Menu terloops
In Redakteurskeuse [2 Jun 2026]

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Juniemaand misloop


Daar is uiteenlopende vermaak vir kykers op die kassie vandeesmaand – van vanjaar se Wêreldbeker-sokkertoernooi tot die volgende ‘Yellowstone’-hoofstuk, die dramareeks ‘Dutton Ranch’. Hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Deur Redaksie
Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Juniemaand misloop

Hier is ons voorstelle vir wat om vandeesmaand te kyk.

Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.

1

Finding Optel 

Dié fliek saai Saterdag 13 Junie om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uit. Dit sal ook daarna op Catch Up beskikbaar wees. 

In die broer-en-suster-duo Mikayla en Jesse Brown se eerste vollengte speelfilm rolprent Finding Optel, soek die 16-jarige amateur-speurder Claire Abrahams na ’n hond, Optel, wat in die buurt weggeraak het. Dit lei onverwags tot die oopkrap van ou wonde wanneer sy ook op leidrade afkom oor haar ouer broer se verdwyning nege jaar vantevore.

Dié lieflike plaaslike fliek is deur Mikayla en Jesse geregisseer, met Mikayla wat ook die draaiboek geskryf het en die hoofrol van Claire vertolk. Onder die ander spelers tel Oscar Petersen, Zenobia Kloppers, Rodney Goliath, Maurice Carpede en Omar Adams.  

2

Lamb Champs 

Weeklikse episodes vanaf Woensdag 10 Junie op 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees. 

Die dokumentêre reeks, Lamb Champs, keer terug vir ’n tweede seisoen met Minki van der Westhuizen wat weer as aanbieder verskyn.

Dié seisoen vertel oor die verloop van vyf episodes meer oor die mense agter die skerms van Suid-Afrika se skaapboedery. Die fokus val op die stories, die families en die opofferings wat dié bedryf vorentoe dryf. Die reeks neem kykers ook oor die land heen soos die stories ontvou. Van Kimberley se uitgestrekte, droë vlaktes tot Pretoria se tuisgrond by Loftus, waar die spanning voor ’n rugbywedstryd saam met die rook oor die kole hang terwyl lammers oor die vlamme gedraai word. In Parys, Vrystaat vloei die eerlike en rou stories van boere uit die hart. Ook die Paarl, met sy ryk erfenis en wingerde, word besoek.

Die reeks se vervaardiger, Leonie Fourie, het met die nuwe seisoen se aankondiging gesê: “Kykers kan uitsien na ’n seisoen gevul met pragtige en aangrypende stories wat diep uit die hart van die plaas kom. Hierdie boere doen meer as om bloot die land te bewerk. Hulle deel die passie en deursettingsvermoë agter die ware kuns van skaapboerdery.”

3

Beter as gister 

Weeklikse episodes vanaf Dinsdag 30 Junie om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees. 

Corné en René van Rooyen, bekend as skrywers en regisseurs van reekse soos Alles Malan en Summertide, is ook die skeppers van kykNET se nuwe dramareeks wat om pa’s draai, Beter as gister.

Dié reeks, bestaande uit 13 episodes, stel ondersoek in na onder meer die verskillende standaarde wat daar aan pa’s en ma’s ten opsigte van ouerskap gestel word.  

Die storie draai om vier gesinne en beskou dan ook moderne pa-wees vanuit uiteenlopende perspektiewe. Daar is die tuisblypa (Neels van Jaarsveld), die ambisieuse sakeman (Frank Rautenbach), ’n toegewyde enkelpa (Edwin van der Walt), en ’n wewenaar (Elton Landrew) – al vier se lewens en omstandighede word omgekeer en noodsaak dat hulle hul identiteite, rolle en verantwoordelikhede as pa’s opnuut in oënskou neem. 

4

Dutton Ranch 

Weeklikse episodes vanaf Maandag 29 Junie 2026 om 21:00 op M-Net en DStv Stream (DStv-kanaal 101). Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees. 

Die Yellowstone-sage word voortgesit met die nuutste reeks uit skepper Taylor Sheridan se storiestal. 

Daar is reeds twee ander Yellowstone-vertakkings vroeër vanjaar bekendgestel – die effens lustelose Marshals en dié se teenmiddel, die briljante The Madison met onder andere Michelle Pheiffer. 

In Dutton Ranch draai die storie nou geheel en al om twee van Yellowstone se gewildste karakters, Beth Dutton (Kelly Reilly) en Rip Wheeler (Cole Hauser). Beth en Rip het Montana agterweë gelaat en probeer ’n nuwe begin vir hul gesin op ‘n plaas in Texas uitkrap. Maar – nuwe plaas, nuwe probleme. Dis nie lank nie of hulle maak vyande en hul toekoms hang in die weegskaal. 

5

Wêreldbeker-sokkertoernooi 2026

Vanaf 11 Junie tot 19 Julie 2026 op SuperSport (vier toegewyde 24/7 opwipkanale).

Sokkeraanhangers moet hul voorberei op min slaap – al 104 wedstryde van vanjaar se Wêreldbeker-sokkertoernooi sal op SuperSport uitgesaai word. 

Vanjaar se toernooi is die grootste nog met 48 lande wat teenoor die vorige toernooi se 32 meeding. Die toernooi speel in stadions in die VSA, Kanada en Mexiko af. 

Al die sokkeraksie sal op vier toegewyde opwipkanale op SuperSport beskikbaar wees. 

6

CIA 

Weeklikse episodes vanaf Dinsdag 2 Junie om 20:00 op M-Net en DStv Stream (DStv-kanaal 101). Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees. 

Dié spanningsvolle misdaadreeks is een van die vele uitvloeisels wat uit die über-gewilde FBI (nou reeds in sy agste seisoen, ook tans op M-Net) gespruit het.

Tom Ellis, wat naam gemaak het in sy heerlike titelrol in Lucifer, speel hier ’n CIA-agent wat net nie by die reëls kan hou nie. Klink bekend. Hy word dan gedwing om met sy totale teenoorgestelde, ’n FBI-agent (Nick Gehlfuss) wat vreeslik lief is vir volgens die reëls speel, saam te werk. Hulle stamp dus onmiddellik koppe.

Maar daar’s werk om te doen, terroriste om plat te vat en dodelike politieke komplotte om te ontsyfer – hulle moet eenvoudig mekaar leer vertrou… Nie net vir hul eie veiligheid nie, maar ook dié van die hele grootse Amerika. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
Sien alle opsies