“Die senuwees knaag, maar die hoop beskaam nie,” is hoe aanbieder Rian van Heerden die sestal opsom wat volgende aan Wie word ’n miljoenêr deelneem.
Die ses spelers
- Jorge Haynes (Roodepoort)
- Martine Steyn (Kaapstad)
- Elnet Moll (Boksburg)
- Thomas Parker (Johannesburg)
- Wynand Smit (Oudtshoorn)
- Corneels Schabort (Durbanville)
Die eerste vinnigste vingers
Wie gaan eerste in die kol wees om Groot-Brittanje, Kuba, Mauritius en Groenland van klein na groot te rangskik? Voormalige chemiese ingenieur en nou onderwyser, Corneels (42), is die vinnigste vingers wat in 4.132 sekondes die korrekte orde insleutel. Het jy geweet Groenland is die grootste van die vier eilande?
Corneels vertel vir Rian dat hy reeds meer as 20 lande besoek het. Natuurlik is Rian, soos gewoonlik, en tot groot vermaak van die gehoor slaggereed met ’n kwinkslag: “Genade, jy’t nie geld nodig nie, wat maak jy hier?”
Sonder enige sukkel draf Corneels die eerste vrae kaf en haal die eerste vangnet vir R10 000 in sy sak. Hy stel sy tweede vangnet op vraag 11 vas om potensieel R70 000 huis toe te neem.
Maar Rian wil meer te wete kom van dié deelnemer. Die oud-ingenieur vertel dat hy van beroep as ingenieur verander het, waarna hy vir 14 jaar klas gegee het aan die PUK (Noordwes-universiteit) en van verlede jaar af is hy ’n hoërskoolonderwyser.
Hy sê onderwys is vir hom ’n roeping.
Sy antwoord op die vraag rondom ’n musiekrolprent wat in Salzburg, Oostenryk afspeel, kom vinnig: The Sound of Music – ’n fliek wat hy reeds 16 keer gekyk het!
Rian sê hy dink hy self het ’n vreemde stokperdjie – hy hou van tolletjie-brei. Maar Corneels se stokperdjie neem dit ’n stappie verder. Hy leer volksliedere van ander lande, veral omdat hy gek is oor tale.
Corneels besluit om van ’n hulplyn gebruik te maak vir ’n antwoord op watter land die eerste was om Wêreldbekertoernooie in eendag-krieket, rugby en sokker aan te bied. Hy gaan sy vriend, Etienne, bel omdat hy sport goed ken.
Dis natuurlik Etienne Fourie, ’n vorige deelnemer aan Wie word ’n miljoenêr, wat in Maart 2023 uitgeknikker is deur Kaapse skeepswrakke toe hy op R250 000 gestaan het. Hy is toe met R50 000 huis toe, die bedrag waarop hy sy vangnet gestel het.
Terloops, Corneel was in daardie episode Etienne se “Bel ’n pêl”-hulplyn en nou ruil die rolle om.
Toe Etienne sê hy is 80% seker die antwoord is Engeland, aanvaar Corneel dat dit die regte antwoord moet wees. Dit bring sy totaal op R20 000 te staan.
Die vraag oor wanneer die volgende algehele sonsverduistering in Suid-Afrika gaan plaasvind noop hom om die 50/50-hulplyn in te span. En hy kies die regte antwoord: 2030.
Die volgende vraag oor ’n Italiaanse gebou in ’n Toskaanse stad laat hom kliphard met homself redeneer – oftewel ’n “m**rse debat met homself” aldus Rian – besluit hy eensklaps dit moet die Skewe Toring van Pisa wees.
Daardie vurige alleengesprek het vrugte afgewerp en Corneel speel voort met R50 000 op die spel.
Het Thomas Edison of Nikola Tesla in 1876 ’n prototipe pen ontwerp wat later aangepas is om die eerste tatoeëerpen te word? Corneels het reeds vir Albert Einstein en Alexander Fleming uitgeskakel.
Hy besluit om sy laaste hulplyn te aktiveer: die gehoor. Hulle kies vir Tesla en Corneel voel gemaklik daarmee want Tesla het wisselstroom uitgevind. En die tatoeëerpen beweeg mos op en af…
Maar dis die einde van Corneel se reis. Thomas Edison was die uitvinder. Hy het darem R10 000 wat hy in sy sak kan steek.
Die tweede vinnigste vingers
Die korrekte orde van ’n bekende gesegde se woorde is die vraag waar die vinnigste vingers beproef gaan word. Dis Martine wat met 3.917 sekondes die ander deelnemers uitskakel met “Slim vang sy baas”.
Martine (39) is ’n Franse vertaler in Kaapstad en haar man, Johannes, is daar om haar te ondersteun. Sy maak korte mette van die eerste vyf vrae en met R10 000 in die sak, stel sy haar vangnet-vraag op vraag 10 vir R50 000.
Tussendeur verduidelik Martine aan Riaan haar naam is afgelei van ’n familienaam, Martinus Steyn. Sy praat vlot Frans, so ook haar pa. Op versoek van Rian om iets in Frans te sê, deel sy een van haar pa se gesegdes met hom. In Afrikaans beteken dit: “Ons sien hoe die son stadig sak, maar tog is ons verbaas as dit skielik donker is.”
Martine kies die 50/50-hulplyn om te help met die antwoord op watter Shakespeare-konings Skots was. Met Hamlet en Macbeth wat as die moontlike antwoorde oorbly, is Martine steeds onseker en besluit sy om die gehoor te vra.
Die gehoor stem oorweldigend vir Macbeth en sy bevestig dit as haar finale antwoord. Dit is die korrekte antwoord en sy beweeg nou aan na R25 000.
Rian wil by haar weet hoekom sy Franse burgerskap het, maar in Suid-Afrika woon. Martine sê sy het nege jaar in Frankryk gebly, maar gekies om terug te keer huis toe want dis vir haar veel lekkerder hier.
Met die prysgeld nou op R50 000, wonder Martine of sy nie haar laaste hulplyn moet inspan vir die korrekte vraag oor waar Het Zuid-Afrikahuis is nie. Sy gaan haar pa, Teuns, bel. Hy erken hy is self nie seker nie, maar Amsterdam klink vir hom reg. Toe begin hy twyfel.
Martine besluit om ’n kans te waag en Amsterdam te kies. Tot haar grootste verligting is haar raaiskoot in die kol en die prysgeld staan nou op R50 000. Haar kennis van webtuistes stoot dit verder op na R70 000.
’n Vraag oor William Kentridge se 2016-uitstalling teen die mure op die oewer van ’n rivier laat haar te veel twyfel en sy besluit om handdoek in te gooi.
Rian erken die vrae in Martine se sessie het sy brein gebreek. Dis ’n verligte Martine wat bly is sy het nie ’n raaiskoot gewaag nie en sy kan met R70 000 in haar sak huiswaarts keer. Die uitstalling was op die Tiber-rivier in Italië se oewer en nie die Seine soos wat sy oorweeg het nie.
Wie word ’n miljoenêr saai weekliks op Woensdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Episodes is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.