Menu terloops
In Silwerskermfees [11 Aug 2026]

Silwerskermfees 2026: Dié opkomende filmmakers se stories maak debuut op fees


Die kykNET Silwerskermfees bied ’n belangrike lanseerplatform vir opkomende filmmakers. Die ses projekte wat vanjaar op die fees première is ’n uiteenlopende oes met een storie wat selfs vanuit die perspektief van ’n muntstuk vertel word. Ons vertel jou meer.

Deur Redaksie
Silwerskermfees 2026: Dié opkomende filmmakers se stories maak debuut op fees

Die 14de kykNET Silwerskermfees vertoon vanjaar 22 rolprente, waaronder dokumentêre, onafhanklike kortfilms, asook kortfilms deur gevestigde én opkomende filmmakers. Ook vollengte speelfilms word bekendgestel.

Hier is als wat jy moet weet oor die ses kortfilms wat deur opkomende filmmakers geskep is en by vanjaar se fees première:

1

Verwerking bied ’n blik op geweld deur op die skryfproses te fokus

Die skryfproses en die impak van ’n dramatiese verhaal op die skrywer word ondersoek in die kortfilm Verwerking.

’n Draaiboekskrywer, Jason (Jaques De Silva), stoei met ’n toneel oor geslagsgebaseerde geweld. Terwyl hy koorsig by sy lessenaar sit en tik, begin die woorde die werklikheid om hom vervorm. Die woord “Ma” (Bianca Flanders) op die bladsy laat ’n vrou in die vertrek verskyn; die woord “Pa” (Stian Bam) ’n man om haar te slaan. Tyd en ruimte word vervleg en skielik staar die skrywer hom vas in ’n gruwelike oomblik wat al jare by hom spook.

Verwerking is Peter-John Titus, ’n musikant-liedjieskrywer, se kortprent-debuut as filmmaker.

Hy vertel dat hy met Verwerking ondersoek wou instel na die kreatiewe proses van kunstenaars, spesifiek draaiboekskrywers. “Wat gebeur in hulle koppe? Wat sien of hoor hulle as hulle stories skryf? Hoeveel van dit wat hulle skryf kom uit herinneringe?” V

olgens hom is geslagsgebaseerde geweld die storiemasjien wat die storie ontknoop, eerder as die verhaal se sentrale tema.

2

Verwikkelde verhouding tussen pa en seun in Genoeg verken

’n Pa en seun kom jare later weer voor mekaar te staan ná die verwerping van die seun weens sy seksualiteit. Die kortfilm Genoeg ondersoek ’n verwikkelde verhouding in ’n oomblik waarin die jong man teenoor sy verwese pa staan wat in die newelwêreld van Alzheimer se siekte verdwaal. 

Buiten dat sy pa (Zane Meas) hom nie herken nie, verwar hy Marc (Ayden  Croy) met sy broer wat op ’n jong ouderdom oorlede is. Marc laat sy pa begaan, staan skielik voor die veroordelende pa as die geliefde seun. Die verlede en hede smelt ineen en uiteindelik word Marc in die proses ook werklik raakgesien, op die naam genoem.  

Roberto Kyle, regisseur en medeskrywer, beskryf die film as ’n liefdesbrief aan sy pa: “Ek het my pa verloor aan kanker in my tweede jaar van universiteit, in 2013. Ek het altyd gevoel dat my pa my soort van resent het omdat ek nie die tipe seun was wat hy wou gehad het nie. Hy het dit nooit in soveel woorde vir my gesê nie, maar soms kon ek dit aanvoel.

“My pa was uiters manlik en emosioneel onversetlik – baie anders as ek. Soos ek ouer geword het, en meer besef het dat my pa in ’n ander tyd, in ander omstandighede grootgeword het, hoe meer empatie het ek gekry. Net omdat hy nie toegang tot ’n sekere taal gehad het nie – sekere maniere om homself uit te druk nie – beteken nie dat hy ’n minder van ’n pa was nie. Hierdie film verteenwoordig die sagte, veilige plek wat ek hoop ons (ek en my pa) vandag vir mekaar kon – sou – gewees het, as hy vandag nog geleef het.” 

3

R2-munt bied perspektief op klasverskille en veranderinge in SA in Change.

In die kortfilm Change. word die kyker op ’n wipwaentjierit uit die oogpunt van ’n tweerand-muntstuk geneem. Buiten dat dit ’n unieke blik op die lewens van stedelike Suid-Afrikaners bied, ondersoek dit ook die tema van die waarde van geld. 

Elke karakter beeld ’n ander sosio-ekonomiese klas uit, met elkeen se perspektief op geld. Dit wat jy in jou sak dra of nie, verklap baie meer van jou as wat jy dink… 

Frances Sholto-Douglas, skrywer-regisseur, maak met die prent die sprong van toneelspel na skrywer en filmmaker. Volgens Frances moes hulle slim met kameras werk om die uit die oogpunt van ’n R2-muntstuk te kan vertel: “Die gehoorlid moet voel hoe dit is om klein te wees en voortdurend aan die beweeg. Die gebruik van ’n makro-sondeerderlens en ’n 360-kamera was noodsaaklik om hierdie visie te realiseer. Deur vol te hou met hierdie perspektief, word die kyker as die munt ’n voyeur sonder om te oordeel. Ons vorm ’n band met die karakters waarmee ons in aanraking kom, terwyl daar ook ’n afstand gehou word.

