Of dit nou ’n braai is wat families bymekaar bring of ’n soet bederfie wat ’n gebroke hart weer heelmaak, die disse wat ons op televisie sien – en veral in ons sepies – herinner ons dikwels aan ons erfenis.
Wanneer Mymoena in Suidooster haar kerriegeregte (of koesisters, of samoesas!) uitdra, dink ons terug aan ons eie herinneringe… Die Saterdagoggende in ouma se kombuis, die geur van vars gebakte melktert, sjokolade-versiersel op ons vingers. Selfs die geselsies om ’n vuur met ons eie familie en vriende. Hierdie tonele word nie net op die skerm ervaar nie; dit leef in ons, omdat ons weet hoe dit voel.

Smullekker kombinasie
En dalk is dít juis hoekom kos en sepies so ’n kragtige kombinasie is. Soos ’n goeie resep word stories en tradisie saamgeklits om iets te skep wat langer hou as ’n episode se paar minute. Die geure, die liefde, die nostalgie… dit is alles deel van wie ons as Suid-Afrikaners is.
Hierdie liefdesverhouding tussen kos en storievertelling is niks nuuts nie. Dit gaan terug na die vroeë dae van plaaslike televisie. Ek onthou veral toe sepies soos 7de Laan en Egoli kos in ons huise ingebring het. Wie kan Nenna (Shaleen Surtie-Richards) en Elsa (Hannah Botha) se epiese bakgevegte in Egoli vergeet? Hul geregte was net so bekend soos die drama tussen hulle!
Of Oom Francois (Chris van Niekerk), Charmaine (Vinette Ebrahim) en Hilda (Annelisa Weiland), wat ná ’n lang en drama-belaaide dag ’n hanepoot in Oppiekoffie gesluk het. (Mos vir die senuwees…)
En dit is nie net sepies en telenovelas wat kos vier nie. Aktuele programme het deesdae almal ’n kos-insetsel. En dan is daar die lekkerte van realiteitsreekse soos Kokkedoor, Kokkedoor: Vuur en Vlam, My ma kook beter as joune en Kom ons Braai.
Sepie-kombuise
Kos het ’n kragtige draad gebly, een wat ons skerms aan ons kombuise bind; ons stories aan ons erfenis.
Ons sien dit veral in Suidooster. In die bedrywige strate van Ruiterbosch het ons al almal gesien hoe Bennie (Richard September) keer op keer sy gunsteling melkskommel van Oos-Wes soek wanneer die lewe te swaar word. Daardie dik, romerige melkskommel het sy toevlug geword – en op ’n manier ons s’n ook.
Dan is daar Mymoena (Jill Levenberg), wie se gegeurde Kaaps-Maleise-disse huise met die aroma van tradisie vul. Haar kerries, samoesas, koesisters, smullekker koeke en boeber-aand is soos ’n kulturele anker.
In Diepe Waters dra min dinge soveel emosionele gewig soos Lettie (Stephanie Baartman) se ikoniese melktert. Dit is die nagereg wat troos bring in tye van rou, dit is die eerste keuse om oorwinnings te vier en dit maak selfs die kleinste vreugdes soeter. Elke keer as daardie tert op ons skerms verskyn, herinner dit ons aan Suid-Afrikaanse kombuise waar resepte van geslag tot geslag oorgedra word.
En wie kan dan nou die dokters en verpleegsters van Binnelanders vergeet? Dié karakters se wêreld word deur hoë risiko’s en nog hoër spanning gedryf. Maar te midde van dít alles het Tonik se koffie ’n simbool van hernude energie geword. Tonik het ook ’n tipe toevlug geword waar bekentenisse gemaak, vriendskappe versterk, en lewensveranderende besluite oor stomende koppies koffie geneem word. En wanneer Conrad (Hykie Berg) en Naomi (Je-ani Swiegelaar) geliefdes bymekaar wil bring, is dit altyd ’n braai wat as verskoning dien. Die gelag, die gesis van vleis, ’n yskoue beertjie… niks sê Suid-Afrikaans soos dít nie.
Selfs die kleiner besonderhede tel. Patty (Gretchen Ramsden) se roosterkoek in Skemergrond en Kaashifa (Jawaahier Petersen) se nuutste slaaisous in Suidooster mag eenvoudig lyk, maar dit vertel ’n groter verhaal oor hoe innovasie en tradisie op een bord kan saamleef.
Kos in sepies vul nie net borde nie. O, nee! Dit vul die ruimtes tussen karakters en skep ook pragtige oomblikke van intimiteit en samesyn wat die storie verhef. Lekker eet!