Vyf jaar terug het ek een televisie, twee skottels en twee dekodeerders gehad – al dié sodat ek beide TopTV én DStv kon kyk. Die twee skottels was in verskillende windrigtings gedraai om die satellietseine op te vang. Dit was ’n helse storie om die woonstelblok se destydse opsigter, Wes Walters, te oortuig om daai tweede skottel op my stoep te installeer. Die res van die gebou het ’n enkele DStv-skottel gedeel. “Wat vir ’n fok is TopTV?” wou hy weet.
Daar was ’n baie klein gaping tussen die balkon bo my woonstel en die betonblok wat as armleuning op my stoep gedien het. Die voorpunt van die skottel moes in daai rigting gedraai wees, maar as die wind in Seepunt begin waai het, is die sein ook weggewaai. Die installeerders moes uiteindelik ’n stuk van die betonblok afkap nét sodat ek MSNBC, Fox News en Afrikaanse Satelliettelevisie (ASTV) kon kyk. Die res van die kanale was nie juis soveel anders as dié op DStv nie, maar as ’n nuusvraat wou ek sien hoe dié twee Amerikaanse nuuskanale van CNN verskil. ASTV het ek gekyk bloot omdat dit fassinerend was om te sien hoe daar met ’n piepklein begroting tog inhoud vir ’n televisiegehoor geskep kon word. Meeste van die programme was erg teleurstellend, maar ’n heel paar oorspronklike idees het uiteindelik tuistes by kykNET, en later ook Via, gevind.
Meeste stroomdienste is ’n sukses bloot oor die nostalgie: Britbox het Doctor Who, Prime het Jessica Fletcher, Showmax het vir Egoli. Maar daar moet nóg iets wees, iets wat jou hook om jou daar te hou.
Vandag het ek nie ’n enkele skottel nie. Wes Walters is intussen dood. En hoewel my hardeware vir televisiekyk nie juis verminder het nie, het dit wel verander en al kleiner geword. Hier in Amerika waar ek nou woon, is drie televisies in my woonstel (een gebruik ek eintlik net vir werk, ek belowe) en het ek ’n Roku, ’n Amazon Fire TV-stokkie en ’n Google Chromecast – mediaspelers wat jou televisie met stroomdienste soos Netflix en Amazon Prime verbind. Elkeen van dié goed is so groot soos my oupa se pyp, maar dit gee vir my toegang tot die meeste beskikbare streaming services regoor die wêreld.
In Suid-Afrika het jy reeds toegang tot Netflix, Amazon Prime en BritBox – alles sonder ’n stokkie of ’n pyp. Terwyl e.tv se eVOD nog sy voete vind, is DStv Online en Showmax al so deel van die woordeskat rondom stroomdienste dat dit geen bekendstelling nodig het nie. Volgende jaar kom Disney+ Suid-Afrika toe, wat – kom ek waarsku jou nou al – eintlik nie die moeite werd is nie. Behalwe natuurlik as jy vreeslik terugverlang na Goofy en Max van Goof Troop.
Met dié dat die aantal stroomdienste soos hasies vermenigvuldig moet ’n mens dalk terugstaan en kyk wat werklik die moeite werd is. Tjiff en Tjaff (kykNET & kie) teenoor Duck Tales (Disney+). Murder She Wrote (Amazon Prime) teenoor Egoli (Showmax). Juis daarom het ek vier maatstawwe waarteen ek stroomdienste meet.
