees is om die draai. Maar moenie vrees nie, wanneer almal moeg geswem en gespeel is, is daar ʼn groot verskeidenheid kinderflieks op Netflix om die kroos te vermaak. Hier is ʼn paar voorstelle.


Deur Riëtte van der Wat
6 kinderflieks op Netflix vir die vakansie en feesseisoen

1

Robin Robin

Enigiets waaraan Aardman raak is goud (dink Chicken Run en Wallace and Gromit) en te oordeel aan die voorprent vir dié splinternuwe Kersfees-fliek gaan Robin Robin tien teen een ook ʼn classic word.

ʼn Oulike voëltjie wat deur muise grootgemaak is, begin wonder wie sy regtig is in hierdie stop motion (stop-beweging)-animasiefliek.

Bekendes soos Gillian Anderson verleen haar stem aan die kat en Richard E Grant vertolk Magpie, ʼn eensame ou voël wat glo blink goed is die enigste ding wat hom gelukkig kan maak.

Die kinderster Bronte Carmichael is Robin. Bronte het haar karakter in ʼn onderhoud beskryf as ʼn optimis met groot deursettingsvermoë, hoewel sy ook ʼn bietjie naïef is oor al die gevare wat die wêreld vir haar inhou.

2

Alien XMas

ʼn Spul emosielose ruimtewesens wat alles begeer wat hulle in hul klam groen kloutjies kan kry, besluit die aarde is hulle volgende teiken en slaan toe op Kersvader en sy Kersfees-elfies se dorpie.

Die klein kleptomane wil die aarde se swaartekrag “breek” en al die geskenke steel en stuur ʼn onwillige wesen om hul vuilwerk te gaan doen, maar ʼn onverwagse vriendskap met ʼn klein elfie laat die stoute planne ontspoor.

Dis ʼn verbasend innemende stop-beweging-animasie kortfliek wat belangrike lesse oor die ware betekenis van Kersfees en vriendskap sonder prekerigheid en met humor oordra.

3

A Trash Truck Christmas

Trash Truck is goedvoel- en gehalte kinderkykstof. Daar is iets nostalgies aan die Trash Truck-reeks en elke episode voel soos om deur ʼn kinderboek te blaai. Dit het ook iets vir kleiner en bietjie ouer kinders (my driejarige en kritiese sesjarige geniet dit albei, wat ʼn pluspunt is).

In hierdie onskuldige Kersfees-kortfliek moet Hank, die verbeeldingryke sesjarige hoofkarakter, sy beste vriend, Trash Truck, en hul maats (ʼn lieftallige beer, lawwe wasbeer en Britse-muisie) vir Kersvader help om al die Kersgeskenke betyds af te lewer voor Kersoggend. Sien, daar was dié jaar té veel soet seuns en dogters en sy slee was so vol dat dit uit die lug geval het…

Al ooit gewonder hoe sal ʼn rommeltrok lyk as Kersvader se rendiere dit trek? Ek weet van ʼn paar driejarige seuntjies wat hulle pienkmelk sou gee om dít te sien.

4

A Storybots Christmas

In die Emmy-bekroonde reeks Storybots is ʼn klomp leergierige vriende wat binne-in ʼn rekenaar woon en vir kinders antwoorde op allerlei vrae soek. Elke episode in die reeks is gewoonlik belaai met hope interessante inligting, saamsing-liedjies en maltrap avonture.

In hierdie spesiale-uitgawe kortfliek dink Bo haar vriende (Beep, Bop en Bing) hou nie van die Kersgeskenke wat sy vir hulle gee nie. Sy reis na die Noordpool om Kersvader (Ed Asner) te vra vir raad om beter presente te kies, maar vind uit hy is eintlik die een wat hulp nodig het.

Intussen leer sy daai tipiese kinderfliek-Kersfeesflieklessie, dat Kersfees oor veel meer as geskenke gaan.

Met ʼn ysbeer wat desperaat soek na ʼn botteloopmaker om ʼn botteltjie gaskoeldrank oop te maak en ʼn histeriese Kersfees-elfie, is daar genoeg humor vir die kinders. Ouers sal die frustrasies oor hoogs tegnologiese Kersgeskenke waardeer.

Ed Asner was nie meer jonk toe hy Kersvader gespeel het nie en daar is iets amper treurig-nostalgies aan sy uitbeelding van dié geliefde karakter. Kinders behoort egter nie om te gee nie.

