Die 14de kykNET Silwerskermfees, wat van 19 tot 22 Augustus in Kampsbaai, Kaapstad, plaasvind, spog met ’n uiteenlopende aanbod wat die diepte en diversiteit van Afrikaanse rolprentkuns weerspieël.
Volgens Waldimar Pelser, direkteur: Premium-kanale, behoort dié fees aan jong filmmakers, “met baie om te wys en te sê” en staan nuwe stemme vanjaar sentraal, met dokkies en kortfilms wat wydlopende temas ondersoek in verskillende variante van Afrikaans. Die geskiedenis wat in sommige verhale ingeweef word, vorm deel van die grein van Suid-Afrikaanse stories en sal tot ’n nuwe geslag kykers spreek.
Pelser sê die Silwerskermfees is ’n geleentheid vir gehore om Suid-Afrika se stories te geniet en kykNET nooi almal uit om die films te ondersteun – hetsy by die fees of wanneer hulle hul pad na die bioskoop en ander skerms vind. “Dis hoe ons die bedryf lewendig hou en laat groei. Hierdie films gee ’n blik op die baie maniere waarop Afrikaans geleef en ervaar word – vasgevang deur die lens van die filmmakers wat dit skep.”
Altesaam 22 rolprente word vertoon, waaronder 17 kortfilms (ingesluit vyf dokumentêre kortprente) en vyf vollengte-rolprente (ingesluit een dokumentêre film). Gevestigde regisseurs en draaiboekskrywers wys hul slag, terwyl opkomende filmmakers die geleentheid kry om die wêreld van visuele storievertelling te betree. Agttien films ding mee in die kompetisie, met die pryswenners wat op Saterdag 22 Augustus aangekondig word. (Twee vollengte- en twee kortprente is nie deel van die kompetisie nie.)
Soos verlede jaar word enkele episodes van nuwe televisieprogramme ook op die fees vertoon. Dit is prestigeryke produksies wat in samewerking met internasionale vennote gemaak is.
Waar om te kyk
Die publiek kan van Maandag 22 Junie af kaartjies bespreek by Quicket, ook vir die glansryke bloutapyt-geleentheid in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum op Saterdag 22 Augustus.
Wat om te kyk
Kortfilms: Gevestigde filmmakers
Trilstraat
Regisseur: Carla Smith
Draaiboekskrywers: Igna Botha, Carla Smith
Rolverdeling: Cintaine Schutte, Ludwig Binge
Op pad na hul motor ná ’n aand van opwindende en ingrypende lewensbesluite, word ’n egpaar onkant betrap deur rowers. Hulle is fisiek ongedeerd, maar sonder motorsleutels, beursies en hul selfone moet hulle die donker strate van Observatory, Kaapstad, trotseer en hulp soek. ’n Opwindende aand uit het ietwat in ’n nagmerrie ontaard. En dit is nie net die uitdagings van die gevaarlike situasie wat eise stel nie, die twee se onderskeie reaksies daarop ontbloot iets van die wese van die man en vrou. Dit is ’n oomblik van ontnugtering en die band tussen die twee lyk skielik nie meer so sterk nie.
Wag ’n bietjie
Regisseur: Christian Grobbelaar
Draaiboekskrywer: Christian Grobbelaar
Rolverdeling: Danny Ross, Elzabé Zietsman
Lionel is ’n professionele toustaner. Hy staan of sit (as hy gelukkig is) in toue sodat jy dit nie hoef te doen nie – by binnelandse sake, die lisensiekantoor. Dit het so half toevallig begin, toe hou hy net aan. Nou is hy al ’n regular, die bekende gesig wat daagliks geduldig wag en wag. Toe ’n vreemdeling hom vra om by sy sterwende ma se siekbed te waak tot haar dood, is Lionel huiwerig om die werk te aanvaar, maar die uurlikse fooi is nie te versmaai nie. So bevind hy hom alleen in die eksentrieke vrou se huis, gevul met herinneringe. Hy begin die ledige ure vul deur te ontrafel wie sy was: ’n musikant, ’n avonturier, iemand wat werklik geleef het. Skielik word Lionel trompop gekonfronteer met ’n vraag wat hy doelbewus vermy het: Waarvoor wag hy nou eintlik?