4

Liefde gedy in Twee persent 

In die stilistiese en komiese kortprent Twee persent betree die kyker ’n soort parallelle wêreld van skoonheid en onskuld wat herinner aan ’n vroeëre tydperk – ’n liefdesverhaal wat onbeskaamd ontvlugting bied.

Michelle le Roux, skrywer, mede-regisseur en in die vroulike hoofrol van Charlotte, sê dit is ’n eenvoudige storie van twee mense wat ’n band met mekaar vorm, iets waarby almal kan aanklank vind. “Ons almal wil soms net escape, hence one of the reasons why we create.”

5

Yaadt Queen belig unieke aspekte van Kaapse Vlakte, bou brûe met musiek

Musiek as ontvlugting is ’n bekende tema onder filmmakers. Dit is ook ’n goeie werktuig om ’n grootwordstorie te vertel vir ’n jongeling om hul stem te vind. Yaadt Queen onderskei homself van die gewone deur die storie in die eiesoortige ruimte van die Kaapse Vlakte te plaas met musiek wat nie so algemeen bekend is nie, yaadt en gqom.

Keisha (Chanté Grainger) se verhouding met haar ma, Ruth (Kim Syster), is besonder stram. Al wanneer die stil, skaam tiener van haar ma se wakende oog kan wegkom, is om met die hulp van haar vriend (Alvaune-Lee Lewis) te ontsnap en as DJ haar slag te wys op die yaadt-toneel.

Uiteindelik bevry die waarheid die ma en dogter en word daar brûe gebou tussen generasies, net soos die verskillende soorte musiek bewys dat grense afgebreek kan word.

Kyle Morkel en Kirsten Jaftha, skrywer-regisseurs, meen Yaadt Queen is die soort film wat hulle graag as jongmense sou wou kyk. “Ons het grootgeword met inspirerende films oor jong mense wat hul drome najaag en hul plek in die wêreld vind. Een van ons grootste references was Honey (2003). Ons wil meer sterk jong hoofkarakters op die skerm sien wat soos ons lyk, soos ons praat en soortgelyke lewenservarings het. Films soos Step Up en Stomp the Yard het ons ook geïnspireer, maar ons wou daardie energie vertaal na ’n Suid-Afrikaanse konteks.”

6

Short Back & Sides ’n ode aan vroue… al is die hoofkarakter ’n man

’n Sosiaal ongemaklike jong man sluit hom af van die wêreld in sy chaotiese woonstel in Johannesburg, waar hy skuiling vind in ’n skynwêreld van speletjies. Maar danksy die hulp en volharding van twee vroue, word Freek (Ruan Wessels) nie toegelaat om agter sy sinisme en stil woede weg te kruip nie. Fernanda (Heléne Lombard), die haarkapper met haar eie letsels, herken iets in hom en oorrompel hom met haar ruimhartigheid. Sy leer hom wat die waarde van gemeenskap en vriendskap is.

So word hy ook aangemoedig om uit te reik na sy jare lange en beste vriendin, Mandie (Megan Vorster), waarmee hy ’n stel afgetrap het. Want “mense kort mense”. Stelselmatig kruip hy nie net uit sy dop nie, maar orden ook die chaos, waarvan die waarde van ’n goeie haarsny nie onderskat moet word nie…

Skrywer-regisseur Hennie van Deventer vertel hy het vroeg al besef dat die storie eintlik gaan oor vroue, al is die hoofkarakter ’n man. “Dit verg die vroue in sy lewe om vir Freek ’n spieël op te hou en hom te dwing om eerlik na homself te kyk. Want vroue weet hulle eie veiligheid hang dikwels af van hoe goed hulle die mans in hul lewens kan raaksien.”


Die 14de kykNET Silwerskermfees word van 19 tot 22 Augustus in Kampsbaai, Kaapstad, aangebied. Kaartjies vir die films, asook die toekenningsgeleentheid op Saterdag 22 Augustus, is beskikbaar by Quicket.

Vir die volledige program, besoek www.silwerskermfees.co.za.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

13

Wat om te kyk dié Vrouemaand: 13 reekse en rolprente waarin vroue die storie dryf

Wat om te kyk: Vir Vrouemaand het ons ’n kyklys saamgestel van reekse en rolprente waarin kragtige aktrises aan onvergeetlike vroue-karakters lewe gee.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in Augustus misloop nie

Van 'Gesels' en Michael Fassbender se 'The Agency' tot 'Ted Lasso' en 'Reacher' se vierde seisoene – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer
12

Wat om te kyk: 12 Afrikaanse reekse om nou te stroom

Van die rillerreeks ‘Donkerbos’ en 'Ontwaak' tot die bekroonde 'Koek' en 'Wyfie' – hier is ons keur van die beste Afrikaanse stories om nou op DStv Stream te kyk.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer
Sien alle opsies