Transplant is ’n dramareeks wat handel oor Bashir “Bash” Hamed. Hamed is ’n vlugteling uit Sirië wat poog om sy loopbaan as ’n dokter by die ongevalle-eenheid van die fiktiewe York Memorial-hospitaal in Toronto, Kanada te herbou.
Die rolverdeling sluit in die BAFTA-genomineerde akteur John Hannah (Agents of S.H.I.E.L.D.) en Ayisha Issa (12 Monkeys), ’n voormalige Brasiliaanse Jiu-Jitsu-wêreldkampioen.
Volgens The Wall Street Journal is Transplant “die beste mediese program op Amerikaanse televisie”. Dít terwyl die resensent Anthony Morris vir dr. Hamed tussen die huidige gros TV-dokters uitgesonder het as “die mees oortuigende nuwe dokter vandag op TV.”
Die reeks se vierde seisoen is egter ook sy laaste. Volgens die reeksskepper, Joseph Kay, was dít glo altyd die plan om die storieboog oor die loop van vier seisoene te voltooi.
Al vier seisoene van Transplant is op Showmax beskikbaar.