’n Poppy op die heuwel
Regisseur: Winford Collings
Draaiboekskrywer: Winford Collings
Rolverdeling: Lauren Joseph, Marunzo Thomas
Wanneer hul geliefde ouma Poppy sterf, keer Laila en Josh terug na die Namakwalandse plaas waar sy die grootste deel van haar lewe bestee het. Laila het geen twyfel in haar gemoed nie: Poppy moet langs haar eie ouers begrawe word op die grond waar geslagte van hul familie eens gewoon het. Maar die plaas het intussen van eienaar verander en die nuwe bestuur weier dat sy by haar familie begrawe word. Laila weet daar is net een manier om vir ouma Poppy ter ruste te lê, al moet sy self die graaf opneem. Vir die familie word dit ’n daad om te besin oor wat hulle verloor het en ’n regmatige plek in die verlede op te eis wat hulle nie meer beskore is nie.
As ek kon kies
Regisseurs: Kanya Viljoen, Emilie Badenhorst
Draaiboekskrywers: Kanya Viljoen, Emilie Badenhorst, Beáta Bena
Rolverdeling: Beáta Bena, Anoecha Kruger
Gedurende ’n kerkdiens word ’n jong vrou, Kyleigh, se verlowing aan ’n jong man, Jayden, gevier. Met die openbare gebaar bevestig Kyleigh die toekoms wat sy vir haarself kies – een van geloof, gemeenskap en familie. Lara, ’n vorige partner, is ’n toeskouer by die geleentheid. Wat op die oog af ’n vrolike geleentheid moet wees, is in werklikheid vir die twee vroue die amptelike bevestiging dat hul diepgaande verhouding finaal verdoesel word. Hulle wil bitter graag na mekaar uitreik en sê wat nie gesê mag word nie, maar elkeen moet haar pyn alleen verwerk, die swye handhaaf.

Kortfilms: Opkomende filmmakers
Genoeg
Regisseur: Roberto Kyle
Draaiboekskrywer: Roberto Kyle, Gerald Steyn
Rolverdeling: Ayden Croy, Zane Meas
As tiener is Marc deur sy pa verwerp nadat die waarheid oor sy seksualiteit onthul is. Jare later staan hulle weer teenoor mekaar, die jong man en die verwese pa wat verdwaal in die newelwêreld van Alzheimer se siekte. Buiten dat sy pa hom nie herken nie, verwar hy hom met sy broer wat op ’n jong ouderdom dood is. Marc laat sy pa begaan, staan skielik voor die veroordelende pa as die geliefde seun. Die verlede en hede smelt ineen en uiteindelik word Marc in die proses ook werklik raakgesien, op die naam genoem.
Verwerking
Regisseur: Peter-John Titus
Draaiboekskrywer: Peter-John Titus
Rolverdeling: Jaques De Silva, Bianca Flanders, Stian Bam
’n Draaiboekskrywer stoei met ’n toneel oor geslagsgebaseerde geweld. Terwyl hy koorsig by sy lessenaar sit en tik, begin die woorde die werklikheid om hom vervorm. Die woord “Ma” op die bladsy laat ’n vrou in die vertrek verskyn; die woord “Pa” ’n man om haar te slaan. Tyd en ruimte word vervleg en skielik staar die skrywer hom vas in ’n gruwelike oomblik wat al jare by hom spook.
Peter-John Titus is ’n musikant, liedjieskrywer en ’n opkomende filmmaker. Verwerking is sy eerste kortprent en hy wou nie ’n veilige roete volg nie, maar kwessies takel wat gesprekke ontlok en bewusmaking bevorder. Dit daag die tipiese beskouing van GBV uit deur verskillende weergawes van geweld te belig, sowel as hoe trauma verwerk word.
