Menu terloops
In Wat om te kyk [11 Sep 2025]

‘Tussen mure’ bring unieke manlike interieurs na kykNET


‘Tussen mure’ is ’n program vir almal wat geïnspireer wil word deur mans se kreatiwiteit, styl en leefruimtes.

‘Tussen mure’ bring unieke manlike interieurs na kykNET

Die splinternuwe kykNET-reeks Tussen mure, gebaseer op die ikoniese koffietafelboek Masculus – The Male Domain deur Leoni Smit, begin Sondag 5 Oktober om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en beloof om kykers op ’n skouspelagtige visuele reis deur Suid-Afrikaanse mans se interieurs te neem.

Foto: Instagram/@cheaparistocrat

Die program kombineer stylvolle ruimtes met boeiende gesprekke tussen die aanbieders en die uiteenlopende mans wat in die boek verskyn.

Die aanbieders

Leoni Smit is die skrywer, kreatiewe redakteur en stilis van Masculus – The Male Domain. Met ’n internasionale reputasie vir haar skerp oog vir interieurs, styl en visuele storievertelling, bring sy meer as 20 jaar se ervaring in fotografie, die advertensiewese en televisie na die program.

Leoni Smit.

Eugene Coetzee is ’n meesterlike ontwerper wat ruimtes nie net betree nie, maar orkestreer. Sy gevoel vir balans, elegansie en detail gee kykers ’n uitsonderlike blik op die samevloeiing van kreatiwiteit, funksionaliteit en emosie.

Eugene Coetzee.

Unieke invalshoek

“Die groot verskil is dat dit net op mans en hulle styl fokus. Dit is ’n verkenningsreis, en dit is moeilik om nie geïnspireer te word deur die mans, hulle styl en hulle stories nie,” verduidelik die vervaardiger, Elmi De Pauw.

Vir Leoni Smit het die fassinasie reeds jare gelede begin toe sy landswyd gereis het om die regte kandidate en hul ruimtes te vind: “Die interieurs is drie jaar gelede gekies, en ek het spesifiek gesoek na ruimtes wat uitsluitlik mans se dekor weerspieël – geen binnenshuise versierders nie, net egte stories en ware versamelaars. Tog moes dit steeds aan internasionale standaarde van smaak voldoen.”

Eugene Coetzee voeg by: “Wat my die meeste beïndruk het, was hoe elke gas se ruimte ’n gevoel van harmonie, skoonheid en deurdagte ontwerp uitstraal. Van gedetailleerde muurskilderye en elegante meubels tot dekoratiewe voorwerpe – elke element roep waardering op vir die estetiese keuses en die atmosfeer wat geskep word.”

Style én stories

“Die stylvolle interieurs vang dadelik die oog, maar dit is die stories wat jou verras. Wat Tussen mure besonders maak, is dat hierdie huise nie deur eksterne ontwerpers ingerig is nie – elke ruimte is deur die mans self geskep, ’n direkte weerspieëling van hulle persoonlikheid en leefstyl,” sê Elmi.

Eugene beklemtoon dat kykers deurgaans verras sal word: “Kleure, teksture en lig speel ’n groot rol, en sommige huise het ’n harmonieuse kleurpalet en unieke meubels wat ’n estetiese ervaring bied.

“Daar is ook persoonlike stempels – kunswerke, memorabilia en selfs eenvoudige items wat ’n ruimte ’n emosionele diepte gee. Baie van die huise het innovatiewe en selfs ekologies bewuste ontwerpe, wat dit nog meer relevant maak.”

Spesiale hoogtepunte

Dit is moeilik vir Elmi om ’n gunsteling uit te sonder: “Elke persoon wat ons ontmoet het, was vir my uiters interessant en fantasties. Ek het selfs my eie mat in een van die huise raakgesien – toe voel ek sommer baie cool. Op ’n meer ernstige noot: Al die mans het ons met ope arms ontvang en hulle stories en huise met ons gedeel, en dit het die ervaring ongelooflik spesiaal gemaak.”

Die boodskap

Vir Smit lê die betekenis van die reeks in sy potensiaal om te inspireer: “As dit net ’n geselsprogram is, gaan kykers eenvoudig saamklets en geniet. Maar as die interieurs treffend en betekenisvol is, sal mense geïnspireer word om meer te waag, hulle minder te steur aan wat ander dink en om hulle eie ruimtes outentiek te bou.”

Eugene sluit aan: “Die boodskap wat ek hoop kykers sal saamneem, is dat interieurs nie net oor fisiese ruimtes gaan nie, maar oor die emosionele en persoonlike verbintenis wat jy met jou omgewing het. Wanneer jou huis jou storie vertel, raak dit ’n plek van identiteit en geluk.”

Eugene.

Waarna kykers kan uitsien:

  • Die historiese dorp van Philadelphia en Dapper de Wet se stylvolle perd-en-boere-erfenisruimte.
  • Barrydale se “Langhuis” van Gert van de Merwe en Jaco Jansen van Rensburg, vol eklektiese versamelings.
  • ’n Tong-in-die-kies, buitengewone toer saam met die kunstenaar Nicolaas Maritz in sy museum.
  • Halfaampieskraal se betowerende interieur geskep deur Jan-Georg Solms en Cobus Geldenhuys – ’n visuele storie vol verrassings.

Tussen mure is ’n program vir almal wat geïnspireer wil word deur mans se kreatiwiteit, styl en leefruimtes. Van historiese erfenis tot moderne ontwerp, elke episode bied iets besonders om te ontdek.


Tussen mure begin Sondag 5 Oktober om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
Sien alle opsies