Menu terloops
In Sepies [1 Apr 2026]

‘Suidooster’: Skok ná skok tref Ruiterbosch in April


April is beslis geen grap in ‘Suidooster’ nie, want daar is ’n epiese ontploffing van drama in Ruiterbosch, die fiktiewe Kaapse woonbuurt waar die kykNET-sepie afspeel. 

Deur Redaksie

Kyk 'Suidooster' op DStv Stream

‘Suidooster’: Skok ná skok tref Ruiterbosch in April

Skokkende besluite skeur geliefdes uitmekaar, terwyl geheime en leuens dreig om alles te vernietig in Suidooster. Soos dit in die sepiewêreld gaan, begin verhoudings wankel, lojaliteite word bevraagteken, spanning laai op en die skeidslyn tussen reg en verkeerd vervaag al hoe meer. 

Intussen skuil daar gevaar in die skaduwees en magspeletjies dreig om die gemeenskap onherroeplik te verdeel. Net wanneer dit voel asof dinge nie meer intens kan raak nie, veroorsaak onverwagse wendings – en ’n verrassende nuwe gesig – nóg skokgolwe in Ruiterbosch. 

Kyk uit vir hierdie ses storiekinkels:

1

’n Bittersoet totsiens

April begin op ’n emosionele noot wanneer Susan (Natasha van der Merwe) en Elana (Esther van Waltsleben) ’n lewensveranderende besluit neem. Veral vir Bennie (Richard September) is dit baie swaar om van klein Bella afskeid te neem, want sy is deur Susan en Elana aangeneem, en sy gaan saam met hulle weg. Hulle bring egter al hul vriende vir oulaas byeen vir Bella se doop – ’n mooi geleentheid wat Ruiterbosch vir altyd sal onthou. 

SUIDOOSTER
Susan (Natasha van der Merwe) en Elana (Esther van Waltsleben) neem ’n lewensveranderende besluit. Foto’s: Skermgrepe
2

Liefde, leuens en tweede kanse

Riaan (Daniel Coetzee) en Amanda (Lindie Strydom) knoop ’n geheime verhouding aan, maar gaan hul liefdesvlam deur twyfel en druk van buite geblus word? Wanneer Mike (Anrich Herbst) egter onverwags terugkeer en dit duidelik word dat hy steeds gevoelens vir Amanda koester, word alles op sy kop gedraai. Kate (Annelise Weiland) se inmenging maak sake nog meer gespanne, en Frankie (Mienke Ehlers) word ook verstrengel in hierdie emosionele chaos. Die mat word onder almal se voete uitgeruk wanneer Justin (Eden Classens) iets skokkend uitvind.

3
SUIDOOSTER
Gary (Craig Adriaanse) ontdek oom Willie (Pierre van Pletzen) het ’n geheime verlede.

Gary (Craig Adriaanse) se nuwe vriendskap met oom Willie (Pierre van Pletzen) neem ’n dramatiese wending wanneer hy ontdek dat die bejaarde man ’n geheime verlede het. Een wat diamante, onreg en ’n ou rooftog insluit. Saam met Angie (Char Carrie) en Wade (Dean Smith) word Gary ingetrek in ’n plan om die verlore diamante terug te kry om reg te stel wat jare gelede verkeerd geloop het. Maar wat as ’n goeie daad begin, verander vinnig in ’n riskante affêre, veral wanneer gevaarlike karakters opdaag. Hulle besef dat hierdie missie groter en gevaarliker gevolge kan inhou as wat hulle ooit verwag het.

4

Nazeem vs Bridgette: ’n oorlog om mag en grond

Die grootste konflik van April bou stadig maar seker op… Nazeem (Irvine van der Merwe) probeer homself as Ruiterbosch se wyksraadlid posisioneer as ’n “man van die mense”. Sy dade en bedoelings begin egter al meer verdag lyk. Wanneer hy JPD uitoorlê en grond bekom vir sy eie projek, is die gort behoorlik gaar. Siya (Gantane Kusch) word vasgevang in die nuutste oorlog tussen Bridgette (Denise Newman) en Nazeem. Wat volg, is ’n alles-of-niks stryd wat uiteindelik uitloop op ’n dramatiese openbare onthulling wat die magbalans in Ruiterbosch permanent kan verander. Siya moet besluit waar sy lojaliteit lê – en watter prys hy bereid is om daarvoor te betaal.

5

Verhoudings wat stadig begin skuif

SUIDOOSTER
Angie (Char Carrie) en Wade (Dean Smith) is nie altyd op dieselfde bladsy nie – wat beteken dit vir hul verhouding?

Wade en Angie se verhouding word opnuut getoets en dit word duidelik dat hulle nie altyd op dieselfde bladsy is nie. Terwyl Angie impulsief en emosioneel reageer, probeer Wade meer logies dink. Dit verhoog net die spanning tussen die twee. Intussen begin Zoë (Lauren Joseph) stadig maar seker weer ’n rol in Wade se lewe speel. En dís natuurlik olie op die vuur! Gaan Angie en Wade se verhouding net deur troebel water, of is die skip besig om te sink?

6

’n Hollywood-ster verras Ruiterbosch 

Ruiterbosch gons wanneer ’n wêreldbekende akteur skielik opdaag. Hugo (David Chevers) – ’n oud-inwoner wat groot naam vir homself in Hollywood gemaak het – trek onmiddellik aandag. Maar nie almal is oortuig van sy bedoelings nie. 

SUIDOOSTER
Hugo (David Chevers) is ’n ou inwoner van Ruiterbosch wat intussen roem in Hollywood behaal het.

Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DSTv-kanaal 144) en om 18:30 op kykNET & Kie (DSTv-kanaal 145) uitgesaai. Dit is ook beskikbaar op DStv Stream en Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

13

Wat om te kyk dié Vrouemaand: 13 reekse en rolprente waarin vroue die storie dryf

Wat om te kyk: Vir Vrouemaand het ons ’n kyklys saamgestel van reekse en rolprente waarin kragtige aktrises aan onvergeetlike vroue-karakters lewe gee.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in Augustus misloop nie

Van 'Gesels' en Michael Fassbender se 'The Agency' tot 'Ted Lasso' en 'Reacher' se vierde seisoene – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer
12

Wat om te kyk: 12 Afrikaanse reekse om nou te stroom

Van die rillerreeks ‘Donkerbos’ en 'Ontwaak' tot die bekroonde 'Koek' en 'Wyfie' – hier is ons keur van die beste Afrikaanse stories om nou op DStv Stream te kyk.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer
Sien alle opsies