Change
Regisseur: Frances Sholto-Douglas
Draaiboekskrywer: Frances Sholto-Douglas
Rolverdeling: Brendon Daniels, Laudo Liebenberg, Leighmen Marshall
Kaapstad. 2025. Die ekonomie wankel, die wêreld is aan die verander. Ruan, ’n mede- besturende direkteur van ’n groot maatskappy, besef dat hy in ’n hinderlaag gelei word deur sy maatskappy se nuwe kontantlose beleid wat uit Brittanje deur die moedermaatskappy op hulle afgedwing word. Wat is jou kleingeld werd? Dit hang af wie jy is. Change is verfilm uit die oogpunt van ’n tweerand-muntstuk, en dit bied ’n wye en unieke blik op die lewens van stedelike Suid-Afrikaners. Elke karakter beeld ’n ander sosio-ekonomiese klas uit, met elkeen se perspektief op geld. Dit wat jy in jou sak dra of nie, verklap baie meer van jou as wat jy dink…
Twee persent
Regisseurs: Michelle le Roux, Heinrich Laubscher
Draaiboekskrywer: Michelle le Roux
Rolverdeling: Michelle le Roux, Albert Pretorius
In die fiktiewe en netjiese buurt Suville voer Charlotte Grunewald ’n geroetineerde bestaan met haar kat, Constantine, aan haar sy. Alles het ’n plek. Alles maak sin. Nie eers haar laktose-intoleransie is ’n probleem nie. Totdat die nuwe melkman opdaag. Ernest van den Burg – oorywerig, ordentlik en opreg. Stadig begin hy Charlotte se roetine met onverklaarbare melkaflewerings ontwrig, ondanks haar beste pogings om hom te ignoreer. En skielik het sy te kampe met iets wat haar netjiese bestaan ietwat ontwrig: verandering. Allergieë ten spyt, ontvou ’n nuwe wêreld oor ’n gemoedelike koppie tee…

Short Back & Sides
Regisseur: Hennie van Deventer
Draaiboekskrywer: Hennie van Deventer
Rolverdeling: Ruan Wessels, Megan Vorster, Heléne Lombard
Freek is ’n sosiaal ongemaklike jong man wat hom van die wêreld afsluit. Hy skuil agter sinisme en ’n stil woede, wat hy van sy emosioneel onstabiele pa geërf het. Ná ’n groot uitval met sy beste vriendin beland hy in ’n gemoedelike, verwelkomende haarsalon – ver buite sy gemaksone – waar Fernanda, ’n lewenslustige haarkapper met haar eie letsels, iets in hom herken en hom uit sy harde dop lok. Sy begin hom uitdaag om anders na homself en die mense rondom hom te kyk. Gaan Freek Fernanda se hand vat en die angswekkende sprong uit isolasie waag?
Yaadt Queen
Regisseur: Kyle Morkel, Kirsten Jaftha
Draaiboekskrywers: Kyle Morkel, Kirsten Jaftha
Rolverdeling: Chanté Grainger, Kim Syster, Alvaune-Lee Lewis, Zenobia Kloppers
Op die Kaapse Vlakte verrys drome uit die as op elke straathoek op die maat van die musiek wat deur elke straat pomp. Keisha lei ’n dubbele lewe. Bedags is sy stil en afgesonder onder haar ma se valkoog; snags is sy ’n DJ en opkomende ster in die polsende, ondergrondse Yaadt-toneel waar haar pa eens koning gekraai het. Maar wanneer sy die waarheid oor sy dood ontdek, hou die musiek op om ’n ontvlugting te wees. Die verborge geheime kom nou na vore en Keisha en haar ma word gedwing om die waarheid in die oë te kyk. Gaan dit hulle breek of hulle bevry?
Dokumentêre kortprente
Die gees agter die spiere
Regisseur: Pierre Malan
Met: Dr. Henning Gericke, Cameron van der Burgh, Marcell Coetzee, Leon Schuster, Os du Randt
Die gees agter die spiere fokus op die werk van dr. Henning Gericke – ’n invloedryke sportsielkundige wat onder meer die Springbok-span bystaan. Hierdie intieme, inspirerende dokumentêr wys dat die mededingende wêreld van sport veel verder strek as die wedstryde of naellope. Dit werp lig op die persoonlike stories, teëspoed, uitdagings en oorwinnings van wêreldklas-sportlui, wat dien as ’n boodskap van hoop. Die gees agter die spiere is nie bloot ’n storie oor sport nie, maar oor deursettingsvermoë, empatie, doelgerigtheid en die onsigbare krag wat buitengewone lewens vorm.
