Jasmine (vertolk deur aktrise Khadija Heeger) se lewe word in Skemergrond tot in die fondamente geskud wanneer ’n lank verborge geheim oor haar huwelik skielik aan die lig kom. Ná jare wat sy geglo het haar verhouding met JP is op vertroue en ’n gedeelde geskiedenis gebou, ontdek sy ’n geheime finansiële ooreenkoms tussen hul families het ’n rol gespeel om hulle bymekaar te bring.
Die waarheid kom op die lappe wanneer JP se jonger broer, PJ, opdaag en meer geld eis. Hy dreig dat hy die ooreenkoms sal ontbloot indien sy eise nie nagekom word nie. JP word só uiteindelik gedwing om te bieg. Dít ontketen dan ’n kettingreaksie ontketen wat die Louw-huishouding diep raak.
Jasmine worstel veral met ’n diep gevoel van verraad deur die mense naaste aan haar. Maar terwyl sy probeer om die emosionele nagevolge te verwerk en die stabiliteit van haar gesin te beskerm, moet sy ook moeilike keuses maak. Sy vrees dat sy die lewe wat sy met soveel bloedsweet en toewyding opgebou het, kan verloor.

‘Hoe sou ek voel as dit met my gebeur het?’
Hierdie komplekse storielyn het diep introspeksie van Khadija geverg.
“Die vraag wat ’n mens jouself moet afvra, is: Hoe sou ek voel as dit met my gebeur het? Dis eintlik ’n goeie vraag om gereeld in die lewe te vra. Ek soek dikwels na ooreenkomste met my eie ervarings – dalk nie die omstandighede nie, maar ’n soortgelyke emosionele bron waaruit die spel kan groei.”
Volgens Khadija beïnvloed dié verraad hoe Jasmine na die mense naaste aan haar kyk. “Dit is ’n enorme verraad vir enigiemand. Dit ruk die fondamente waarop haar verhouding met JP gebou is. Ten spyte van hul probleme was hy nog altyd ’n vaste steunpilaar in haar lewe, haar lewensmaat. Dit laat haar ook haar ouers se liefde, wie sy is en wat haar lewe nou beteken, bevraagteken. Maar bo alles sny die verraad deur haar ouers diep.”
Veelvlakkige toneelspel-reis
Om Jasmine se reaksie op JP se lank bewaarde geheim te speel, moes Khadija deur verskeie komplekse emosies werk. “Hy is ’n pilaar vir haar. Sy vertrou hom en daarom slaan dit haar uit die veld uit. Dit het nie net gegaan oor ‘woede’ speel nie. Dit was ook die aanvanklike skok, die ongeloof en die teleurstelling dat hy al die jare daarvan geweet het. Terselfdertyd weet sy in haar hart dat hy vir haar lief is. Daardie spanning het dié reis veelvlakkig gemaak.”
PJ se verskyning bring aanvanklik ’n kontras in toon, maar laat ook die spanning oplaai. “Dit was baie interessant om teenoor Keenan Arrison te speel. Jasmine gee nie regtig om vir PJ nie – sy verdra hom omdat sy vir JP lief is. Ek en Keenan het vroeg besluit dat sommige oomblikke selfs ’n bietjie humoristies kan wees. Maar sodra Jasmine uitvind hoeveel geld betrokke is en hoe lank dit al aanhou, verander alles en begin die emosionele intensiteit opbou.”
Sake word verder gekompliseer deur Lizelle (Melanie du Bois), ’n prokureur met ’n gedeelde geskiedenis met JP. “Ek wou ’n jonger kant van Jasmine wys – amper soos ’n tienerliefde wat weer opvlam. Sy probeer haar waardigheid behou, maar daar is ’n onderstroom in die blikke en lyftaal. Dis die eerste keer dat sy werklik voel haar verhouding met JP word bedreig. Daardie kwesbaarheid was belangrik om te verken.”
Om die pad terug te vind…
Khadija glo Jasmine se krag lê in haar vermoë om weer by haarself uit te kom, ten spyte van alles. “Jasmine het ’n sterk besef van wie sy is. Selfs wanneer sy voel sy verloor haarself, vind sy altyd weer haar pad terug. Sy verstaan wie JP is en weet hy is lief vir haar, maar sy moet steeds deur die skok werk om te besef sy het in ’n ander storie geleef as dié wat ander geken het.”
Sy hoop kykers sal iets betekenisvols vind in die diepe waters waardeur Jasmine gaan. “Sommige geheime moenie geheime bly nie. Mense moet met mekaar praat. Jasmine is diep deernisvol en gebrekkig – soos ons almal. Dis oukei om nie perfek te wees nie.”
Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.