Menu terloops
In Sepies [1 Mei 2026]

‘Suidooster’ in Mei: Vier storielyne met verreikende gevolge


In die komende weke gaan daar geen tekort aan drama in die kykNET-sepie, ‘Suidooster’ wees nie. Daar’s ’n liefdesdriehoek, skokonthullings, nuwe gesigte met verskuilde agendas en gevaarlike alliansies op Ruiterbosch se horison.

Deur Redaksie
‘Suidooster’ in Mei: Vier storielyne met verreikende gevolge

Soos die die laaste herfsblare deur die strate van Ruiterbosch, die fiktiewe Kaapse woonbuurt waar die kykNET-sepie Suidooster afspeel, ritsel, skets dit ook ’n onheilspellende prentjie oor wat vir die inwoners voorlê.

Dit begin veral duidelik raak dat hierdie ’n koue winter in Ruiterbosch gaan wees, een waartydens die een onvoorspelbare storm na die ander gaan losbars en heel moontlik verwoesting kan saai.

Daar’s ’n liefdesdriehoek wat op die randjie van ’n ineenstorting huiwer, skokonthullings, nuwe gesigte met verskuilde agendas en alliansies wat teen ’n duur prys kom. Dis maar net ’n tikkie van die drama wat jy gedurende Mei-maand in Suidooster kan verwag.

Wees veral op die uitkyk vir hierdie vier storielyne:

1

Angie én Zoë: Wie wen finaal Wade se hart?

Angie (Char Carrie) het ’n nare voorgevoel dat sake tussen haar en Wade (Dean Smith) nie heeltemal pluis is nie. En haar instink laat haar nie dié keer in die steek nie. Terwyl sy worstel om haar verhouding met Wade te beredder, sien Zoë (Lauren Joseph) ’n gulde geleentheid om Wade se hart terug te probeer wen.

Nes dit begin lyk of Zoë dalk die hef in die hand het, besluit Wade om ’n romantiese Mosambiek-wegbreek saam met Angie te reël. Dié poging gee vir Angie baie hoop, maar dinge draai nie heeltemal uit soos sy verwag nie.

Hoe lank kan Wade nog op twee stoele sit voordat alles in duie stort? ’n Skokkende nadraai verander alles in hierdie liefdesdriehoek.

2

Mike en Lee-Ann: Van konflik na flikflooi

Mike (Anrich Herbst) se aanstelling JPD skep onmiddellik spanning – veral met Lee-Ann (Portia Joel). Hy speel volgens sy eie reëls en op haar beurt het sy weer geen tyd vir sy nonsens nie.

Ná konstante konflik tussen die twee besluit Bridgette (Denise Newman) om hulle in te roep en daaroor voor stok te kry. Maar wat begin as twee hardekoejawels wat deurentyd koppe stamp, begin dit lyk asof dié twee begin om mekaar se geselskap te geniet.

Afsprake volg en gevoelens begin ontwikkel, maar Lee-Ann het ’n kwellende vermoede dat Mike dalk nog nie heeltemal van Amanda (Lindie Strydom) vergeet het nie. Is hy regtig oor sy eksvrou of is dit Lee-Ann wat bloot net ’n rede soek om dinge nie verder te vat nie?

3

Hugo: ’n Verskietende ster

Wanneer ’n Hollywood-superster in Ruiterbosch opdaag, is almal in rep en roer – veral Justin (Eden Clasens). Maar die glans van Hugo (David Chevers) se sjarme begin vinnig verdof nadat hardnekkige gerugte oor sy ontstellende gedrag opduik. Dan volg daar ’n onthullende potgooi en uiteindelik ernstige beskuldigings, en dit saamgeklits skets ’n donker prentjie van die man wat byna almal eers bewonder het.

Aanvanklik kies Justin Huge se kant, maar ook net tot die waarheid onmiskenbaar na vore kom. Nou moet hy saam met Frankie (Mienke Ehlers) en Gary (Craig Adriaanse) dit wat verbrou is, reg te probeer maak en vir Hugo in die openbaar ontbloot. Maar dit kom teen ’n groot prys vir Justin, ’n prys wat sy hele wêreld kan omkeer.

4

Ava: ’n Nuwe apteker (met ’n donker kant)

’n Geheimsinnige vrou, bekend as “Viper”, maak haar verskyning by Nazeem (Irvine van der Merwe) se poker-aand. En natuurlik is hy onmiddellik gefassineer deur die nuweling.

Wanneer hy ontdek sy is Ava (Simone Neethling), die nuwe apteker, raak dinge nóg meer ingewikkeld. Bedags professioneel, maar snags onvoorspelbaar.

Nazeem probeer haar ontrafel, maar sy is meer uitgeslape as hy en byna heeltyd een tree voor hom. Mymoena (Jill Levenberg) vermoed egter daar is ’n slang in die gras en sy waarsku vir Nazeem dat dit in ’n giftige situasie kan ontaard. En dié dobbelspel begin nou eers . . .


Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DSTv-kanaal 144) en om 18:30 op kykNET & Kie (DSTv-kanaal 145) uitgesaai. Dit is ook beskikbaar op DStv Stream.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
Sien alle opsies