Wat ook al die onderwerp, vandag se tieners is waarskynlik al wys daaroor – of minstens effe.
Soos televisie se rol in die samelewing uitbrei, en as’t ware ook by tye “onnie” speel – só word tieners toenemend aan uiteenlopende leefstyle, idees, oortuigings en begrippe blootgestel. Die storielyne in sepies en reekse weerspieël al meer ’n realistiese blik op ons wêreld en ervarings.
Waar dit vir ouers soms moeilik kan wees om gesprekke oor byvoorbeeld seks en seksualiteit, geloof, kultuur, eetsteurnisse en geestesgesondheid te hê, skram televisie se storievertellers nie weg nie.
Young adult-stories, hetsy op TV, in flieks, en boeke geniet immers die afgelope dekade of wat ’n groot glow up met streaming wat die weg gebaan het vir die tendens van meer diverse, real stories: van 13 Reasons Why met storielyne oor onder meer selfdood, tot die gewilde Spaanse tienerdrama, Elite, wat die taboe-onderwerp van bloedskande vir ’n ouer tienergehoor takel.
Ons het ’n lys van vyf reekse saamgestel met al die gewone tienerliefde, -vriendskap en avontuur, maar wat ook die geleentheid bied om oor ’n verskeidenheid onderwerpe te leer.
The Baby-Sitters Club
Hierdie Netflix-treffer draai om vyf 12-jarige vriendinne wat ’n klein besigheid begin om kinders op te pas en ook mekaar deur die lewe se goeie en hartseer tye ondersteun. Dit het ’n diverse rolverdeling wat ras en kultuur betref. Ek was mal oor die feit dat dit aan onderwerpe soos transgender-mense, gemengde gesinne, skaamte, aktivisme, diabetes, swak doen op skool, rou en soveel ander belangrike onderwerpe raak. Vir diegene wat dikwels eerder van hierdie soort kwessies wil wegskram, kan hierdie reeks ’n goeie beginpunt vir oop gesprekke wees. Dit is ’n oulike program met baie humor, pret en liefde tussen die groep vriende, wat komplekse konsepte só uitbeeld om verteerbaar vir ’n jonger gehoor te wees.
Never Have I Ever
Devi, die hoofkarakter, is ’n uitgesproke tiener wat haar plekkie in die wêreld probeer vind. Haar familie is van Indië, maar het Amerika toe getrek vir ’n beter lewe. Devi was nog altyd ’n bietjie anders en sukkel om ’n brug tussen die twee kulture vind, maar haar wêreld word heeltemal omgedol as haar pa sterf.
Devi maak ’n klomp foute in die reeks, maar wanneer sy byvoorbeeld met twee seuns gelyktydig begin uitgaan, het my sussie se dogter heel kwaad en onskuldig gevra, “hoekom doen sy dit? Sy is so dom.” Dit het vir my laat besef hoe belangrik dit is dat ons nie altyd vir kinders beskerm van dinge wat regtig in die lewe gebeur nie. Dit is belangrik dat hulle dit sien en kan vrae vra in ’n veilige omgewing – en ook hul eie opinies vorm oor wat afspeel.
Devi het ook ’n terapeut – dié is soms baie snaaks, baie reguit en coddle beslis nie vir Devi nie. Die teenwoordigheid van ’n sielkundige in die storie help ook om die idee van terapie te normaliseer as iets waaroor jy nie skaam hoef te wees, of bang voor te wees nie. ’n Ander karakter, Paxton, se suster het Downsindroom en die aktrise Lily D. Moore lewer ’n fantastiese vertoning wat en help om kinders en tieners bloot te stel aan mense wat anders as hulle is of dalk iemand op die skerm wat soos hulle of ’n familielid lyk. Daar is gay karakters, Swart, Asiatiese en Joodse karakters. Dit is ook lekker, vir ’n verandering, om te sien dat die oorgewig seun ’n meisie kry en dat die rykste kind ook die eensaamste is. Dit breek die gewone stereotipes en wys vir kinders dat almal dieselfde dinge kan ervaar. Maak nie saak of jy ryk, arm, oorgewig of slank is nie.
Daar is altyd baie wat in Grown-ish aangaan, baie daarvan is ongemaklik om te sien én pynlik, nes die groeipyne van jong volwassenheid in die werklike lewe (veral in die tyd van sosiale media), maar dit is altyd skreeusnaaks en ’n plesier om hierdie DStv-reeks te kyk. Dit is wel nie vir kleintjies nie en is gemik op hoërskoolkinders en ouer. Die program is ongelooflik en raak aan onderwerpe wat baie mense nie eers aan dink nie. Vir my is die manier waarop hulle aan onderwerpe soos dwelms, politiek en verhoudings raak, beter as wat baie mense dit aan my as tiener probeer verduidelik het. Ek beveel hierdie reeks beslis vir diegene 13 jaar en ouer aan, omdat kinders reeds op skool met dié onderwerpe sukkel en dit ’n wonderlike manier is om hierdie belangrike situasies met ’n ouer te bespreek.
Free Rein
Om ons te herinner dat Britse aksente altyd elegant op die ore klink, is hierdie lighartige tienerprogram, wat Zoe van Los Angeles na die kus van Engeland op ’n besoek aan haar ma se plaas vir die somer neem. Sy is een van televisie se sterkste tienerrolmodelle en demonstreer die belangrikheid van opregte kommunikasie, terwyl sy met haar perd, Raven, ’n band bou. Sy beeld ook die belangrikheid van familie en vriendskap uit. Nou in die derde seisoen, leer die program vir ons dat tyd saam met ouers en uitgebreide familie eintlik lekker kan wees. Dit is dubbel die plesier as jou kind ’n perdeliefhebber is, want daar is baie deftige perdeaksie tussen die drama en liefde in dié gewilde Netflix-reeks.
Worst Witch
As jy ’n Harry Potter-aanhanger is, sal hierdie program jou nostalgies maak, maar die storielyn is wel heeltemal anders. Dié Netflix-reeks draai om Mildred, ’n meisie wat altyd in die moeilikheid is en sukkel om vriende te maak. Baie mense verwag dat hierdie reeks se toneelspel effens sub-par gaan wees, synde die rolverdeling hoofsaaklik uit kinders en tieners bestaan, maar hulle is ’n talentvolle groep wat nie teleurstel nie. Van die karakters is ook waarskynlik soos iemand wat jy self ken. Daar is ’n leerder wat erge allergieë het, ‘n leerder wat vir baie dinge bang is, maar oor tyd dapper word, en natuurlik Mildred wat nogal lomp is en boonop baie probleme het. Die onskuldige, magical reeks het elke seisoen ’n wonderlike storielyn wat kinders en tieners aanmoedig om mekaar te aanvaar en die beste van slegte omstandighede te maak. Daar is baie lewenslesse om uit hierdie reeks te leer.