5

Vivo

Vivo, ʼn grootoog kinkajou-apie wat gaande is oor Kubaanse-mambo ritmes, en Gabi (Ynairaly Simo) ʼn dogtertjie met ʼn voorliefde vir polsende elektroniese musiek, moet seker maak dat ʼn liefdesliedjie wat in Kuba geskryf is, veilig tot in Miami kom in hierdie kleurvolle, aksiebelaaide fliek oor familie, liefde en die krag van musiek.

Broadway-ster en akteur Lin-Manuel Miranda het 11 oorspronklike liedjies vir die fliek geskryf en sorg vir Vivo se stem. Veral die liedjie “Dance tot the beat of my own drum”, wat die tienjarige Gabi se persoonlikheid perfek saamvat, bly nog lank in ʼn mens se kop vassteek (dis die tipe liedjie waarna jy graag wil hê klein dogtertjies moet luister, veral dié wat dink hulle moet in Frozen-boksies pas). Sy is ʼn parmantige karakter met hope spunk.

Taai onderwerpe soos enkelouerskap en die dood word sensitief aangepak (Vivo se “mens” in Kuba, die sanger Andrés, sterf onverwags en so begin Vivo se reis).

Juan de Marcos González van Buena Vista Social Club-faam het vir Andrés se stem gesorg en sy lank verlore geliefde in Miami, Marta, word deur Gloria Estefan vertolk.

6

Abominable

Abominbale is ʼn fantastiese kinderfliek van DreamWorks wat in China afspeel en is een van daai wat ʼn mens weer en weer wil kyk.

ʼn Jong meisie ontdek ʼn vriendelike Yeti, Everest, op die dak van die woonstelgebou in Shanghai waar sy saam met haar ma en ouma woon. Sy rou oor haar pa en is afgestomp, maar wanneer sy en haar vriende besluit om Everest terug te neem huis toe, na die Himalajas, verander dinge.

Dis onmoontlik om bang te wees vir Everest, daarvoor is hy te oulik. Die ware monsters in dié fliek is nie die wit wolbol nie, dis die superryk ontdekker Burnish (die stem van Eddie Izzard) en ʼn slinkse dierkundige dr. Zara (Sarah Paulson).

Die klankbaan gly soos ʼn towerspreuk deur die fliek  – Yi is ʼn begaafde violis, nes haar pa was, en Everest het ʼn pragtige diep neuriestem waarmee hy allerlei wonderlike dinge kan laat gebeur.

ʼn Hoogtepunt is die viool-cover van Coldplay se Fix You. Phil Beaudreau se liedjie Dreams en Bebe Rhexa se Beautiful Life is lekker langpad-liedjies vir die vakansie.

Die lieflike natuurtonele is met diepte geanimeer – veral wanneer die kinders en die yeti op wolkwalvisse hoog bo die Himalaja-gebergtes rondrits.

Probeer ook…

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

21

21+ Afrikaanse flieks wat jy nou aanlyn kan kyk

Op soek na jou volgende gunsteling-fliek? Hier is van die gewildste Afrikaanse flieks op Showmax – van 'Hans steek die Rubicon oor' tot 'Eksie Perfeksie'.

Meer
26

‘G20’, ‘1923’, ‘One Piece’ en nog: 20+ TV-reekse en flieks wat in SA geskiet is

Van 'One Piece', een van Netflix se reekse met die meeste kykertalle in 2023, tot die nuwe fliek 'G20' met die Oscar-bekroonde Viola Davis – hier is ’n lys van internasionale produksies wat of gedeeltelik, of heeltemal in Suid-Afrika verfilm is.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir April 2025

Shani is opgewonde oor haar oudisie, maar Rachelle het slinkse planne vir haar... Dít terwyl Sunette met haar gesondheid sukkel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir April 2025: Koebaai aan June en Joe in ‘The Handmaid’s Tale’, ‘You’

Wat om te kyk: Dis koebaai-tyd met die finale seisoene van die fenomeen-reekse ‘The Handmaid’s Tale’ en ‘You’; Pedro Pascal is terug vir S2 van ‘The Last of Us’; en Afrikaans se wortels word ondersoek in ’n nuwe dokkiereeks – dié stories en meer tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies