Menu terloops
In Silwerskermfees [11 Aug 2026]

Silwerskermfees 2026: Dié speelfilms betower op vanjaar se fees


Nico Scheepers met ’Landmyn’, Jason Jacobs en Devon Delmar met Marita van der Vyver se jeugroman ‘Al wat ek weet’, en Zandré Coetzer met ‘Silas en die Ysbeer op Tafelberg’, asook Jacobs en Delmar se ‘Variasies op ’n tema’ – ons vertel jou meer oor die speelfilms wat deel van vanjaar se Silwerskermfees uitmaak.

Deur Redaksie
Silwerskermfees 2026: Dié speelfilms betower op vanjaar se fees

Die 14de kykNET Silwerskermfees vertoon vanjaar 22 rolprente, waaronder dokumentêre, onafhanklike kortfilms, asook kortfilms deur gevestigde én opkomende filmmakers en vollengte speelfilms.

Hier is als wat jy moet weet oor die speelfilms wat vanjaar by die Silwerskermfees vertoon word:

1

Silas en die Ysbeer op Tafelberg sal oud en jonk se verbeelding aangryp

Silas en die Ysbeer op Tafelberg vertel die roerende en betowerende verhaal van Silas (Neels Clasen jr.) wat ná die dood van sy ouma (Antoinette Kellermann) glo sy het net in Droomland verdwaal. Hy besluit om haar te gaan soek en pak die reis saam met ’n nuwe maatjie, Willemien (Luna Coetzer), aan. In hul soektog kom hulle allerlei interessante karakters in lewende lywe teë, soos ’n Hus (Beer Adriaanse), Van Hunks (Neil Sandilands) en Toemaar (Brendon Daniels).

Regisseur Zandré Coetzer vertel dié film het met ’n eenvoudige gesprek begin. “Ons dogter (Luna) het eendag vir my vertel ’n maatjie het haar oupa verloor. Dit het my laat besef hoe min ons as volwassenes eintlik met kinders oor dood, verlies en hartseer praat. Ek wou ’n storie maak wat nie probeer om daardie moeilike vrae maklik te beantwoord nie. Kinders het nie altyd antwoorde nodig nie; soms net ’n veilige plek om saam met iemand deur ’n gevoel te werk.”

Annie Klopper het die draaiboek geskryf.

2

Duo huldig die Kaap en haar mense met film van Marita van der Vyver se Al wat ek weet

Die bekroonde filmmaker-duo Devon Delmar en Jason Jacobs het met die verfilming van Marita van der Vyver se jeugroman Al wat ek weet nie net afgewyk van die fokus op eie stories nie, maar ook die platteland vir die stad verruil, spesifiek Kaapstad.

Ná die dood van sy ma woon die tiener Gabriel (Jonan Mouton) by sy antie Lotta (Zenobia Kloppers) en ouma Lenie (June van Merch) in Springfield Terrace in Woodstock. Weens sy houding stoot hy mense weg, en in terapie onderdruk hy sy rou-proses deur eerder op fantasieë te fokus. Sy lewe begin ’n nuwe rigting inslaan ná hy Sasha (Antoinette Myburgh) ontmoet. Om haar te beïndruk, besluit hy om deel te neem aan ’n nasionale digkuns-kompetisie, nou moet hy nog net die gedigte skryf… 

Al wat ek weet is die derde speelfilm van dié duo. Die ander is die bekroonde Carissa en Variasies op ’n Tema, wat ook by vanjaar se Silwerskermfees vertoon word.

Die duo vertel dat in wese is dié film ’n gesinsdrama – oor mense wat ons almal ken en liefhet – wat met fyn aanvoeling, warm humor en magiese elemente vertel word. Veral Gabriel se reis van diep rou tot om oor te begin hul getref het.

“Dinge raak baie donker vir hom naby die einde, maar daar is ook hoop. Van lekker lag kom lekker huil. Ons sien ook baie van onsself in hom, veral omdat ons ook so hardkoppig was as tieners wat gesukkel het om oor ons gevoelens te praat. Ons hoop jonger mans sal aanklank vind daarby. Ons leef steeds in ’n tyd waar ons nie genoeg veilige ruimtes vir tieners skep om eerlik te wees oor wat regtig in hul harte aangaan nie.”

3

Scheepers se Landmyn belig oorgeërfde drama binne familieverband

Nico Scheepers volg verlede jaar se bekroonde riller Hen op met Landmyn, ’n intieme drama oor oorgeërfde trauma, verpligting en die onmoontlike daad van opgee.

Vir die eerste keer in ’n dekade herenig twee susters en ’n broer vir ’n wintervakansie aan die Suid-Afrikaanse kus. Elkeen het elders ’n lewe opgebou in ’n poging om die onstabiliteit van hul kinderdae en die lang skadu van hul ma, Annatjie, te ontsnap. Die samesyn ontspoor wanneer die suster op besoek uit die buiteland erken dat sy hul ma genooi het om by hulle aan te sluit. 

Annatjie arriveer soos ’n storm en trek die familie terug in ou patrone van wrewel, oorlewing en onafgehandelde geskiedenis. Soos die dae verloop, begin haar teenwoordigheid die afstand afbreek wat hulle tussen hulself en hul verlede probeer bou het. Nie eens Annatjie se pragmatiese suster kan volhou om te probeer brûe bou nie. Die kinders word gedwing om uit te werk hoeveel van hul lewens steeds om haar swaartekrag ineen vou, en of daardie houvas ooit werklik verbreek kan word. 

Scheepers, oorspronklik veral bekend as teaterskepper, se eerste speelfilm, Hen, het in 2025 agt Silwerskerm-pryse gewen, terwyl sy televisiereeks Donkerbos eweneens etlike pryse ingepalm het, waaronder die Safta-prys vir beste regisseur. Landmyn is sy tweede speelfilm, waaraan 16 intense dae van verfilming afgestaan is. 

Scheepers verwys na die film as “kamermusiek” en sê die film gaan nie oor hoe ons wil wees nie, maar hoe ons is. “Mense is komplekse, deurmekaar gedaantes wat net soveel seermaak as wat ons genees. Veral met onsself, en met die wat naaste aan ons moet wees: ons familie.

“Ek wil nie stories vertel wat kykers streel en sus en laat beter voel oor die dele van hulself wat hulle wil wegsteek nie. Kom sit in die donker en wees eerlik met jouself. Families is moeilik. Nie alle huise is goeie huise nie. En om saam te oorleef ten spyte van verdien ook ’n storie.”

4

Veelbekroonde Variasies op ’n tema maak plaaslike buiging

Variasies op ’n tema is die tweede prent van die regisseursduo Jason Jacobs en Devon Delmar op vanjaar se fees. Dié film ding egter nie aan die kompetisie mee nie.

Die verhaal is geskoei op ’n ware verhaal van Jason se ouma, Ouma Hettie, van Kharkams in die Noord-Kaap. Sy is ’n tagtigjarige Namakwalandse bokwagter wat in dié uitgestrekte landskap soos talle ander bly hoop vir kompensasie, ná haar man in die Tweede Wêreldoorlog gesneuwel het. 

Die veelbekroonde rolprent, wat onder meer die Tiger-prys by vanjaar se Rotterdamse Rolprentfees gewen het, is ’n ontroerende visuele portret oor die mens se volharding te midde van die smart en letsels van ’n koloniale verlede. Jason en Devon se speelfilm-debuut was die bekroonde Carissa en hul derde prent, Al wat ek weet, word ook by vanjaar se Silwerskermfees vertoon. 


Die 14de kykNET Silwerskermfees word van 19 tot 22 Augustus in Kampsbaai, Kaapstad, aangebied. Kaartjies vir die films, asook die toekenningsgeleentheid op Saterdag 22 Augustus, is beskikbaar by Quicket.

Vir die volledige program, besoek www.silwerskermfees.co.za.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

’n Skokwending en gevaarlike versoekings vier hoogty in ‘Suidooster’ dié Oktober

Ou vetes vlam op, nuwe liefde vertroebel oordeel en ’n skokwending ruk een gesin se wêreld in Ruiterbosch. Dié Oktober loop spanning hoog in Suidooster. Hier is vyf storielyne wat jy nie wil misloop nie.

Meer

Neels van Jaarsveld, jong talent en lekker kos op VIA in Oktober

VIA sorg in Oktober vir lekker kykstof met Neels van Jaarsveld se troeteldierstories, kombuiskuiers saam met Aneeka Papier en kookinspirasie van Herman Lensing. Jong kunstenaars wys hul staal in Gekies vir die kollig!, terwyl Die beste in die Noorde wegbreekidees bied. Huisgenoot: Ware lewensdramas keer ook terug vir sy twintigste seisoen.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
6

‘Suidooster’ in September: Skokke, geheime en verraad vier hooggety

Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word vandeesmaand in 'Suidooster' telkens op die proef gestel. Hier is ses groot storielyne wat jy in September moet dophou.

Meer
Sien alle opsies