Waarde vir geld
Aan die begin het ek my sente getel omdat ek onseker was of Netflix die moeite werd is. Vandag dink ek nie eens daaroor nie. Netflix se first-mover advantage, die idee dat hulle heel eerste was, het dié tipe effek op mense. Net soos jy sukkel om Mr D te vervang met al die ander nuwe aflewerings-apps, is dit teen dié tyd moeilik om ’n lewe sonder Netflix in te dink. Elke nou en dan begin ek dink dis nie die geld werd nie, maar soos klokslag kom iemand met ‘n voorstel soos “kyk The Chair!“, of ’n nuwe Suid-Afrikaanse reeks nét op Netflix maak sy debuut – dan hou ek maar eers weer uit. Vir nuwer dienste soos dié van Disney en die BBC is dit dikwels moeiliker om die mark te betree wanneer die kompetisie reeds jare se ervaring van wat werk en wat werk nie, agter die blad het. As jy ’n Keeping Up Appearances-superfan is sal jy waarskynlik wel instem om die BBC se Britbox te kry. As jy die Saterdagoggende van jou jeug, op die mat voor die TV om Disney cartoons tussen happe ProNutro, met heimweë onthou, sal jy dalk wel Disney+ by jou televisiedieët wil insluit. Maar die buitensporige prys van hierdie nuwer dienste maak nie altyd sin nie. Nog minder as die inhoud nie noodwendig by die gehoor aansluit nie. e.tv se eVOD is een so voorbeeld – die inhoud is bloot vreemd vir ‘n Suid-Afrikaanse gehoor – behalwe as über-dramatiese oorgeklankte Turkse sepies jou vaaib is.
Wat’s in ‘n naam?
So gepraat van e.tv se eVOD – wat vir ’n (onoorspronklike) naam is dit? Terwyl eVOD daarstel dat dié app deel van e.tv is, is dit makliker om van Multichoice te vergeet as jy van Showmax praat. Die naam is actually oorspronklik en help om ‘n unieke en onafhanklike identiteit te vestig. Boonop is hul biblioteek gevul met programme wat ons ken, waarmee ons grootgeword het, en wat ook beskikbaar is op DStv. eVOD is minstens nie deel van ’n string stroomdienste wat bloot ’n plusteken as agtervoegsel gebruik nie: Disney+, Paramount+, Apple TV+, Discovery+ en (tans in ontwikkeling) CNN+. Wat name betref, dink ek Showmax is ’n kort koppie voor – dis al deel van ons woordeskat en dra nie die bagasie van sy moedermaatskappy saam nie.
Hoe groot is die TV-biblioteek?
Dit bring my by my volgende punt oor wat van ’n stroomdiens ’n sukses maak: sy biblioteek, óftewel sy argief van ou(er) programme en flieks wat jou aan die twyfelagtige haarstyle van die jare 80s, die smartsagas in die Gé Korsten-dae van Egoli, en die swak oorklanking van Beverly Hills 90210 en Melrose Place, herinner. Onlangs het Amazon $9 miljard (sowat R128 miljard) betaal om MGM se televisiebiblioteek te koop vir geen ander rede as om Prime Video te verbeter nie. Amazon sukkel al vir jare om met Netflix mee te ding omdat jy nie eintlik in een sin kan verduidelik wat hul identiteit is nie. Maar nou kry jy al die classics soos Murder She Wrote op Prime. Bo en behalwe sy gewigtige biblioteek, is Prime nie skaam om miljarde uit te vurk om oorspronklike inhoud – soos bekroonde The Marvelous Mrs. Maisel en ‘n TV-weergawe van The Lord of the Rings wat (hopelik!) teen volgende jaar klaar is – te vervaardig nie.
Oorspronklike inhoud
Meeste stroomdienste is ’n sukses bloot oor die nostalgie: Britbox het Doctor Who, Prime het Jessica Fletcher, Showmax het vir Egoli. Maar daar moet nóg iets wees, iets wat jou hook om jou daar te hou. Die wag-’n-bietjie-doring wat jou vashou voor jy besluit om jou maandelikse intekenfooi te kanselleer.
Dís waar Showmax ’n ses geslaan het met Devilsdorp – ‘n enkele program waaroor niemand kan ophou praat nie en op slegs een plek beskikbaar. Die prys is nie buitensporig nie en dis maklik om die Showmax-app te gebruik. En wanneer jy Devilsdorp klaargekyk het, kan jy ou episodes met Nenna in haar Marlboro Mansions-woonstel in Egoli kyk. Jy kan jou oë uithuil oor dié herinneringe én oor jou eie woonstelopsigter wat die skottel op jou stoep toegelaat het.