Die grond onthou
Regisseur: Mia Cilliers
Met: Sonia Roman, eerw. Abigail Hopley, André Maxwell, Ann Ntebe, Barry Ellman, David Child, Jenny Wilson, John Tomlinson, Joy Francis, Kevin Maxwell, Mary Karriem, Nellie Nomdo, Samantha Roman, Sharon Visser, Victor “Boy” Josephus
Sonia Roman (77) berei haar voor om terug te keer na ’n nuwe huis in Protea Village, eens ’n florerende gemeenskap van hoofsaaklik bruin families wie se tuistes tydens een van die donkerste tydperke in Suid-Afrika se geskiedenis tot op die grond gesloop is. Sestig jaar en verskeie hofsake later, word hul grond aan hulle teruggegee. Eisers soos Sonia, Boy Josephus en Nellie Nomdo, saam met hul nageslagte, sal na een van die mees welgestelde voorstede in Kaapstad, Bishopscourt, verhuis. Vir Sonia is die nuwe Protea Village meer as net ’n behuisingskema. Dis geregtigheid vir die diep seer wat sy sedert haar kinderdae saamdra, toe haar familie uit hul welige paradys langs die Kirstenbosch Botaniese Tuin na Heideveld, ’n dorre township op die Kaapse Vlakte, verskuif is.
Rooi van aard
Regisseur: Niël Coetzee, Hancu Louw
Draaiboekskrywer: Niël Coetzee
Met: Anel Alexander, Anthea Pokroy, Maude Sandham, G.P. van Rheede van Oudtshoorn, Soné Roos
Niël Coetzee se rooi hare is sedert sy kinderdae vir hom ’n bron van verleentheid. Hy laat daarom die stil, bekende wêreld van L’Agulhas agter en pak ’n reis na Gauteng aan op soek na ander rooikoppe. Só kruis sy pad met onder andere Anel Alexander (7de Laan, Semi-soet), Anthea Pokroy (van die I Collect Gingers-fotoprojek), entrepreneurs en ’n hele gesin rooikoppe. Tussen lag en ongemak meld pynlike herinneringe aan: van kerkkamp-boelies en ’n “fotodag-sameswering” tot al die klein goedjies wat hom nog altyd pla. Sal Niël se soektog hom help om uit sy isolasie te ontsnap en die mooi in rooi te ontdek? Uiteindelik is dit ’n unieke invalshoek op die tema van die mens se behoefte om in te pas.
Pappa Kitsch
Regisseur: Adam Heyns, Stefanus Nel
Met: Stefanus Nel, Natasha Swift, Imre Lamprecht
Met ’n impulsiewe aanlyn kopie is Stefanus Nel skielik in besit van ’n skildery en ’n besonderse plakboek wat glo behoort het aan Vladimir Tretchikoff, wie se kuns vir miljoene verkoop. Maar is dit te goed om waar te wees? Wat begin as nuuskierigheid verander vinnig in ’n obsessie. Stefanus en sy angstige worshond, Rocky, gaan op ’n avontuur wat hulle lei van kunskenners en veilinghuise tot laboratoriums om wetenskaplike toetse te doen. Die speurtog wys wat onder die verf skuil, en dit neem hulle na die kunstenaar se familie en kleindogter. Die vraag is, is dit ’n oorspronklike Tretchikoff, en wat gemaak met die plakboek wat dateer uit ’n baie vroeë era van die befaamde skilder?
Druk dit!
Regisseurs: Juandrè de Jager, Lara Lourens
Met: Terence Opperman, Du Randt Opperman, Nanette Opperman, Dezeré Opperman, Niekie Fourie
Bedags sweet Terence Opperman by ’n steenkoolmyn in Witbank. Snags gee hy as “The Highlander” sy teenstanders op die armdruktafel hel. Terence ken die soet smaak van oorwinning, maar ook die skerp byt van verlies. In armdruk vind hy ’n uitlaatklep. Maar dit verg ook baie oefening en harde werk. En as hy uiteindelik die wêreldkampioen in armdruk wil word, sal hy eers met sy aartsvyand, Niekie Fourie, moet klaarspeel. Druk dit! bied ’n intieme blik op ’n bepaalde subkultuur waarvan daar nie te veel bekend is nie.

Speelfilms
Silas en die Ysbeer op Tafelberg
Regisseur: Zandré Coetzer
Draaiboekskrywer: Annie Klopper
Rolverdeling: Beer Adriaanse, Brendon Daniels, Neil Sandilands, Frieda van den Heever, Daneel van der Walt, De Klerk Oelofse
Die agtjarige Silas woon saam met sy ma en geliefde ouma aan die voet van Tafelberg, waar stories van Droomland sy verbeelding aan die lewe hou. Ná sy ouma se skielike dood weier Silas om dié verlies te aanvaar en glo hy sy het bloot in Droomland verdwaal. Hy gaan Droomland toe om haar te soek, maar dit lyk nie meer soos hy dit onthou nie en dit voel of hy net in sirkels loop. Intussen verskyn Willemien, die meisie wat langs hom woon, en ’n vreemde wese genaamd Brommel onverwags aan sy sy, terwyl ’n angswekkende ysbeer hulle deur Droomland agtervolg.
Landmyn
Regisseur: Nico Scheepers
Draaiboekskrywer: Nico Scheepers
Rolverdeling: Anna-Mart van der Merwe, Carla Smith, Ben Albertyn, Nicole Holm, Dhania Schultz
Vir die eerste keer in ’n dekade herenig Colette, Johan en Lisa vir ’n wintervakansie aan die Suid-Afrikaanse kus. Elkeen het elders ’n lewe opgebou in ’n poging om die onstabiliteit van hul kinderdae en die lang skadu van hul ma, Annatjie, te ontsnap. Die samesyn ontspoor wanneer Colette erken dat sy hul ma genooi het om by hulle aan te sluit. Annatjie arriveer soos ’n storm en trek die familie terug in ou patrone van wrewel, oorlewing en onafgehandelde geskiedenis. Soos die dae verloop, begin haar teenwoordigheid die afstand afbreek wat hulle tussen hulself en hul verlede probeer bou het. Elkeen word gedwing om uit te werk hoeveel van hul lewens steeds om haar swaartekrag ineen vou, en of daardie houvas ooit werklik verbreek kan word. Landmyn, geskryf en geregisseer deur Nico Scheepers, is ’n intieme kamerstuk oor oorgeërfde trauma, verpligting en die onmoontlike daad van opgee.
Al wat ek weet
Regisseurs: Devon Delmar, Jason Jacobs
Draaiboekskrywers: Devon Delmar, Jason Jacobs
Rolverdeling: Zenobia Kloppers, June van Merch, Waldemar Schultz, Hildegardt Whites, Elton Landrew, Abduragman Adams, Jonan Mouton, Antoinette Myburgh, Gretchen Ramsden
Ná die dood van sy ma woon die tiener Gabriel by sy antie Lotta en ouma Lenie in Springfield Terrace in Woodstock. Weens sy afsydige houding stoot hy mense weg, en in terapie onderdruk hy sy rou-proses deur eerder op wilde fantasieë te fokus. Sy lewe begin ’n nuwe rigting inslaan ná hy Sasha ontmoet. Om haar te beïndruk, besluit hy om deel te neem aan ’n nasionale digkunskompetisie, nou moet hy nog net die gedigte skryf…
Al wat ek weet is gegrond op Marita van der Vyver se gelyknamige jeugverhaal, ’n voorgeskrewe boek in skole oor die land heen. Dit is die derde speelfilm van die duo Jason Jacobs en Devon Delmar. Die ander is die bekroonde Carissa en Variasies op ’n tema, wat ook by vanjaar se Silwerskermfees vertoon word.
Variasies op ’n tema (ding nie mee in die kompetisie nie)
Regisseur: Jason Jacobs, Devon Delmar
Draaiboekskrywer: Jason Jacobs, Devon Delmar
Rolverdeling: Hettie Farmer, Gladwin van Niekerk, Magdalena Links, Regan Nontas, Sophia Cloete, Jason Jacobs, Helen Jacobs, Manfred Adams, Elton Landrew
Variasies op ’n tema is die tweede prent van die regisseursduo Jason Jacobs en Devon Delmar. Dit is geskoei op ’n ware verhaal van Jason se ouma, Ouma Hettie, van Kharkams in die Noord-Kaap. Sy is ’n tagtigjarige Namakwalandse bokwagter wat in dié uitgestrekte landskap soos talle ander bly hoop vir kompensasie, ná haar man in die Tweede Wêreldoorlog gesneuwel het.
Die veelbekroonde rolprent, wat onder meer die Tiger-prys by vanjaar se Rotterdamse Rolprentfees gewen het, is ’n ontroerende visuele portret oor die mens se volharding te midde van die smart en letsels van ’n koloniale verlede. Jason en Devon se speelfilm-debuut was die bekroonde Carissa en hul derde prent, Al wat ek weet, word ook by vanjaar se Silwerskermfees vertoon.
Dokumentêre rolprent buite die kompetisie
From Dust We Spin
Regisseur: Julia Jansch
Met: Logan Maart, Mark Linden
Die film fokus op Logan, ’n jong vroulike karspinner van die Kaapse Vlakte, en haar mentor, Mark “Bull” Linden – ’n man met ’n verlede gekenmerk deur onderonsies met die gereg. Hulle werk nou saam om jongmense weg te hou van bendes en dwelms – terwyl hulle veg om die onwettige motorsport van spinning te beoefen in ’n land waar daar nog net ’n paar goedgekeurde ruimtes daarvoor bestaan. Vir albei van hulle word spinning ’n lewenslyn.
Onafhanklike kortfilms buite die kompetisie
Aasvoëls
Regisseur: Dian Weys
Draaiboekskrywer: Dian Weys
Rolverdeling: Edwin van der Walt, Albert Pretorius, Jill Levenberg, Oscar Petersen, Ndoni Khanyile
Vir Suid-Afrikaners is dit ’n algemeen bekende term, die verwysing na insleepdienste as aasvoëls wat ná ’n motorongeluk soos blits op die toneel verskyn om beskadigde voertuie weg te sleep. In die kortprent Aasvoëls word die narratief oor die mededinging onder die insleepdienste uitgebrei. Die ongelukstoneel word ’n persoonlike slagveld, pleks dat die twee “aasvoëls” help om diegene te red wat nog moontlik te redde is.
Bosryer
Regisseur: Aadil Dhalech
Draaiboekskrywers: Sean Drummond, Aadil Dhalech, David Franciscus
Rolverdeling: Nicole Fortuin, Daniel Mpilo Richards, Sherman Pharo, Earl Hendricks
Jody, ’n vasberade jong meisie wat op ’n perdeplaas in die Klein-Karoo werk, word deur die aantreklike stalkneg Dino geleer om perd te ry. In die proses raak sy ook verlief. Dan vind sy uit Dino was ’n dwelmverslaafde is, en dat hy steeds in die skuld is by die plaaslike dwelmbaas, Saalie. As deel van sy skuld moet hy snags per perd dwelms vervoer en aflewer. Wanneer sy lewe bedreig word, word Jody betrek. Op die rug van Damascus, wat nog nooit ingebreek is nie, jaag sy om die spertyd te probeer maak…
Bestudeer ook die volledige program vir die gesprekke, werkswinkels en ’n meesterklas, op die webwerf www.silwerskermfees.co.za. Aansoeke om die meesterklas by te woon open Vrydag 19 Junie, met beperkte plekke beskikbaar vir beide die werkswinkels en die meesterklas.