Groot persoonlikhede, two-on-one-afsprake (ja, jy het reggelees), romantiese aande, lang, intieme gesprekke, valskermspring gevolg deur ’n sonsondergangpiekniek op ’n gletser in die Arktiese Sirkel – wat realiteitsreekse oor liefde en dating betref, blyk die suksessyfers maar bra laag. En tog skakel miljoene mense in om te sien wie “liefde” vind, en wie se hart in stukke op reekse soos The Bachelor, Love Island en 90 Day Fiancé gebreek word.
Plaaslik het ons die gewilde reekse Boer soek ’n vrou, Op my Eish! en Hoor My Sien My Soen My – al drie op Showmax beskikbaar – wat kykers op die punt van hul stoele hou soos die soeke na ’n real connection verloop. Ram vir ’n Rus het ook ’n paar maande gelede sy debuut met ’n internasionale strategie van liefde vind.
Elke program is anders, maar in dié genre staan die doel sentraal: om ware liefde tussen vreemdelinge te vind. Dié reekse lewer deur die bank drama galore en epiese dates waaroor meeste van ons net kan droom. Dit gee enkellopendes hoop dat hul perfekte deksel ook iewers daar buite te vinde is, terwyl diegene in vaste verhoudings dalk hul eie liefdesreis opnuut in oënskou neem.
Daar is baie verskillende redes waarom werklikheidsreekse soos The Bachelorette, The Bachelorette SA, Temptation Island SA (al drie op Showmax) en Love is Blind (Netflix)) ons intrek, maar volgens die Kaapstadse sielkundige Kim Smit gaan dit minder oor wat ons sien, en meer oor wat ons voel.
Ek dink mense hou beslis van enige vermaak met drama en ’n goeie storielyn, maar wanneer dit by hierdie tipe reekse kom, dink ek mense word meer ingetrek deur hoe dit húlle laat voel.
Kim Smit, sielkundige van Kaapstad
Kim wys op die verskillende chemikalieë wat in jou liggaam vrygestel word as ’n effek van die gevoelens wat ’n kyker van só ’n reeks kan ervaar soos die gebeure voor hulle afspeel. Ja, ons weet dinge werk nie soos hierdie TV-verhoudings in hul “perfekte” TV-bubbles nie, maar die gevoelens wat tussen die paartjies ontwikkel en op skerm uitgebeeld word, is wel dikwels eg en iets waarmee ons kan identifiseer.
“Oksitosien is ’n hormoon wat deur die hipofise afgeskei word en wat betrokke is by baie neurochemiese prosesse, soos moederskap, borsvoeding en natuurlik die liefde. Daar is verskeie dinge wat die vrystelling van oksitosien in die liggaam kan aktiveer. Wanneer mense so invested in ’n paartjie se storie raak, ervaar hulle dikwels die emosies met hul eie, en hele lyf.
“So wanneer die paartjie vir die eerste keer soen, hande vashou of selfs mekaar in die bed vashou, leef mense hul só in die storie in, dat dit moontlik is dat hulle self daardie ‘liefdes’-hormoon se uitwerking ervaar,” verduidelik Kim.
“Dieselfde gebeur wanneer jou dopamien en serotonienvlakke styg as jy byvoorbeeld oefening doen of musiek luister,” met die gevolg dat iemand se gemoed lig.
“Ek dink mense hou beslis van enige vermaak met drama en ’n goeie storielyn, maar wanneer dit by hierdie tipe reekse kom, dink ek mense word meer ingetrek deur hoe dit húlle laat voel.
“Sonder dat jy weet of daaroor dink, het dít wat jy kyk dus ’n (fisieke) uitwerking op jou liggaam en hormone en nes die high van dwelms, kan dit ’n soortgelyke uitwerking op iemand hê. Maar dit is natuurlik ’n gesonder opsie om werklikheidsreekse te kyk…”
Ontsnapping…vir minstens ’n rukkie
Volgens Kim geniet mense dit ook om vir ’n oomblik te droom en van realiteit te ontsnap. Veral as dit wat jy op die TV sien vir jou hoop gee en van jou eie hartseer of dalk eensamigheid vir ’n oomblik laat vergeet.
Vir paartjies wat hierdie programme kyk, is dit eweneens ook ’n manier om vir ’n uur of wat uit die realiteite van hul eie verhoudings te ontsnap.
Dating shows gee ons baie drama, skandale, trane en laat ons by tye ook lekker lag, so dit is geen verassing dat ons nie genoeg daarvan kan kry nie.
Dít is deels ook omdat realiteits-TV ongelooflik goed is daarin om ’n storie te skep en karakters te ontwikkel uit ’n rolverdeling van regte mense met ’n unscripted formaat.
Ons kyk omdat ons wil weet wat gaan gebeur. Al bederf Reality Steve (’n TV-skrywer wat hou daarvan om kykers met spoilers te teister) dit soms vir ons wanneer dit by die Amerikaanse programme kom, is die drama en verhoudings interessant genoeg om dit die moeite werd te maak. En vir baie van ons strek ons belangstelling in hoe dinge gaan uitdraai verder as net die program self – ons hou ook sosiale media dop om te kyk of paartjies ná afloop van die reeks steeds bymekaar is. En ja, darem was daar al redelike liefdessukses met internasionale reekse se duifies.
Kyk byvoorbeeld na dié lys wat vroeër vanjaar deur SlotsUp vrygestel is (let wel, hierdie lys verwys na die Amerikaanse weergawes van die reekse):
- Temptation Island – 0 paartjies, 3 seisoene
- The Bachelor – 3 getroude paartjies, 25 seisoene
- The Bachelorette – 3 getroude paartjies, 17 seisoene
- Bachelor in Paradise – 2 getroude paartjies, 7 seisoene
- Married at First Sight – 13 paartjies, 12 seisoene
- Love is Blind – 2 getroude paartjies, 1 seisoen (Seisoen 2 begin op Netflix in Februarie 2022)
- 90 Day Fiancé – 31 getroude paartjies, 8 seisoene
Of jy nou liefde in ’n villa, op die strand, op ’n plaas of sommer in jou eie huis wil vind, daar is ’n dating show vir almal se smaak. So, aan die einde van die dag mag hierdie dalk nie altyd ware verhoudings wees nie, maar die gevoelens wat hulle vir ons as kykers gee, is die real deal.
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →