Tiger King 2 (Netflix)
Tiger King 2 volg op die gebeure in verlede jaar se gewilde, by tye jaw-dropping, dokumentêre reeks Tiger King: Murder, Mayhem, and Madness.
Joe Exotic is agter tralies vir dieremishandeling en sy aandeel in die huurmoord-komplot op sy aartsvyand, Carole Baskin.
Baskin, met haar voorliefde vir blommekrone en dierpatrone, het straks geweier om in die opvolgreeks te verskyn en is hof toe om die uitreiking daarvan te keer. Netflix het egter die eerste rondte van dié hofstryd gewen en is steeds van plan om dit wêreldwyd op 17 November vry te stel. Baskin is ongelukkig oor Netflix glo “ongemagtigde” beeldmateriaal van haar in die dokkie gebruik.
Nogtans draai ’n groot deel van die Tiger King 2-storielyn om Baskin en haar rehabilitasiesentrum vir groot katte, Big Cat Rescue. Die keer word daar ook dieper gedelf in die geheimsinnige verdwyning van haar eerste man, Don Lewis, etlike jare gelede, asook ’n veldtog om pres. Trump te oortuig om Exotic van sy vonnis kwyt te skeld.
Exotic se voormalige sakevennoot en die nuwe eienaar van Exotic se dieretuin, Jeff Lowe, speel glo ’n sentrale rol in die tweede seisoen, wat ons net kan hoop so ongelooflik en absoluut bisar as die eerste sal wees.
- Vanaf 17 November op Netflix. Jy kan ook die eerste seisoen op Netflix kyk – of wéér kyk as jy ’n verfrisser van al die wildvreemde kinkels in die verhaal (en daar is baie) nodig het.
Chucky (Showmax)
Chucky is een van die bekendste karakters wat nog geskep is – selfs al weet jy niks oor die moorddadige pop nie, het jy in alle waarskynlikheid al van dié glimlaggende weirdo gehoor.
Chucky is die nuutste TV-iterasie van Don Mancini se Child’s Play-flieks, waaronder die kultusfliek, Bride of Chucky. Die Child’s Play-franchise bestaan al sedert 1988 en sedertdien is daar nog net een stemkunstenaar wat Chucky lewe gee, Brad Dourif.
Die storie is belaglik – en dit gee ook nie voor om enigiets behalwe belaglik te wees nie. Dit draai immers om ’n pop wat deur die gees van ’n reeksmoordenaar beset is. Let’s be real.
Die nuwe reeks, nou op Showmax, bly getrou aan die karakter se voorliefde vir alles gruwelik en afskuwelik en ’n ewe afgryslike humorsin.
Dit begin met Jake Wheeler (Zackary Arthur) ’n tiener wat vir Chucky by ’n garage-uitverkoping optel. Hy besef gou Chucky is minder pop, meer moordenaar…
Dis ’n bloedige affêre, maar ook…pret?
Jy hoef nie die franchise te ken om die reeks te volg, te geniet, of te haat nie. Maar wees realisties met jou verwagtinge: dis good-time fun dié, nie ’n kandidaat vir beste draaiboek by die Golden Globes nie. En juis só blink dit uit as ’n reeks wat niks anders belowe as wat dit is nie: Low-brow camp indulgence.
Dr. Death (DStv)
Ons almal ken ’n dr. Christopher Duntsch – iemand wat glo die reëls geld nie vir hulle nie. Met daardie sonderlinge arrogansie bars hulle deur die lewe, dikwels ten koste van ander.
Maar Duntsch, die Dr. Death van die titel, is dáái tipe doos in oortreffende trap. Sy arrogansie, sy God-kompleks, is ook deur ’n bloedspoor vergesel.
Dr. Death is ’n prysenswaardige blik op hoe iemand, vir so lank, met dodelike dade kon wegkom. Dis nie net hy wat vir die vermorselde ruggraat van ’n pasient, of die voorkombare dood van ’n ander, of operasie na operasie wat véél meer pyn as verligting gebring het, moet boet nie. Nee, ook die korporatiewe gesondheidsbedryf wat winste bo lewens geplaas het, moet voor stok gekry word.
Die reeks is, soos die gelyknamige podcast wat dit voorafgegaan het, gegrond op ware gebeure. Hier word dit binne ’n fiktiewe arena geplaas met nougesette, meevoerende ertolkings deur Joshua Jackson (Duntsch), en Alec Baldwin en Christian Slater as dokters Robert Henderson en Randall Kirby.
Dit was Henderson en Kirby wat eerste onraad vermoed het nadat Henderson ingeroep is ná een van Duntsch se operasies erg skeefgeloop het. Dit het gou duidelik geword dat dit beslis nie die eerste verbroude operasie was nie –trouens, hoe meer vrae hulle gevra het, hoe nader het die hele situasie aan waansin gegrens. Totdat dit uiteindelik sou blyk dat die waarheid werklik, en heeltemal, waansinnig is.
Dít ten spyte was dit ’n opdraende stryd om Duntsch verantwoordbaar te hou.
Jackson beeld die traak-my-nieagtige houding van Duntsch só uit dat jy as kyker later ’n amperse tasbare haat vir hom ontwikkel.
- Jy het tot en met 7 Desember om die box set op DStv te kyk.
Midnight Mass (Netflix)
Dié reeks deur Mike Flanagan – ook die skepper van The Haunting of Hill House en The Haunting of Bly Manor – is ’n veelvlakkige verhaal wat die donkerste elemente van die gruwel- en riller-genres vermeng. Die uiteinde is sewe episodes met ’n versameling nagmerries wat in die lewe geroep word om jou tot in die lengte van dae in die diep, donker nag te teister.
Flanagan is nie een vir die obvious nie. Hy hou van smokkel met jou kop en in Midnight Mass, soos in The Haunting of Hill House en Bly Manor, bou hy stadig aan die storie met lang monoloë, innemende karakters en talmende kameraskote. Hy speel terroris met jou vrese terwyl hy temas van godsdiens en geloof, en so ook vergifnis, verwyt en rou ondersoek.
Die storie begin met die aankoms van ’n nuwe priester op ’n klein, afgetakelde eiland, waar die vissers sukkel om die pot aan die kook te hou. Teen die tyd wat die priester wonderwerke begin verrig, flikker die gevaarligte op die helderste rooi van alle rooie.
Meer oor die premis kan ’n mens nie se sonder om die storie te bederf nie. Maar weet dit: Midnight Mass is die beste gruwelreeks vanjaar.
- Kyk dit op Netflix.
Locke & Key S1-2 (Netflix)
Locke and Key is een van daai reekse wat boer op die grens tussen fantasties en flater. Hoewel die storie self meesleur, is die vertelling by tye só gejaagd jy kan skaars asemskep. Dit kan wel ook ’n goeie ding wees en Locke and Key loop ’n fyn lyn hiermee – sy ryk poel fantasie en magic is sy redding.
In die eerste seisoen het die vermoorde Rendell Locke se gesin – sy weduwee Nina en kinders Tyler, Kinsey en Bode – van Seattle na Rendell se grootword-huis in Massachusetts verhuis. By Keyhouse aangekom, ontdek die kinders ’n klomp geheimsinnige sleutels en kom gou agter dit het towerkragte…en dat ’n demoon die sleutels soek.
Die eerste seisoen het afgesluit met die Rendell-kinders wat dink hulle het die demoon – Dodge – vernietig, maar aan die begin van die tweede aflewering leer hulle dat Dodge bloot ’n ander liggaam as gasheer gebruik.
Die hele resies vir oorlewing begin dus van voor en dis hier waar die pas dalk jou nek kan breek. Daar is te veel wat oor die loop van net 10 episodes moet gebeur. Tesame met die donkerder atmosfeer kan dit oorweldig.
Tog, as jy kan byhou, is dit die lekkerte van fantasie, van magic en die dinge wat ons nie kan verduidelik nie, wat keer dat jy ophou kyk en eerder maak dat jy binge.
- Kyk dit op Netflix.
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →